Beroepsduiker sterf by Sodwanabaai

Argieffoto (Foto: tpsdave, Pixabay)

ʼn 55-jarige beroepsduiker is Sondag by Sodwanabaai aan die KwaZulu-Natalse Noordkus dood nadat hy saam met ʼn groep navorsers videomateriaal verfilm het vir ʼn dokumentêr wat bedoel is om natuurbewaring aan te moedig en die publiek daaroor in te lig.

Die duiker is geïdentifiseer as Mitsuyoshi Tanaka, ʼn voormalige duikinstrukteur met sowat 25 jaar ervaring en een van die senior duikers op dié maandlange projek van die International Association of Nitrox and Technical Divers en die Suid-Afrikaans gebaseerde maatskappy Triton Dive Lodge.

Triton Dive Lodge het in ʼn verklaring gesê alle veiligheidsvoorsorgmaatreëls is getref voordat Tanaka Sondag by ander duikers sowat 70 m onder die oppervlak aangesluit het.

Met geen tekens van enige gevaar nie het die groep duikers, insluitend Tanaka, glo ná ʼn wyle weer na die oppervlak begin kom. Tanaka was toe egter bewusteloos.

Lede van die groep het onmiddellik kardiopulmonêre resussitasie op hom toegepas, en is hy dadelik na die strand geneem waar nooddienste hom na die Mseleni-hospitaal gehaas het.

Tanaka is egter by sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Die presiese oorsaak van sy dood is nie in dié stadium bekend nie en ʼn ondersoek duur voort.

Albei organisasies wat aan die projek gewerk het, het intussen hul medelye aan sy familie oorgedra.

Die dokumentêr waarmee die organisasies besig is fokus spesifiek op die beskerming van selakante en seeskilpaaie. Video’s in Engels in isiZulu oor dié dokumentêr is ook in die vervaardigingsproses om jong kinders op te voed en in te lig oor dié aspek van natuurbewaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E.K. - ek sê net! ·

Mag verkeerde suusrtofmengsel wees. Of dat hy nie betyds oorgeskakel het nie. Hulle het baie diep geduik en mens moet sekere mengsels gebruik in jou suurstoftenk. Daar is ‘n diepte waar mens, as mens opkom/afgaan moet oorskakel na ‘n ander mengsel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.