Beroepsiektes: Polisielede wag jare vir vergoeding

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Oudpolisiebeamptes wat uit die polisiediens ontslaan is weens beroepsiekte of beroepsbeserings meen dit is makliker om bloed uit ’n klip te tap as om vergoeding van die vergoedingskommissaris te eis.

Kenners meen dit is ʼn lang en uitmergelende proses om vergoeding van die vergoedingskommissaris te eis en sommige eisers wend hulle selfs tot die hof.

Roebel Botha was ʼn 33-jarige kaptein in die polisiediens toe hy in 1998 uit die polisiediens ontslaan is nadat hy die vorige jaar in ʼn motorongeluk aan diens beseer is. Hy was destyds verbonde aan die polisie in Newcastle in KwaZulu-Natal toe dié voorval plaasgevind het. Hy spook sedertdien om finansieel kop bo water te hou.

Charmaine Botha, Roebel se vrou, vertel aan Maroela Media dat Roebel weens dié ongeluk 60-80% van sy liggaamsgebruik verloor het en half verlam aan die linkerkant van sy liggaam gelaat is.

Volgens Roebel het hy tot op hede nie ʼn sent van die vergoedingkommissaris ontvang nie en is aangewese op ʼn staatspensioen van R6 400 per maand. Dié pensioen is eenderde van die basiese salaris wat hy ten tyde van die ongeluk verdien het. Die hooggeregshof in Pretoria het wel in Oktober vanjaar bevind dat Roebel deur die vergoedingskommissaris vergoed moet word.

Volgens Charmaine het die vergoedingskommissaris egter besluit om dié beslissing te appelleer. “Intussen moet Roebel sy eie regskostes dra,” sê Charmaine.

Charmaine weet ook van talle ander oudpolisiebeamptes wat nes Roebel jare lank wag vir vergoeding. In sekere gevalle wag oudpolisiebeamptes reeds 28 jaar om vergoed te word.

Charmaine het aan Maroela Media ’n lys van altesaam 68 polisiebeamptes se name verskaf wat steeds wag op vergoeding. Dié polisiebeamptes behoort aan die groep genaamd Fokusgroep wat Charmaine die afgelope drie jaar reeds lei.

Roebel Botha (Foto: Verskaf)

Een van dié oudpolisielede was ʼn kolonel in die polisie toe hy in 2008 op die ouderdom van 49 jaar  uit die polisiemag ontslaan is. Dít nadat hy ʼn rugbesering gedurende ʼn motorongeluk aan diens opgedoen het. Hy het toe reeds 32 jaar in die polisie gedien.

Hoewel dié oudpolisieman sy maandelikse pensioen ontvang, val sy pleidooie om vergoeding van die kommissaris die afgelope 12 jaar op dowe ore.

Dié oudpolisieman, wat verkies om anoniem met Maroela Media te praat, vertel dat hy al telkemale vergeefs probeer het om die vergoedingskommissaris se kantore te nader. “Hulle antwoord nie ʼn telefoon nie. Ek het al dokumentasie gestuur, maar daar is geen erkenning van ontvangs nie. Daar is nie terugvoer nie. Daar is nie opvolg nie. Daar is niks. Hulle het geen saak met ons nie.”

Hy vertel dat die lede wat aan die Fokusgroep behoort ook maar ʼn druppel in die emmer is. “Dis maar net dié van wie ons weet. Die probleem is baie groter. Ek weet van baie polisiemanne wat dood is en hul eggenote of familie weet nie eens dat hulle geregtig is op daardie geld nie.”

Charmaine weet ook van polisielede wat al dood is sonder om vergoeding te ontvang.

Dit is egter nie net lede van die polisie wat dié probleem ervaar nie. Allen Nortje (60) voer dieselfde stryd. Nortje is verlede jaar in ʼn motorongeluk beseer terwyl hy aan diens was. Hy is ʼn veiligheidsbeampte in beheer van risikobestuur van ʼn maatskappy in Pretoria.

“Ek het in Maart vanjaar ʼn nekoperasie ondergaan en is nog steeds op krukke. Die fonds het my tot dusver slegs vir drie van die tien maande vergoed wat ek nie kon werk nie. Ek is afhanklik van daardie salaris. Op die oomblik kan ek nie eens my begrafnispolis bekostig nie,” sê Nortje.

Hy sê die fonds het hom ʼn paar weke gelede ingelig dat hulle ʼn nuwe stelsel ingestel het en dat hy van voor af sou moes registreer. “Toe ek verlede week die vorms by hul kantore in Johannesburg wou inhandig, sê hulle vir my die stelsel is van lyn af. Ek moet in Februarie terugkom.” Hy sê sy seun, wat aan diens beseer is in Durban, kry ook nie tans sy geld by die fonds nie. “Dit beteken mense landwyd kry tans nie geld by die fonds nie!”

Lang proses

Dr. Johan Böning, senior spesialis-regspraktisyn by Solidariteit se beroepsgesondheid-en-veiligheidsafdeling, verduidelik dat die proses vir dienende polisiebeamptes om vergoeding vir ʼn beroepsiekte of beroepsproses te eis deur die polisie hanteer word. Lede wie se dienste reeds beëindig is, moet direk met die vergoedingskommissaris skakel, maar mag deur ʼn prokureur, advokaat of geregistreerde vakbond bygestaan word.

“Die besering of beroepsiekte word eers aangemeld by die betrokke beampte se bevelvoerder, waarna dit na die provinsiale kantoor en dan na hoofkantoor gestuur word. Die polisie begin dan ʼn interne proses om te bepaal of die besering of siekte wel as gevolg van diens opgedoen is,” verduidelik Böning. Die polisie as werkgewer moet sodanige beroepsiekte of beroepsbesering by die vergoedingskommissaris aanmeld. Die finale besluit of die eis aanvaar word al dan nie, berus egter by die vergoedingskommissaris.

Renate Barnard (Foto: Reint Dykema) 

Volgens Renate Barnard, sektorkoördineerder van Solidariteit se openbare sektor, moet ʼn polisiebeampte se besering of geestestoestand eers as ʼn beroepsiekte of beroepsbesering erken word voordat die beampte enigsins in aanmerking vir vergoeding kan kom.

Sy vertel dat geestestoestande soos depressie en angsversteurings nié as beroepsiektes erken word nie. Post-traumatiese stresversteuring (PTSV) word wel erken indien dit aan die kriteria vir PTSV voldoen en as gevolg van diens opgedoen is.

“Dit is belangrik dat jy deur ʼn psigiater gediagnoseer word. Jou toestand moet as PTSV gediagnoseer word. Dit moet natuurlik ook gestaaf kan word deur bewyse dat jy aan ernstige trauma soos lewensgevaarlike omstandighede blootgestel is. Die traumatiese voorval moes ook aan diens gebeur het.”

Indien die vergoedingskommissaris wel jou eis aanvaar, moet hulle bepaal of jy permanente ongeskiktheid opgedoen het en wat die persentasie ongeskiktheid is. Vergoeding word volgens die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, wet 130 van 1993, bepaal.

Böning verduidelik dat indien polisiebeamptes ʼn beroepsbesering of beroepsiekte opdoen, die polisie sy toestand laat evalueer. Dit hang van die erns van die persoon se ongeskiktheid af of sy huidige pos bloot aangepas word en of die beampte na ʼn ander pos oorgeplaas of op mediese gronde uit die polisiediens ontslaan word. Dit is ʼn interne proses by die polisiediens.

“Dit hang ook af of jy in staat is om jou werk voort te sit. Die polisie kan jou pligte aanpas of jou in ʼn alternatiewe pos plaas.”

Böning verduidelik indien dit gebeur dat ʼn polisiebeampte se pligte aangepas word of indien hy/sy in ʼn alternatiewe pos geplaas word, so ʼn polisiebeampte steeds dieselfde salaris sal verdien as voor die besering.

Böning en Barnard erken dat die vergoedingskommissaris nie optimaal funksioneer nie. “Die vergoedingskommissaris se diens is oor die algemeen baie swak en die klagtes dat telefone nie beantwoord word nie, daar nie op skrywes gereageer word nie en dat hulle tans weereens ʼn nuwe stelsel in werking stel, is oorwegend waar,” sê Böning.

“Dit is ook betreurenswaardig dat die nuwe stelsel lank neem om ingestel te word sonder dat daar ʼn plan gereed is om steeds nuwe eise te hanteer en veral ook tydelike ongeskiktheid te betaal. Die vergoedingskommissaris het reeds ʼn baie groot agterstand met die hantering van eise en hierdie agterstand gaan nou geweldig toeneem.”

Volgens Böning is daar wel ruimte om te appelleer indien die vergoedingskommissaris ʼn eis afkeur. “Die groot probleem is egter dat dit dikwels jare neem voordat die vergoedingskommissaris ʼn beslissing maak.”

  • Solidariteit Beroepsgesondheid en Veiligheid hanteer meer as 1 000 eise by die vergoedingskommissaris (eise by Rand Mutual en Fema ingesluit) namens Solidariteitlede (terme en voorwaardes geld).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Berdene Cilliers

My man Hermanus Johannes Cilliers het sedert 1982 eise by die Vergoedings Kommissaris wat onbetaald is. Snaaks dat Solidariteit om publisieteits redes nou kamtig betrokke raak. Toe my man hul genader het vir raad en daad was hy summier weg gewys. Solidariteit kry eers jou prioriteite reg.

pieter

Ek weet van mens wat n paar jaar gelede letterluk niks makeer en voorgedken het dat hul depressie het en word nou elke maand betaal omdat hul dit oo een of ander manier reggemrt het om gevord te word. Daar is ander polisielede wat regtig siek is en niks regkry nie.

Elizabeth

Ek is in 1999 ontslaan uit SAPD met PTSD. Medies van diens. 20 Jaar later, sukkel ek nogsteeds. Die medikasie wat ek moet gebruik, word nie deur Polmed betaal nie, want “niks waaraan jy verslaaf kan raak, mag op chronies of akuut geplaas word nie”. My medikasie is R600.00 per maand, wat ons elke maand moet uitkrap. Ek het my hart en siel vir die polisie en die mense van die land gegee en die dag toe ek hulle nodig het, was ek maar net ‘n nommer. Dit is nie maklik om goed te vergeet wat 30 jaar terug plaasgevind… Lees meer »

kobie

Dit is net so lank as wat ons moet wag vir hulp nadat die polisie ontbied word na n misdaad toneel en die stasie is seker 2km van ons af.

JohanR

En ons wonderlike ministers kan vandag nog by ‘n Mercedes-Benz handelaar in loop en die R700000 rooi nommertjie uit kies. As hulle mooi praat met die handelaar vir lekker afslag, kan hulle miskien die R800000 nommertjie kry!