Beroepsjagter doodgeskiet: Vrou se verhoor lank uitgestel

Chrisna van der Merwe tydens ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Chrisna van der Merwe, wat aangekla word van die moord op haar man, se verhoor is tot later aanstaande jaar uitgestel.

Die verhoor sou Maandag in die hooggeregshof in Polokwane begin het, maar is om verskeie redes uitgestel. Dr. Llewellyn Curlewis, haar regsverteenwoordiger, het bevestig dat die verhoor nou van 31 Augustus tot 3 September 2021 sal plaasvind.

Chrisna is in Oktober verlede jaar in kennis gestel dat sy aangekla word in verband met haar man se dood in Desember 2018. Botes (46) is dood ná ’n skietery in die egpaar se huis in Modimolle. Hy was ’n beroepsjagter en die eienaar van Botes Hunting Safaris.

Chrisna, wat sedert haar man se dood in Pretoria woon, staan ook tereg op aanklag van diefstal. Die staat voer aan sy het kort ná die moord op haar man R141 000 uit sy bankrekening na haar bankrekening oorbetaal.

Chrisna is vroeër op waarskuwing vrygelaat. Sy mag nie kontak maak met die staat se 29 getuies nie.

Chrisna en Botes van der Merwe. Foto: Facebook

Maroela Media het vroeër berig inwoners van die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle het die polisie op 11 Desember 2018 omstreeks 22:00 ontbied nadat hulle skote by Guineafowlstraat 39 hoor klap het.

Botes en Chrisna is in die hoofslaapkamer aangetref. Botes is op die toneel dood verklaar, terwyl Chrisna met ’n skietwond aan haar maag na die St. Vincent-hospitaal op die nabygeleë Bela-Bela gehaas is. Sy is van daar af per helikopter na ’n Pretoriase hospitaal geneem. Botes is drie keer in sy bors en maag geskiet.

Die staat voer aan Chrisna het Botes geskiet waarna sy die vuurwapen op haarself gerig het. Twee vuurwapens is destyds op die toneel gevind. Die polisie het aanvanklik ’n geregtelike doodsondersoek gedoen voordat dit na ’n moordsaak verander is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Faruk ·

Sy lyk nie na die tipe mens wat ‘n ander sommer so goedsmoeds sou wou doodskiet nie. Daar moet ‘n baie goeie rede daarvoor gewees het.

Dries ·

Hier kom ‘n nog ‘n Huisgenootstorie. Vuilwasgoed gaan Augustus 2021 uitgehaal en opgehang word. Jammer vir al die familie en vriende wat weer deur al die hartseer moet gaan.

Mariaan ·

Eintlik sulke 2 mooi mense…en soveel 9m voor dankbaar te wees…nou bly net verdriet oor…mens wonder…was dit geld? Was dit n 3de persoon…ai…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.