Berugte kruising eis man wat sou pa word

Liza-Mari van Heerden en Tiaan Schoeman (Foto: Verskaf)

Die familie van Tiaan Schoeman steier steeds ná sy dood Saterdag in ʼn ’n grusame motorongeluk by die Slagboom-kruising op die N11 naby Marble Hall in Limpopo. Die kruising staan bekend as die “kruising van die dood”.

Die 37-jarige Schoeman is die soveelste slagoffer van die berugte oorgang. Inwoners van die gebied het oor die jare al talle briewe aan die betrokke owerhede gerig om dit beter te beveilig.

Schoeman se vriendin, Liza-Mari van Heerden (22), is 22 weke swanger met die paartjie se eersteling en het minder ernstige beserings in die ongeluk opgedoen. Hul ongebore baba is ongedeerd.

Schoeman se ma, Sanette, sê hy het op die dorp gholf gespeel en omstreeks 20:45 van die gholfbaan na hul familieplaas in sy Toyota-bakkie gery. By die oorgang het die bestuurder van ’n Toyota-motor glo nie stilgehou nie en Schoeman se bakkie aan die passasierskant getref.

ʼn Vriend van Tiaan wat agter hom gery het, het die ongeluk sien gebeur.

“Die vriend het vertel dat hy gesien het hoe die bakkie gerol op die sykant in die veld beland het,” vertel Sanette.

“Die vriend sê toe hy by die bakkie kom, was Tiaan nie meer in die bakkie nie. Hy het na hom geroep en Tiaan het geantwoord. Hy het vir Tiaan sowat 30 meter ver van die bakkie af gekry. Hy is deur die venster uit die bakkie geslinger.

“Hy het sy vriend eers gevra hoe dit met Liza-Mari gaan. Hy het gesê sy is fine. Sy vriend het hom gevra hoe hy voel, waarna hy gesê het ‘ek is shanana’. Hy het kort daarna sy bewussyn verloor.”

Life24-ambulansdiens was op die toneel. Mercia Gouws MacKenzie, mede-eienaar van dié nooddiens en ’n vriend van Schoeman, het hom probeer bybring, maar dit was vergeefs. Hy is op die toneel dood.

“Ek het by Tiaan se liggaam gesit tot hulle hom weggeneem het.”

Volgens die nadoodse ondersoek is Schoeman weens inwendige bloeding dood. Hy het ook albei sy enkels gebreek.

Liza-Mari is in die bakkie se kajuit aangetref. Die bakkie se voorruit is uitgeslaan om haar uit te kry. Sy is na ’n hospitaal in Groblersdal gejaag, waarna sy na die Midmed-hospitaal in Middelburg oorgeplaas is. Sy is reeds Woensdag ontslaan.

“Sy het skrape en snye en ook haar kakebeen ernstig beseer. Sy het ook haar kop gestamp en het heelmoontlik harsingskudding opgedoen. Genadiglik het sy geen frakture opgedoen nie en die baba is ongedeerd.”

Die bakkie het gerol en op sy sy beland (Foto: Verskaf)

Sanette vertel die paartjie wou die baba Gerdus noem, afgelei van Schoeman se pa se naam, Gerhardus.

“Dis hartseer om te dink dat my kleinkind nou sonder ’n pappa moet grootword. Hy was so opgewonde om pa te word.”

Sanette sê tussen die trane en hartseer, ervaar sy ook heelwat woede teenoor die bestuurder van die ander motor wat haar kind te vroeg van hulle weggeneem het.

“Hierdie was vir ons ’n groot terugslag en ek voel bitter, want ’n ouer is nie veronderstel om ’n kind te begrawe nie. Dalk wou die Here vir Tiaan al kom haal het.”

Sy vertel hulle het nog nie daaraan gedink om die saak verder te voer nie.

“Vir nou wil ons net eers ons kind begrawe.”

’n Gedenkdiens word Saterdag om 10:00 op hul familieplaas, Cyferfontein, vir Schoeman gehou.

“Tiaan het altyd vir my gesê: ‘Ma, as ek doodgaan, moet julle vir my ’n groot partytjie hou. En julle bedien nie vir die mense broodjies en gevulde eiers nie.’ En dis presies wat ons gaan doen. Ons gaan sy lewe vier.”

Sanette vertel Schoeman was baie gewild en het talle vriende gehad. Hulle kom van oral om met die reëlings vir die gedenkdiens te help en boodskappe van heinde en ver is ’n bevestiging daarvan dat Tiaan uiters geliefd was.

Die Beroepsjagtersvereniging van Suid-Afrika het in ’n verklaring op Facebook sy medelye met Schoeman se familie betuig.

“In sy 37 jaar op aarde het hy eintlik reeds 100 jaar se herinneringe opgebou omdat hy elke dag so voluit geleef het. Net soos hy die ‘life of the party’ was, het hy ook ’n ongelooflike diep en mooi kant aan hom gehad. Hy het nooit iets leliks oor iemand te sê gehad nie.”

Jag was Schoeman se passie. Hy was ook baie lief vir gholf en was volgens Sanette ’n “kookwater-rolbalspeler”. Hy het ook op skool in rugby en swem uitgeblink.

Sanette het Donderdagmiddag blomme op die ongelukstoneel gaan neersit. Daar was toe reeds ’n bos blomme en oranje en swart lint aan ’n nabygeleë draad vasgemaak. “Hy was ’n groot Cheetah-ondersteuner.”

Die kruising van die dood

Maroela Media het in 2019 berig van ’n pa, Pieter Rossouw (48) en sy seuns, Jannie (13) en JP (10), van Steelpoort wat by dieselfde kruising in ’n gru-ongeluk betrokke was. Pa en seuns was op pad huis toe, toe die bestuurder van ʼn Nissan Navara ʼn stopstraat verontagsaam en teen hulle Datsun-motor gebots het.

Die Rossouws se bakkie het in ʼn kanaal langs die pad beland waarna die brandstoftenk ontplof het. Met reddingswerkers se aankoms op die toneel was die voertuig in vlamme gehul en daar kon nie naby die insittendes gekom word nie. Al drie het onherkenbaar verbrand.

Mercia van Life24-ambulansdiens sê die probleem met die kruising kom nou al vir die afgelope 40 jaar. “My ouers het 40 jaar terug ’n ambulansdiens gehad en toe al op aaklige ongelukke daar afgekom,” vertel sy.

Sy sê net voor die Covid-19-pandemie het daar minstens twee groot ongelukke per week by daardie kruising plaasgevind.

“Die grootste probleem is dat mense nie by die stopstraat stilhou nie.

“Verder is daar aan die regterkant van die kruising ’n klomp groentestalletjies wat dit vir motoriste moeilik maak om die aankomende verkeer se ligte te sien. ’n Mens sukkel dus om te sien as daar motors aankom.”

Mercia sê aan die linkerkant van die kruising, is daar wel genoeg borde wat motoriste waarsku om stadiger te ry en waaksaam te wees.

Sy sê die ongelukke by die kruising is ook gewoonlik kritiek van aard en hulle kry gereeld te doen met motors wat teen vragmotors vasry.

“Talle vragmotors gebruik die N11 om na Zambië te reis.”

Die gemeenskap wil al self inspring om iets te doen om die kruising te beveilig, maar moet eers toestemming van die nasionale padagentskap (Sanral) kry. Hulle het oor die jare al talle briewe aan Sanral, die verkeersdepartement en ander owerhede geskryf om in te gryp. Daar is tot dusver egter nog niks gedoen nie.

“Die oplossing sou wees om die kruising ’n vierrigtingstop te maak en die stalletjies te verwyder. Daar kan ook nog waarskuwingstekens opgesit word.”

Boere in die omgewing het ook al ingestem om ligte wat flikker by die kruising op hul eie onkoste op te sit, maar daar kan niks gedoen word sonder Sanral se goedkeuring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Misky ·

Dit is ongelooflik hartseer en sterkte aan die familie.

En dan sou ek net voortgaan met die opsit van ligte wat flikker ens, want as julle wag vir Sanral, gaan dit nooit gebeur nie.

Daniel ·

Tragies, die groentestalletjies wat die uitsig versper is seker onwettig?
Word die motoriste wat versuim het om stil te hou by die stopstraat ooit vervolg?

Yolandie ·

So jammer vir julle verlies. Mag die kleinkind wat oppad is die seer wat julle ervaar minder maak en groot vreugde bring! Sterkte!!!

Samuel ·

Dit is baie hartseer. Ons hoop SANRAL sal vinnig optree om die kruising te beveilig.

Pieter ·

Kan iemand ‘n kaart plaas/beskrywing gee waar hierdie kruising is. Ry by tye dele van daardie pad. Goed om te weet waar hierdie kruising is.

Andries ·

Maar laat daar ‘n broeder sterf, dan sal die regering spring.

Cornelia ·

Ons innige simpatie, baie sterkte vir al die familie en vriende, ons hou jul in ons gebede. Dit is baie hartseer.

KhoiKhoi ·

‘n Verlies van ‘n jong lewe.
Innige meegevoel aan die familie, verloofde en vriende.
Die feit dat hy ver van die voertuig gevind was, dui aan dathy heelwaarskynlik sonder ‘”n veiligheidsgordel bestuur het.
Asseblief!
Veiligheidsgordels kan ‘n verskil maak.
Ek praat van persoonlike ondervinding.

Nico ·

My innige meegevoel met die familie. Die nuwe akkroniem vir ‘n stopteken is “S=sit, T=toon, O=op, P= petrol”. Sit ‘n verkeerslig daar, jaag die stalletjies daar weg.

Piet ·

Le ‘n klag van moord/mansslag teen die verantwoordelike munisipale/regerings amptenaar wat, na al die jare en versoeke nog steeds net sit en belangrik lyk, en nie sy/hulle werk doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.