Berugte misdadigers wat vroue op plaas oorval, swaar gestraf 

Die foto is tydens die verdagtes se inhegtenisneming geneem en deur die polsie verskaf.

Twee mans is tot onderskeidelik 24 en 19 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle in Januarie vanjaar twee vroue op ʼn plaas in die Alexandria-gebied in die Oos-Kaap oorval het.

Lumnkile Manene (51) en Zukile Vena (37) is albei berugte misdadigers, het kapt. Mali Govender, woordvoerder van die polisie, gesê.

Manene het reeds twee vorige veroordelings, roof en ontsnap uit aanhouding, gehad en was ten tyde van die aanval op parool. Hy is ʼn maand voor die aanval vrygelaat. Vena het vyf vorige veroordelings, drie vir huisbraak, diefstal en roof, ten tyde van die aanval gehad.

Die twee vroue, albei in hul 70’s, is in die vroeë oggendure van 29 Januarie oorval deur drie mans wat met messe gewapen was. Een van die vroue het net drie weke vantevore haar man verloor en ʼn vriendin het by haar oorgeslaap.

Die honde se geblaf het die vroue wakker gemaak en hulle het in die sitkamer in die mans vasgeloop. Die vroue se hande is met kabelbinders en hulle bene met kleefband aan stoele vasgebind. Die aanvallers het hierna die huis begin plunder en het sowat twee uur later met kontant, huishoudelike goedere en ʼn vuurwapen in een van die vroue se bakkie gevlug. Albei slagoffers was erg getraumatiseer en het skaafwonde en kneusplekke opgedoen.

Een van die vroue kon daarin slaag om haarself te bevry en het hulp ontbied. Lede van die Port Elizabeth-blitspatrollie het die voertuig op die R335 naby Motherwell opgemerk en ʼn jaagtog het gevolg.

Die polisie het een van die mans, Mpathi Advocate Nkomonde, doodgeskiet nadat ʼn skietgeveg uitgebreek het. Nkomonde was uit op borgtog in verband met ʼn rooftog op ʼn plaas in Somerset-Oos. Die ander twee mans is in hegtenis geneem en daar is op die gesteelde goedere beslag gelê.

Manene en Vena was tydens die verloop van hul verhoor in die hooggeregshof in Grahamstad in aanhouding. Regter Gerald Bloem het albei mans vroeër vandeesmaand skuldig bevind aan huisbraak met die bedoeling om te roof en roof met verswarende omstandighede.

Manene is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis op die tweede aanklag en vier jaar op die eerste aanklag. Vena is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op die tweede aanklag en vier jaar op die tweede aanklag.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het die vonnisse verwelkom.

“Geslaagde skuldigbevindings en vonnisse is gegrond op verskeie pilare, waaronder die doeltreffende bestuur van ʼn misdaadtoneel, noukeurige verklarings, eerlike getuienis van getuies en ʼn deeglike verhouding tussen die ondersoekbeampte en die Nasionale Vervolgingsgesag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Diertjie ·

Hoekom was hulle in die eerste plek uit op parool??!!! Net om weer te gaan moor en roof!!!

Kobus ·

Diertjie, hierdie gewelds misdadigers is op straat omdat n kommunistiese regime wie se beleid dit is en die wette maak, ingestem is deur die land se mense.

JohanR ·

Die tronke in SA is soos die hospitale Diertjie. Jy moet iemand drie ure na ‘n hart oorplanting uit hulle bed uitskop, om plek te maak vir die volgende patient, of gevangene. Onder die nuwe NGV stelsel sal jy moet opstaan en die hospitaal verlaat terwyl jou hart oorplanting nog aan die gang is. Hoe lag ek nou vir myself……

Frank ·

Mooi vonnisse….. sodat hulle oor twee jaar weer op parool kan gaan?

m ·

Kan hulle nie met vonisse van “geen parool “ in SA begin, as iemand homself skuldig maak aan dieselfde misdrywe waarvoor hy o parool is nie?

Spook op thaba ·

Kan iemand met regskennis net vir my vir interessantheid se of in so n geval daar n eis ingestel kan word

Lalie ·

Sit hulle op robin eiland. Geen toegang en moet vir jouself sorg uit die see uit. Die tronke is oorvol.

Rubber ·

Toe ek lees “swaar gestraf” dog ek dis lewenslank klippe kap. Maar nee, ‘n belaglike ligte straf vir geharde misdadigers. Wie bluf hulle?

Martie ·

Watse swaar straf is 20 en 19 jaar dit is belaglik hulle was uit op parool en pleeg weer dieselfde daad hulle moet vir lewenslank gevonnis word sonder parool tyd dat iets gedoen word die wette van die land moet herskryf word want misdadigers het teveel regte

Gemaskerde Sopbeen ·

Shame man….hierdie straf kon ligter gewees het, maar toe skiet die polisie hulle “advocate” dood? Nee, regtig….gaan lees maar self!!

Anita ·

Enige aansoek vir parool moet deur die familie teen gestaan word soos ook met Janus? teen gestaan word , laat ook vir hierdie persone dieselfde wet geld

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.