Berugte ‘onderwêreldbaas’ in hof

Argieffoto van Nafiz Modack (Foto: Noor Slamdien/African News Agency/ANA)

ʼn Vermeende sleutelfiguur in die Kaapse onderwêreld, Nafiz Modack, het Maandagoggend vir die eerste keer in die hof verskyn op verskeie aanklagte waaronder ontvoering, onwettige nasporing en poging tot moord. Genl. Bheki Cele, minister van polisie, was daar om Modack se eerste hofverskyning te aanskou.

Modack het saam met sy medebeskuldigdes, Ricardo Morgan en Jacques Cronje, in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklag van intimidasie, ontvoering, afpersing, geldwassery en oortreding van die Wet op Kommunikasie.

Modack en Morgan word ook afsonderlik aangekla van poging tot moord wat verband hou met die mislukte huurmoordpoging op die Kaapse prokureur William Booth. Hulle word aangekla van sameswering om moord te pleeg, poging tot moord en onwettige nasporing, sê Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap.

Modack word ook afsonderlik aangekla van poging tot moord, roekelose bestuur en verset teen inhegtenisneming. Dié aanklagte spruit uit ʼn hoëspoedjaagtog in Kaapstad waartydens hy Donderdag in hegtenis geneem is.

Ntabazalila sê al drie sake is tot Vrydag uitgestel. Die staat het wat die eerste vyf aanklagte betref, die hof meegedeel dat daar waarskynlik nog aanklagte en beskuldigdes tot die klagstaat gevoeg sal word.

“Ek wil byvoeg en beklemtoon dat die beskuldigde wat vandag verskyn het, deur geen aanklag van moord in die gesig gestaar word nie,” sê Ntabazalila.

Cele het Modack, Morgan en Cronje se inhegtenisnemings verwelkom en gesê die moontlikheid bestaan dat hulle aan ander ernstige en gewelddadige misdade verbind kan word, namate die polisie se ondersoeke na die aktiwiteite van die kriminele onderwêreld voortduur.

“Hierdie inhegtenisnemings is slegs die begin van die polisie se pogings om georganiseerde misdaad in die provinsie te bekamp.”

Volgens Cele is die polisie opgewasse vir die taak om die Kaapse onderwêreld in hul spore te stuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Ja cele en jy bly n nar die ANC is die grootste sirkus wat daar is.

Anton ·

Lol, Cele was weer lus vir ‘n gatsby toe kom hy Kaap toe ????

jzjz05 ·

Cele wil net so n bietjie “show” vang net soos hy in Senekal gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.