Berugte polisiemoordenaar doodgeskiet

Argieffoto. (Foto: SAPD, Facebook)

ʼn Verdagte wat vir verskeie moorde en ʼn poging tot moord gesoek is, is Saterdag doodgeskiet ná ʼn skietgeveg met polisiebeamptes in KwaZulu-Natal.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, sê lede van die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad het tydens die ondersoek na die moord op ene kapt. Thulani Louis Muthunyana Molefe, wat op 14 Desember in die vroeë oggendure in sy voertuig doodgeskiet is op pad werk toe, ʼn verdagte in KwaNyuswa in Botha Hill opgespoor.

Die polisiebeamptes kon met behulp van die nasionale intervensie-eenheid en honde-eenheid in Pietermaritzburg die verdagte se kamer binnedring. Die verdagte het losgebrand op die beamptes, waarna hy noodlottig gewond is.

ʼn Swart 9 mm-Beretta-pistool en magasyne is op die toneel gevind.

Voorlopige ondersoeke het intussen vasgestel dat die oorlede verdagte ook gesoek is vir ʼn poging tot moord en ses moordsake, waaronder die moord op sers. Zulu wat doodgeskiet is terwyl hy op 22 Mei in sy privaat voertuig met sy vrou voor sy hek gewag het.

Verdere inligting wat ontvang word, beweer dat die oorlede verdagte ʼn huurmoordenaar was wat ook taxi- en politieke sluipmoorde uitgevoer het.

Die ondersoek na sy betrokkenheid by ander misdade duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.