Berugte R30 in Vrystaat gesluit

(Foto: SAPD)

Die Vrystaatse departement van polisie, paaie en verkeer het Dinsdag die R30 tussen Allanridge en Welkom met onmiddellike effek vir motoriste gesluit. Alternatiewe roetes word vir die publiek aanbeveel.

Dié berugte “pad van die dood” wat ’n verlegging oor ’n waterpan is, het sedert die begin van die jaar reeds die lewe van minstens 15 mense geëis. Die pad verspoel ook gereeld tydens die reënseisoen.

In die mees onlangse ongeluk het ʼn gesin van vier se motor Maandag in die waterpan beland nadat die bestuurder glo beheer oor die voertuig verloor het. Die gesin het almal verdrink.

William Bulwane, LUR van die departement, het benadruk dat padgebruikers ekstra waaksaam moet wees wanneer hulle snags bestuur en hul spoed moet aanpas by die omstandighede op die paaie waarop hulle ry.

Die departement vra dat motoriste wat tussen Allanridge en Bothaville ry, van alternatiewe roetes, die S1075 en die R719 gebruik maak. Tussen Welkom en Kroonstad kan die publiek die R34 as alternatiewe roete gebruik. Voertuie wat na Orkney reis, moet van die R76 via Viljoenskroon gebruik maak.

“Bykomende maatreëls word ingestel om die alternatiewe roetes te beveilig en ekstra padverkeerstekens sal op die R30 aangebring word om te verseker dat motoriste bewus is van die situasie,” het Bulwane gesê.

“Ter wille van almal se veiligheid pleit die departement by die publiek om in hierdie verband saam te werk en nie padtekens te verwyder en onwettig van die R30-pad gebruik te maak nie.”

Die departement sal die publiek in kennis stel wanneer die R30 weer vir verkeer heropen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gert ·

Ek kan verstaan dat die owerheid die spoed wil afbring na 80 km p/u, want alle paaie is in so n toestand dat jy nie vinniger as dit kan ry nie. Chaotiese padtoestande.

Piet 6 ·

MM , is dit tussen Allanridge en Welkom of Allanridge en Bothaville?

Perdeby ·

Ha ha ha nou het ek alles al gelees………….. Die Vrystaatse departement van polisie, paaie en verkeer, wat te hel, van wanneer af bestaan so ‘n afdeling.

Tinker ·

Padtekens is net daar vir mense wat dit wil sien. Op R513 is 2 hobbels en daar is baie bordtjies op om te se daar is hobbels maar ons het al menige ongelukke gesien omdat niemand ag neem op die bordtjies nie

DieKriek ·

Ek glo baie mense se sig is te swak om die bordjies te sien. Dis net te maklik om n vals bestuurderslisensie te kry of om bloot net sonder een te ry.

Kobus ·

Wanneer dagvaar iemand die regering vir moord? Swak toestand van paaie is agv swak regering en behoort hulle pa te staan vir die ongelukke , beserings en dood.

B-Man ·

Wonder ek ook. Was daar nie ook ‘n paar jaar terug gerugte dat destydse premier, Ace Magashule en kie. die geld vir Vrystaatse paaie verdoesel het nie? Hou hulle aanspreeklik.

Kokerboom ·

Die ANC en hul inploffende ekonomiese beleid. Sterk oppad na padtoestande in 1920. Maar Mercedese, BMW’s en Volvos sal ons ry..almal natuurlik 4×4!Groot geleentheid vir ‘n donkiekar aanleg!!

Nie Verbaas ·

Was ongelukke veroorsaak deur padtoestand of totale tekort aan vernuf en vermoë? Alternatiewe roetes sal dan dieselfde gevolg hê as tekort aan vermoë die oorsaak is. Ons sien amper daagliks watter ernstige ongelukke veroorsaak word deur arrogansie, tekort aan vermoë en voertuie wat hopeloos te veel passasiers vervoer en nie padwaardig is nie.

Andries ·

“Het minstens die lewe van 15 mense geeis” dan word die pad gesluit. Die N12 van Westonaria tot Potchefstroom eis meer mense weens die onvermoee van die regering om die pad, soos beplan,
volledig dubbelweg te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.