Berugte renosterstropingsbende gevonnis

renosters-witrenoster

Argieffoto (Foto: Casey Allen/Pexels)

Die Oos-Kaapse hooggeregshof in Makhanda het ses lede van ʼn berugte renosterstropingsbende, bekend as die Chitiyo-bende, vir minstens 16 jaar tronk toe gestuur. 

Francis Chitiyo (35), Trymore Chauke (30), Meshack Chauke (27), Simba Masinge (32), Nhamo Muyambo (32) en Abraham Moyane (36) is verlede aan op verskeie aanklagte wat met renosterstropery verband hou skuldig bevind, insluitend sameswering om renosterhorings te steel en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Die mans is almal Zimbawiese burgers en net twee van hulle het wettig in Suid-Afrika gewoon.

Chitiyo, die vermeende baasbrein, is tot 20 jaar direkte tronkstraf gevonnis, Muyambo tot 19 jaar, Tymore Chauke en Masinge tot 17 jaar elk en Meshack Chauke tot 16 jaar. Nog aanklagte kan moontlik later teen die veroordeeldes aanhangig gemaak word, wat uit hul vroeëre ontsnapping uit die Makhando-gevangenis spruit.

Vyf van die ses mans het in Oktober verlede jaar, kort ná hul skuldigbevinding, ontsnap en is eers vanjaar weer deur die polisie aangekeer.

Die polisie ondersoek egter nou die moontlikheid dat die mans in die eerste drie maande van die jaar – toe hulle nog op vrye voet was – by verskeie stropings betrokke was.

Volgens Luxolo Tyali, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is 13 renosters in dié tydperk in die provinsie gestroop. Dit terwyl daar glo geen voorvalle ten tyde van hul aanhouding was nie.

Sou die mans positief met dié voorvalle verbind word, sal hulle gevolglik aangekla word.

Wat het gebeur? 

Die mans se skuldigbevinding en onlangse vonnisse spruit uit misdade wat in 2018 gepleeg is.

In Julie 2018 het die mans almal naby mekaar in Oos-London gewoon en ook verblyf gedeel.

Volgens die NVG het hulle in dié tyd saamgesweer om renosters te stroop en hul horings te verkoop.

“Hulle het ʼn ongelisensieerde .375-kalibervuurwapen met ʼn klankdemper bekom,” sê Tyali.

Op die dag van hul inhegtenisneming het die ses in twee afsonderlike voorvalle na die Makhanda-gebied gereis, waar verskeie wildsplase met renosters geleë is.

Voordat hulle hul bestemming kon bereik, het een van die voertuie onklaargeraak. Hulle is daarna deur lede van ʼn teenstropingstaakspan op die N12 voorgkeer wat besig was om die gebied te patrolleer.

Die een voertuig was in dié stadium besig om die stukkende voertuig te sleep.

Die voertuie is deursoek en verskeie wapens, insluitend die onwettige vuurwapen, byle en messe is in die mans se besit gevind. Die polisie het ook op hul selfone beslag gelê.

“Terwyl die mans in aanhouding was, was daar geen voorvalle van renosterstropery in die Oos-Kaap nie. Sedert hul ontsnapping is 13 renosters egter gestroop. Die hof het in sy uitspraak gesê dit is meer as net toevallig dat daar in die eerste drie maande van die jaar 13 voorvalle was, toe die mans op vrye voet was.”

Barry Madolo, direkteur van openbare vervolgings in die Oos-Kaap, het die vonnisse verwelkom, al is die mans nie spesifiek aan renosterstropery skuldig bevind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Aai ·

Rerig net 16 jr besit van ongelisensieerde vuurwapen is minimum 15 jr al klaar? Wat ‘n grap.

Danie ·

Die skade is gedoen wat sal die vonnis help.Daar is n magdom kriminele stropers wat wag om alle renosters van kant te maak.Kyk maar net na statestiek wie is almal betrokke.

Susanna ·

Hanteer die stroperye soos in Bybel se tyd…kap ‘n vinger af vir elke stroping

Suzette ·

Ek is bly die gemors is gevang, maar hulle is nog steeds in hulle element. Nou het hulle gratis verblyf en etes en later sal parool ook seker ter sprake kom – want die terroriste en moordenaars het mos meer regte as wetsgehoorsame burgers en onskuldige diere. Dan is hulle terug en gaan voort met die verwoesting.

Di ·

Wie moet ons bedank vir al die ONWETTIGE immigrante in die land?? DIE korrupte ANC regering

Sê maar net ·

Net 16 jaar? Hul moes lewenslank kry. Dis nie net stropery nie ….dis moord op ‘n beskermde spesie. Veral daai Trymore ou. Sy naam sê alles….

Wit Leeu ·

Ag tog, dit is ‘n grap ! Een derde dan loop die gemors weer na 5 jaar en 3 maande ! Nee wat die land se alles is ‘n totale grap !

MJLS ·

Wonderlik! Dink aan al die onskuldige diere wat a.g.v. hulle gierigheid moes ly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.