Berugte rondloperleeu Sylvester ontsnap weer uit wildtuin

Nico van der Walt, die Karoo Nasionale Park se parkbestuurder, by Sylvester toe hy verlede jaar uiteindelik gevang is. Foto: Verskaf.

Nico van der Walt, die Karoo Nasionale Park se parkbestuurder, by Sylvester toe hy verlede jaar uiteindelik gevang is. Foto: Verskaf.

Die berugte rondloperleeu, Sylvester, wat verlede jaar uit die Karoo Nasionale Park ontsnap het en ná 25 dae op vrye voet weer gevang is, het Maandag weer ontsnap.

Reynold Thakhuli, woordvoerder van SANParke, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Sylvester, die naam wat omliggende boere hom gegee het ná sy eerste ontsnapping op 5 Junie, het vermoedelik weer op dieselfde manier ontsnap.

“Swaar reënval het veroorsaak dat grond onder die heining weggespoel het en hy het weer deur ʼn gat onder die heining gekruip,” het Thakhuli gesê.

“Sy spoor is sowat 20km buite die noordwestelike kant van die park opgemerk en hy het reeds ʼn koei op ʼn plaas gevang.”

Thakhuli het gesê ʼn span van 14 mense, waaronder ʼn veearts, is op sy spoor. Ná sy vorige ontsnapping het SANParke vir hom ʼn satelliethalsband aangesit, wat deur die span gebruik word om na hom te soek.

“ʼn Helikopter gaan ook ingespan word, aangesien dit lyk asof hy weer op pad is na die berge, waar die terrein dit moeilik maak om na hom te soek.”

Thakhuli het gesê Sylvester se vorige soektog het SANParke R800 000 uit die sak gejaag.

Maroela Media het destyds berig Sylvester, toe drie jaar oud, het tydens sy 25 dae op vrye voet 26 skape en ʼn koedoe gevang.

Hy is uiteindelik 29 Junie omstreeks 17:00 in die Nuweveldberge, noordwes van Beaufort-Wes in die Wes-Kaap, aangekeer.

“Ons het heeltyd ʼn helikopter en ʼn veearts op bystand gehad terwyl ons op sy spoor was. Toe hy gevind is, is die helikopter ontbied en hy is uit die lug uit met ʼn verdowingsmiddel geskiet,” het Thakhuli gesê.

Sylvester is daarna teruggeneem na die reservaat, waar hy vir ʼn ruk lank in afsondering in ʼn spesiale kamp gehou is voordat hy weer in die reservaat vrygelaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

EMK ·

Ag ou koning leeu, jy raak seker gatvol vir jou area en was maar net lus om bietjie rond te gaan kyk, ek neem jou nie kwalik nie!

reinette ·

Die man raak ooglopend verveeld waar hy is. Dalk hou hy nie van die spyskaart nie.
hoop net hulle werk mooi met hom.

SNEL ·

Sylvester se naam sal beslis moet verander na MacGyver toe, want die leeu maak n plan om uit te kom, maar ingehok wil hy nie bly nie. Hoop net hy word gou gekry en dat niemand hom iets aandoen nie.

Karolis ·

Skiet hom op sig. Dit gaan broekskeur met die droogtes en diefstalle en hy steel duisende rande op ‘n ekskursie teen geen vergoeding.

NET EKKE ·

Bring hom na my valley toe daar is heerlike vars vleis vir hom

Jan ·

Dis ‘n probleem dier hierdie, hy moet liefs geskiet word. Hy is ‘n gevaar vir mens en lewende hawe, en leeus is nie juis ‘n bedreigde spesie in SA nie. Die geld en mannekrag wat gebruik word om hom te soek kan baie beter teen renoster stropers gebruik word.

M.G. ·

Jis maar party mense is darem skieterig. Destyds het mense goed uitgewerk dat die getalle vee wat hy “sou” gevang het baie wild geskat was en baie aangedik ook. Daar is mense wat sommer gou eise ingestel het om vergoeding te probeer kry. So moenie hom sommer blameer vir elke dier wat “gevang” was nie, ai.

charlene ·

Shoe maar Jan & Karolis julle is duidelik NIE boere nie! Geen boer sal so hartloos wees nie!!! Die is `n mens fout nie `n dier fout nie, nou wil julle hê die dier moet betaal vir ander se foute. Mense moet besef dis wel damily van `n kat maar dis nie `n kat’tjie nie. Hy is wild…. Ek hoop Sylvester is uitgeslape genoeg om te vlug wag van al die mense met hulle helikopters en skiet goed, hy verdien ook `n kans om te lewe. en as hulle hom vang hoop ek nie iemand maak hom seer nie.

Justa ·

Ag asseblief tog Jan en Karolis, hoekom moet diere alewig geskiet word. Almal is “trigger happy”. Diere moet altyd boet vir menslike foute. Die storie van 26 skape en n koedoe gevang is ook n bietjie dik vir n daalder.

Karolis ·

Justa,
Klink nie of jy boer nie, jy sal nie verstaan nie.

Maggie ·

Duidelik hou hy af en toe van ‘n nuwe spyskaart. Moenie hom seermaak nie asb.

Weskaper ·

Sanparke het nou aangekondig dat die leeu geskiet gaan word, blykbaar gevaar vir samelewing. Jammer

Henk Badenhorst ·

SANPARKE moet hulle werk begin doen en ook die grensdrade inspekteer dan sal hulle nie wag dat boere begin kla oor veeverliese nie.

Dirk Ligter ·

Die mees geskikte naam sou eerder moes wees, Dirk Ligter want Selvester en die man van lank terug se gedrag en karakter is sinoniem. Die wat weet wie Dirk Ligter van die karoo eens was sou hier met my kon saamstem. Die konstabels te perd kon hom nie vang nie en die tronk kon hom nie hou nie. Waarom so storiemaker uitkreet as n probleemdier as dit juis die mens is wat dwars oor sy spore loop……..?

Marianne ·

Ek stem 100% saam – albei stel hulle Vryheid hoog op prys om nie van die voorliefde vir skaapvleis te praat nie!!!

Jjvanod ·

GEE VIR SYLVESTER ANDER HUIS ,(KRUGER WILDTUIN WAAR BAIE SPASIE IS) nuwe uitdagings vir hom

nig ·

Is daar genoeg kos dat hy so bly ontsnap? Dis erg dat hulle nou weer net wil skiet. Ja, leeus is (nog) nie ‘n bedreigde spesie maar wil ons wag vir dit om te gebeur en dan jammer te wees? Hulle word reeds gejag vir die sg leeuwyn en allerhande ander bollie so beskerm hulle nou en klaar. Ek ken baoe boere wat ook so voel, hulle skiet nie net nie – onthou net leeus en wild was eerste hier, nou vat ons hulle jagveld en prooi weg en dan wil ons iets oorkom as hulle doen wat die natuur hulle sê om te doen. Sug….

Christo Pienaar ·

Duidelik is die leeu slimmer as wat mens dink. Indien hy gevang word sal hy elders hervestig moet word. Ongelukkig het hy ook agtergekom daar is lewe daar buite die park en die ‘wild’ is soveel makker en makliker om te vang. Hy sal hervestig moet word waar daar meer leeus is en deel van ‘n trop kan word en interaksie met ander leeus het. Een of ander mannetjies leeu sal hom op sy plek sit. Hierdie leeu soek ruimte en gaan ongelukkig ‘n probleem dier word en sal daar dan geen keuse wees om hom van kant te maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.