Berusting dekades ná Kiwi in SA sterf

Peter Kelly van Whangārei (Foto verskaf aan die NZ Herald)

Die familie van ’n onbekende Nieu-Seelandse rugsakreisiger wat 48 jaar gelede in Suid-Afrika dood is, het ná byna vyf dekades eindelik gehoor wat hul broer dié dag oorgekom het. Hulle is destyds omtrent sy dood ingelig, maar het altyd gewonder oor sy laaste oomblikke.

Dít met behulp van die Suid-Afrikaner wat destyds gesien het hoe hy na sy dood val in Johannesburg. Die Suid-Afrikaanse expat, nou 69 jaar oud en afgetree, woon deesdae in Australië en het besluit om die man se familie op te spoor sodat hy berusting kan vind.

Die ruksakreisiger – tot onlangs nog net bekend as Red – se naasbestaandes het intussen na vore gekom en hom as Peter Kelly van Whangārei geïdentifiseer.

Die NZ Herald berig die Suid-Afrikaanse expat het hom onlangs tot dié Nieu-Seelandse publikasie gewend in ʼn poging om die rugsakreisiger se familie op te spoor.

“Ek skryf aan julle omdat ek 48 jaar later ʼn onvoltooide dringendheid het om die familie van ʼn Nieu-Seelandse manlike reisiger te vind met wie my paaie net vir drie of vier dae gekruis het en wat tragies en skielik sy lewe in my teenwoordigheid verloor het,” het die Suid-Afrikaner onlangs aan die publikasie geskryf.

“Ek ken nie sy naam nie. Al wat ek van hom onthou, was dat hy ʼn groot mens was, ʼn rugsakreisiger wat pas in Hillbrow aangekom het, wat ʼn bed nodig gehad het vir ʼn paar dae, wat vriendelik was, ʼn groot rooi baard gehad het en dit geniet het om partytjie te hou.”

Kelly is in 1974 dood toe hy per ongeluk sewe verdiepings van ʼn balkon in Hillbrow geval het. Hy het die betrokke aand teen middernag na die woonstel teruggekeer nadat hy by een van die plaaslike kroeë gekuier het.

“Hy het net gesê hy het ʼn goeie aand gehad, en toe gaan hy uit op die balkon en gaan sit op die muur van die balkon met sy bene oor die kant. Ons het dit bedags gedoen om ʼn bietjie van die son te geniet. Ek kon sien hy rook.

“Ek het nie juis iets daarvan gedink nie totdat ek ʼn enorme plofgeluid gehoor het. Ek het nog nooit so ʼn geraas gehoor nie. Ek het dadelik opgekyk en Red was nie daar nie. Ek het my na die balkon gehaas en oorgeleun, en hom in ʼn plas bloed sewe verdiepings onder my sien lê.”

Die Suid-Afrikaner is destyds daarvan beskuldig dat hy sy nuwe vriend gestamp het. Hy onthou dat hy ná ’n halfuurlange ondervraging toegelaat is om te gaan en hy het na Red by die Hillbrow-hospitaal gaan soek. Hy is daar die nuus meegedeel dat Red dood is.

Die polisie het ’n paar dae later Red se besittings waaronder sy paspoort, geld en retoerkaartjie aangevra.

“Ek het nooit iets van sy ouers of naasbestaandes of enige vriende gehoor nie. Maar dit was Suid-Afrika en daar was geen selfone of die internet nie.”

Red is ’n paar weke later in die Johannesburgse begraafplaas ter ruste gelê. Sy Suid-Afrikaanse vriend het die begrafnis bygewoon.

“Ek dink ek was die enigste een daar wat nie ’n amptenaar was nie. Ek was ontsteld dat hy in ʼn graf gelê is sonder dat enige van sy familie of vriende hom gesien het.

“My wens is om kontak te maak met enige van sy familie en of sy vriende in Nieu-Seeland en my meegevoel te betoon, want ek is seker hulle wil weet dat hy op sy tyd wel ’n vriend by hom gehad het.”

Familie kom na vore

Kelly se suster Colleen Wech sê dit was emosioneel toe sy die Suid-Afrikaner se skrywe vandeesweek in die Northern Advocate gelees het. Sy het dadelik geweet daar word na haar broer verwys.

Ook haar familie het gesukkel om berusting te vind ná Kelly se dood.

Die Suid-Afrikaanse Polisie het destyds die Nieu-Seelandse polisie aangesê om Kelly se naasbestaandes in kennis te stel van sy dood.

’n Gedenkdiens is destyds sonder Kelly se liggaam in Nieu-Seeland gehou.

“Dit was ʼn aaklige tyd. Ek onthou ʼn jaar het verbygegaan en my pa het gesê hy sal net graag wil weet wat regtig gebeur het,” onthou Wech.

Albei Kelly se ouers is intussen oorlede. Wech het sy graf in 2005 in Johannesburg besoek.

Sy en die Suid-Afrikaner sal na verwagting vandeesweek nog gesels.

Bron: NZ Herald

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.