Berusting ná plaasmoord op Malalane-boer

Riaan van den Berg. Foto: Verskaf

Riaan van den Berg. Foto: Verskaf

Die familie van Riaan van den Berg (42), ʼn suikerrietboer van Malalane in Mpumalanga, kan twee jaar ná sy moord ʼn bietjie berusting vind, nadat twee van sy moordenaars tronkstraf opgelê is.

Maroela Media het vroeër berig Van Den Berg se huishulp het sy liggaam op 30 Mei 2014 in sy plaashuis aangetref en dadelik sy beste vriend ontbied. Hy is die aand tevore deur vier mans in die huis oorval, vasgebind en met ʼn gordyntou verwurg. Die moordenaars het in Van Den Berg se bakkie gevlug, met ʼn platskermtelevisie, selfoon, hoëtroustel en tuimeldroër. Van Den Berg het alleen op die plaas gebly.

Die polisie het ʼn volskaalse soektog na die verdagtes van stapel gestuur en vyf mense, vier mans en ʼn vrou, is drie dae later in hul huise in Matsulu, naby Nelspruit, in hegtenis geneem. Die polisie het die gesteelde goedere in hul besit gevind. Die vrou, wat verwant is aan een van die beskuldigdes, het tydens hul verhoor staatsgetuie geword en teen die beskuldigdes getuig. Twee van hulle is intussen dood.

Volgens brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, is die twee oorlewende verdagtes, Collen Nhlanhla Shongwe (39) en Solomon Sydney Mabaso (34), Donderdag in die rondgaandehof van die Pretoriase landdroshof op Graskop gevonnis nadat hulle vroeër skuldig bevind is aan roof en moord.

“Albei beskuldigdes is 25 jaar tronkstraf elk opgelê op aanklag van moord en 15 jaar vir roof. Tien jaar van die roofvonnis sal gelyklopend uitgedien word, wat beteken dat hulle effektief 30 jaar tronkstraf moet uitdien,” het Hlathi gesê.

Johan van den Berg, Riaan se ouer broer, het Vrydag aan Maroela Media gesê die vonnis bring ʼn mate van berusting, veral vir hul bejaarde ma, Annetjie.

“Dit is darem beter as niks, maar dit bring my broer terug nie. Dit is goed om te weet dat hulle vir ʼn ruk agter tralies gaan wees,” het hy gesê.

Van Den Berg laat twee kinders, Nicola (18) en Adriaan (23), sy tweelingbroer, Jaco en Johan en hul ma agter.

Johan het namens die familie almal bedank vir hul betrokkenheid en bystand sedert die moord. “Ons waardeer almal se ondersteuning opreg.”

Hlathi het gesê die polisiebestuur verwelkom die vonnis en hoop dit dien as ʼn afskrikmiddel vir voornemende kriminele. Die polisiebestuur het ook die ondersoekspan geloof vir hul deeglike werk wat die vonnis verseker het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wern ·

As die polisie so aanhou skuldiges opspoor en howe effektief is en die straf baie swaar, dan sal misdadigers afgeskrik word en die land n baie beter plek vir almal word. Sterkte aan die familie.

KarooKlong ·

Wern, dit gaan lank neem maar dit is tog ‘n moontlikheid.
Goed gedoen aan die ondersoekspan en almal betrokke.

Piet ·

Alfonsie gedurende die Zim besettings, hier tussen 2000 en 2004, is net 6 boere in Zim vermoor. Dis baie erger hier by ons, maar ons sal nie almal onder gaan nie. Ons moet net geloof he.

Carlo ·

30 Jaar!!!??? Is dit al???
Hulle sal net 15 Jaar uit dien dan word hulle vrygelaat!!! Welgedaan???
LEWE VIR N LEWE!!! BRING TERUG DIE DOODSTRAF!!!

Bekkie ·

Ja wel 5 jaar terug is my man ook vermoor en tot vandag het hulle nog nie die moordenaars opgespoor nie. Die polisie doen nie veel meer om hulle te vind nie. Dis asof die saak net doodgeloop het. Geen andwoorde of niks word gegee nie. Is dit net vir sekere gevalle wat hulle regtig aandag op gee of wat

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.