Beseerde Boishaai-speler reageer goed; steeds onder verdowing

Chris Jordaan (regs), saam met sy sussies Elizé en ouer broer, Johann. (Foto: Verskaf)

Die Boishaai-rugbyspeler wat vroeër vandeesmaand tydens ʼn rugbywedstryd in Pretoria ernstig beseer is, is steeds in die intensiewesorgeenheid van die Muelmed-hospitaal – maar die 16-jarige Chris Jordaan toon goeie herstel.

“Ons wag en wag en wag en ons vat een dag op ʼn slag,” het sy pa, ook Chris, Vrydag gesê.

Die Hoër Jongenskool Paarl het die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) op 4 April die stryd in die Noord-Suid-rugbytoernooi aangesê toe Chris, ʼn gr. 11-leerder aan Boishaai en die eerste span se agtsteman, tydens die wedstryd ʼn harde hou teen die kop opgedoen het.

Hy het bloeding op die brein opgedoen en is inderhaas na ʼn Pretoriase hospitaal geneem waar hy later die aand ʼn operasie ondergaan het. Hy word steeds in die Muelmed-hospitaal behandel.

Chris se verdowing is die afgelope ruk geleidelik verminder en dokters het sy longe skoongemaak nadat hy vroeër ʼn longinfeksie opgedoen het. Hulle sal dit waarskynlik binne die volgende paar dae weer doen, sê Chris sr..

“Die dokters is tevrede. Ons wil hom graag uit die intensiewesorgeenheid hê, maar die dokters vat dit stadig – soos hulle ook moet.

“Ons is opgewonde en positief.”

Chris sr. is intussen terug na die Paarl, waar die gesin woon, terwyl ma Dané by haar jongste seun se bed waak. Chris sien in die Paarl om na die egpaar se ander kinders, Johann (19), ook ʼn “Old Boy”, en sussie Elizé (10).

Dokters het die gesin afgeraai dat Chris jr. in hierdie stadium enigsins reis.

Die ventilator waaraan Chris steeds gekoppel is, sal hopelik vroeg in volgende week verwyder word en die jong man sal na verwagting uit die intensiewesorgeenheid direk na die hospitaal se rehabilitasiesentrum oorgeplaas word.

Chris sr. sê hulle kry steeds ongelooflike ondersteuning van mense landwyd wat uitreik en aanbied om te help, terwyl boodskappe van beterskap nog instroom.

“Die Jordaan-gesin bly in ons gebede,” het Affies vandeesweek ook in sy nuusbrief gesê.

“ʼn Spesiale woord van dank aan dr. Henry Kelbrick wat ʼn kardinale rol gespeel het om die seun reeds op die veld die nodige mediese sorg te gee en daarna verseker het dat hy die beste behandeling kry.

“Dankie óók aan al die ouers wat Chris se familie ondersteun het,” lui die skool se boodskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Skappie ·

Chris jy moet gou gesond word. Sterkte aan sy gesin wat hierdie herstelproses saam met hom stap.

Harley Davidson ·

Jy moet erg verkramp wees om te dink ,miskien die verkeerde woord want dink kan nie so ‘n persoon se sterk punt wees om nie kommentaar te wil plaas oor ek sê rugby word verafgod en moet begrawe word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.