Beseerde Boishaai-speler stadigaan wakker

Chris Jordaan (regs) saam met ouboet Johann en sussie, Elizé. (Foto: Verskaf)

Chris Jordaan, die jong eerstespanspeler van Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) wat Dinsdagaand ernstig in ʼn rugbywedstryd in Pretoria beseer is, se verdowing is Donderdag stadigaan verminder en sy gesin en dokters hoop dat hy Vrydag heeltemal wakker sal wees.

“Daar is in dié stadium geen negatiewe tekens of infeksie nie,” het Chris se pa, ook Chris, Donderdagmiddag gesê.

Boishaai en Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) het mekaar die stryd aangesê en die 16-jarige Chris het in die wedstryd ʼn harde hou teen die kop opgedoen. Hy is ʼn gr. 11-leerder aan Boishaai.

Chris word tans in die intensiewe sorgeenheid van die Muelmed-hospitaal behandel.

“Ek is saam met die ambulans hospitaal toe, maar ek dink ek het vandag eers geskrik. In daardie tyd gaan jy in overdrive en jy help net om jou kind te help,” sê Chris sr.

“Die dokters het vandag al die sedasie begin verminder en môre sal hy hopelik heeltemal wakker wees. Ons glo alles sal goed gaan.

“Ons is vol vertroue dat alles goed gaan verloop en die herstelproses kan begin.”

Chris se ma, Dané, het van die Paarl na Pretoria gevlieg om ook by haar jongste seun te wees. Die egpaar se 10-jarige dogter, Elizé, bly intussen by familie in die Wes-Kaap.

Chris se ouer broer, Johann (19), self ʼn “Old Boy” van Boishaai, is saam met sy ouers in Pretoria.

Pa Chris vertel Johann sê “môre is Goeie Vrydag en dit gaan ʼn goeie dag wees”.

Chris sr. sê die ondersteuning wat hulle sedert Dinsdagaand van oraloor ontvang het, is verstommend. Skole en leerders het boodskappe van beterskap gestuur, mense bid, weldoeners bied hulp aan.

“Ek het so iets nog nooit ervaar nie. Ongelooflik baie dankie aan almal.”

Hy sê mense het soos een man saamgestaan om hulle te ondersteun.

“Rugby is ʼn sport waarvoor ons lief is, waarmee ons grootgeraak het. Jy kan oor die pad ook stap en seerkry. Dit is niemand se skuld nie. Daar was geen vuilspel nie.

“Dit is ʼn amazing sport. Jy is vyande op die veld en daarna staan jy saam en vat hande. Daar is nie ʼn groter sport as rugby nie. Dit is ʼn wonderlike spel wat ʼn klomp mense bymekaarbring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tanya ·

Sterkte seun en familie, soos jou Ouboet Johann sé môre gaan dit (‘n) GOEIE VRYDAG wees! Boishaai bo… van ‘n oud Gimmie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.