Die jong leeu met die strik om sy nek waarna daar sedert Saterdag in die Krugerwildtuin gesoek is, is Dinsdagmiddag opgespoor.
Lesley Nyawo, ʼn woordvoerder van SANParke, het op Facebook bevestig dat wildbewaarders en ʼn veearts Dinsdag, ná ʼn soektog wat ure lank geduur het, die leeu opgespoor het en daarin kon slaag om hom te verdoof.
“Die strik is van sy nek afgehaal en die wond is behandel,” het Nyawo gesê. “By nadere ondersoek het die veearts gevind die wond is nie so erg soos daar vermoed is en soos dit op die foto’s voorgekom het nie.”
Nadat die leeu behandel is, is hy weer in dieselfde gebied waar hy gevind is vrygelaat.
Maroela Media het vroeër berig ʼn boodskap is sedert Saterdag op sosiale media versprei waarin besoekers in die wildtuin versoek is om op die uitkyk te wees vir dié leeu. Dié versoek het gekom nadat die leeu Saterdagmiddag net voor die hek sou sluit, op die H4-2 in die rigting van die Krokodilbrug, ongeveer 2 km van Laer Sabie, gesien is met die strik om sy nek.
Paaie in die gebied waar die leeu laaste gesien is, is Dinsdagoggend afgesper om die soekspan in staat te stel om naby die leeu te kom.
Nyawo het gesê foto’s van die reddingspoging sal later op SANParke se Facebook-blad gedeel word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Ek is so bly hulle het hom gekry. Mag hy gou herstel van sy wonde!
Goeie nuus! Dankie tog die leeu kon gehelp word. Hoop die barbaar wat dit gedoen het, kry GEEN genade as hy hopelik gevang word nie.
Great work, makes my soul Wane jump of joy…
Halleluja! Prys die heer!
Het die vreeslikste ervaring gehad om ‘n koedoe bul aan so ‘n strik te sien. Die dier het die mees lydingsvolle dood ooit gesterf. Soos die dier gespring het, het die strik al stywer om sy nek getrek, Die strik is ook nooit na gegaan deur die gedrog wat hom gestel het nie, seker vergeet waar hy dit gestel het… Ek is net bly die leeu het genoeg krag gehad om die strik te kon breek en weg geloop, anders het hy ook net daar aan die strik aan sy wonde beswyk. Die verliese wat gely word agv onwettige jag… Lees meer »