Beseerde leeus ná brande van kant gemaak

Die DBV in Bloemfontein het 30 ondervoede, beseerde leeus op ’n Vrystaatse-teelplaas van kant gemaak. (Foto: Bloemfontein DBV)

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat grafiese inhoud en kan sommige lesers of kinders ontstel.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein het 30 beseerde, ondervoede leeus op ʼn teelplaas in die Glen-distrik in die Vrystaat van kant gemaak.

Die leeus is ernstig beseer tydens verwoestende veldbrande in die omgewing, maar is glo nooit deur hul eienaars behandel of versorg nie. Die eienaars het glo ook nie enige mediese hulp vir die lydende diere ontbied nie en volgens die DBV was dit duidelik dat die diere dae laas geëet het.

Verskeie leeus se pote was verbrand en sommige het van die bloed in hul longe verdrink. Die leeus het ook brandwonde aan hul gesigte en in hul bekke opgedoen. Een van die leeus se oë het glo weens die hitte van die vlamme gebars.

Die DBV het met behulp van ’n plaaslike veearts al die diere geëvalueer en eindelik 30 van kant gemaak weens die ernstige aard van hul beserings. Die oorskot is veras.

ʼn Klag van dieremishandeling – wat die DBV as een van die ergste gevalle nóg beskryf  –  is intussen teen die eienaars van die plaas, waarop minstens 59 leeus en drie tiere aangehou word, aanhangig gemaak.

Volgens Reinet Meyer, ʼn senior inspekteur by die DBV, het die beseerde, uitgeteerde leeus meer as vyf dae lank gely voordat die DBV ingevolge ʼn hofbevel toegang tot die eiendom verkry het.

Meyer sê die DBV het op die betrokke teelplaas afgekom terwyl die organisasie ander plaaseienaars in die omgewing met die mediese versorging van hul diere ná afloop van die vernietigende veldbrande bygestaan het.

Die instansie het onraad vermoed toe inspekteurs toegang tot die oënskynlik verwoeste perseel geweier is.

“Ons is toegang tot die leeuteelplaas geweier, selfs al het vlamme die meeste van die plaasgrond en kampe waar die leeus aangehou word, verswelg.

“Dit was ʼn duidelike aanduiding dat iets nie pluis is nie,” sê Meyer.

Die toneel waarop lede van die DBV afgekom het, het hulle egter “diep geskok”.

“Toe ons by die leeukampe kom het ons harte gebreek en ons siele gehuil. Dit was duidelik dat die leeus nie van die vlamme kon vlug nie en dat hulle baie rook ingeasem het.

“Die leeus het nie beweeg nie en het almal op een plek met hul pote in die lug gelê.”

Meyer sê die leeus was geweldig swak en in erge pyn.

“Daar was drie leeumannetjies in een van die kampe wat glad nie eers kon staan nie. Wanneer hulle probeer opstaan het, het hulle dadelik weer geval.”

Leeukampe ‘haglik’

Meyer sê voorts dat die kampe in ʼn haglike, vuil toestand was.

Ontlasting en ou karkasse het oral rondgelê en volgens Meyer was die kampe heeltemal te klein vir die leeus. Die leeus het glo ook ʼn ander leeu in die kamp opgevreet aangesien hulle erg uitgehonger was.

Verder was daar geen elektriese omheinings nie en was die pale wat die strukture in plek moes hou, heeltemal verbrand. Daar was ook groot gate in die omheinings.

“Die leeus kon maklik ontsnap, maar nie een het nie aangesien hulle te swak was.

Die DBV in Bloemfontein het 30 ondervoede, beseerde leeus op ’n Vrystaatse-teelplaas van kant gemaak. (Foto: Bloemfontein DBV)

“Ons het gou besef dat die eienaar glad nie meer oor die leeus besorg was nie. Hy was nie bereid om finansieel in die welstand van die leeus te belê nie en het ook nie meer voorsiening vir kos gemaak nie.”

Meyer sê daar was skaars genoeg kos in die omgewing om een kamp se leeus te voed.

Die leeus was ondergewig met ʼn lae liggaamsmassa en die diere se ribbe- en pelvisbene en hul rugstringe was glo ook duidelik sigbaar.

“In my 30 jaar by die Bloemfontein DBV was ek nog nooit so kwaad nie.

“Die leeu is deel van Suid-Afrika se Groot Vyf en het ʼn hoë status. As ʼn land is ons veronderstel om trots op ons inheemse diere te wees, maar ons het hulle gefaal.

“Ons [die land] het ʼn bedryf gekweek, wettig of onwettig, wat ons diere vir vermaakdoeleindes soos jag, beenhandel, stroping, sirkustoertjies, vertroeteling en aanhouding in dieretuine misbruik. Dít moet end kry,” sê Meyer.

Die DBV was Maandag steeds op die toneel en het ʼn beroep op die publiek gedoen om die organisasie met die versorging van die leeus by te staan.

Enigiemand wat ʼn bydrae wil maak kan die DBV se webwerf besoek of ʼn SMS met die woord “Bloemspca” na 42646 stuur om R30 te skenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Roebs ·

Ek kan dit nie glo nie is daar nog mense wat dit doen… Hoop hulle kry ‘n groot boete

Sarel ·

Hierdie mense maak die bedryf se naam Gat..
Maar vertel.ook vir ons wie verantwoirdelik was vir die
Brande….dit sal jy nooit hoor nie

Cherokee ·

As dit nie was vir die brande, was die hongersnaad van die leeus nie bekend.

Helene ·

Woede is wat by my opkom. Ek het nie woorde nie. Dis tyd dat vonnisse vr dieremishandeling hersien word.

Debbie ·

Alle wilde diere wat in aanhouding gehou word moet gestop word.

Nonnie ·

WIE ISDIE SG. EIENAARS? HOEKOM WORD HULLE BESKERM, MAAR KYK HOE LYK DAARDIE LEEUS… EN WIE HET DIE BRANDE GESTIG???

Hendrik ·

Tot hul verleentheid en skande moet die eienaar se identiteit bekend gemaak word. Alle leeus moet gekonfiskeer word. Swaar gestraf word en verbied word om weer enige diere aan te hou. Wetgewing en beheer moet veskerp word.

Elmarie ·

Begin my lyk Bloem is die hoof setel van dieremishandeling. Ek hoop asb mense stuur, al is dit net één sms om die DBV te help. Het self al 3 gestuur. Asb mense, as jul voel hierdie is erg (wat dit is ha!) moenie net kommentaar lewer nie, dra by!

Perdeby ·

Kan nie verstaan dat die eienaar nie die leeus verkoop het aan sy bure wat ook met leeus boer as hy dan nie meer belangstelling het in hulle nie. Dit is absoluut onaanvaarbaar!!!!!!!!!!!!!

Hennie ·

Wanneer word dit dan onwettig om met geblikte leeus te boer? O wag, die ANC regering is te pap sleg om enige nie-rasgebasseerde wetgewing deur te voer.

Pieter ·

Weer ‘n dieremishandeling geval in Bloemfontein. Bloemfontein haal dikwels die nuus met dieremishandeling.

Wie gee permitte uit om die leeus aan te hou en word daar inspeksie gedoen? Skandalig dat ‘n mens so kan daal.

Kokerboom ·

Mag die man NOOIT weer naby ‘n dier toegelaat word. Mag hy die swaarste straf moontlik kry en op ‘n swartlys geplaas word. Mag die bedryf van leeus in kampe totaal verbied word. Eks soo kwaad

JohanR ·

Wat gebeur nou eintlik met die eienaar van die plaas. Kry hy tronkstraf, of word hy maar net R20000 beboet?

Hannes ·

Sluit hulle toe en gooi die sleutel weg. Sulke ongevoelige wreedaards hoort nie in die samelewing.

Casper ·

Lê asseblief beslag op die ander diere want duidelik het hierdie eienaar nie respek vir hierdie pragtige diere nie.Hoekom word mense nog toegelaat om hierdie diere aan te hou.

Piet parys ·

Ja dit is sleg en ek wonder nou wat het van die agbare minister se saak geword van haar varke sonder kos en water gelaat het om te vrek na die vervolgingsgesag die saak laat vaar het . Die persoon kon maar net die leeus laat uitsit het .

madels ·

Hoe verskriklik!!!! Hulle moet ook vir dae sonder kos toegesluit word om te voel hoe dit voel. Hulle moet laaaaank sit!! :-(

Janee ·

Bitter, bitter hartseer!!…Maar nee…’n dier voel en ervaar mos niks!

Nick ·

Kyk, die leeuboere wat verantwoordelik is kan maar hel toe vlieg, ek hoop julle sterf aan n pynlike dood, gemors, ek haat julle vir wat julle aan sulke mooi diere doen, jy is nie n boer nie, jy is rubbish!!!!!!

FBS ·

Ek het geen beswaar as n persoon diere mishandel dat hy baie direk en swaar gestraf word nie.
Maar nou weet ons ook dat die DBV slegs op emosies werk en dan nog geld bedil.
Waar is die verslag van n wild veearts. Waarom nie die boer help na die brand nie en ook wie het die brand begin. Is die foto’s waar of soos ander ou foto’s.
Ek se weer as daar wild mishandel was straf die persoon en se wie dit is. Daar word stellings gemaak maar nooit bewyse gelewer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.