Beseerde seeskilpadjie gered

Sunny die seeskilpad. (Foto : ANA)

ʼn Beseerde seeskilpadjie is Maandag deur ʼn beampte van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op Jeffreysbaai se hoofstrand in die Oos-Kaap gered.

Die NSRI is omstreeks 12:30 deur Etienne Venter, eienaar van die Jeffreys Bay Surf School, in kennis gestel van die beseerde seeskilpadjie.

“Ons NSRI-bemanningslid, Elaine Schmidt, wat ook in die omgewing beseerde seediere in nood bystaan, het die skilpad by Etienne oorgeneem. Die skilpad se linkeragterbeen is beseer,” het Craig Lambinon, die NSRI-woordvoerder, gesê.

ʼn NSRI-werknemer het die skilpadjie Dinsdagoggend na die Bay World-oseanarium in Port Elizabeth geneem. Bay World se personeel gaan verder na die skilpad, wat intussen “Sunny” gedoop is, omsien en help met rehabilitering.

Bay World het vanoggend bevestig dat dit ʼn karetseeskilpad is wat ongeveer twee tot drie weke oud is. Die grootste gedeelte van die skilpad se linkeragterpoot is weg.

Volgens Lambinon kom dié skilpaaie normaalweg in die noorde van KwaZulu-Natal voor en hulle vermoed dat Sunny deur sterk seestrome en storms langs die kus weggevoer is wat tot sy beserings bygedra het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.