Beseerde treindrywer bestuur na stasie vir hulp

Kennisgewing wat Prasa in treinstasies opgesit het

Kennisgewing wat Prasa in treinstasies opgesit het

Willem Spence (52), ʼn treindrywer van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), het met stukke glas in sy oë na veiligheid gery nadat ʼn aanvaller die voorste venster van sy trein met ʼn baksteen stukkend geslaan het.

Sonja Carstens, woordvoerder van die United National Transport Union (Untu), het in ʼn verklaring gesê die voorval het plaasgevind toe Spence by Du Toit-treinstasie naby Stellenbosch in die Wes-Kaap aangekom het.

“Spence bestuur al die afgelope 27 jaar lank treine. Hy het stadig gery en het omstreeks 11:45 verby ʼn plakkerskamp langs die stasie gery toe hy die aanvaller voor hom op die spoor sien,” het sy verduidelik. “Die baksteen het sy venster gebreek. Stukke glas het in sy oë beland en hy is oor sy gesig en arms gesny. Hy het egter besluit om met sy beserings na Stellenbosch-stasie te ry toe hy nie enige polisiebeamptes of veiligheidswagte by Du Toit-stasie kon sien wat hom kon help nie. Sy trein was vol pendelaars.”

By Stellenbosch-stasie het polisiebeamptes en veiligheidswagte Spence gehelp. “Hy is na ʼn hospitaal geneem waar stukke glas uit sy oë verwyder is. Hy is vir ʼn week lank op siekteverlof geplaas waarna die dokter weer sy oë sal ondersoek,” het Carstens bygevoeg.

“Dit word lewensgevaarlik om ons treine te bestuur,” het Spence aan Steve Harris, algemene sekretaris van die vakbond, gesê. “Ons loop deur onder misdadigers wat weet ons is sagte teikens. As treindrywers kan ons nie meer op normale treinveiligheid en die veiligheid van ons passasiers fokus nie. Ons moet deurgaans op die uitkyk wees vir misdadigers.”

Spence het vantevore as ʼn treindrywer op die berugte sentrale lyn tussen Kaapstad en Khayelitsha gewerk, maar het Prasa se menslikhulpbronnedepartement versoek om ʼn oorplasing te reël na die “veilige” roete, nadat hy ʼn paar keer op die sentrale lyn aangeval is.

Volgens Harris is aanvalle op treinpersoneel nie meer beperk tot spesifieke roetes nie. “Untu het die afgelope drie maande verskeie voorvalle op verskeie roetes in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng aangemeld. Untu sal môre [Maandag] met ons regspan vergader en aansoek doen om ʼn dringende interdik om Prasa en die SAPD te dwing om treinbemanning en pendelaars op treine te beskerm,” het hy gesê.

“Die vakbond het al herhaaldelik gewaarsku dat dit ʼn oorlog is op die spoorlyne, maar dit wil voorkom of Prasa, die minister van vervoer en die Suid-Afrikaanse regering, eers nóg onskuldige belastingbetalers wil sien sterf voor hulle enigiets aan die situasie gaan doen. Die situasie is nou só erg, dat die enigste oplossing sal wees om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag te ontplooi om ons spoorlyne te beveilig.”

Untu het bewyse dat Prasa kennisgewings in Desember 2015 by spoorwegstasies vertoon het waarin “toenemende voorvalle van aanrandings op personeel, insluitend kliëntediens, treinbemanning en veiligheidspersoneel ten sterkste veroordeel word”. Pendelaars word gedreig dat indien dié gedrag sou voortduur, treindienste opgeskort sal word. “Dit word nie gedoen nie,” het Harris verduidelik.

Untu en sy federasie, Fedusa, het verlede jaar op 12 November adjunkpresident Cyril Ramaphosa van die situasie ingelig en hom versoek om in te gryp en dié noodsaaklike nasionale bate te beskerm wat daagliks miljoene werkers na en van die werk vervoer. Ramaphosa het nog nie reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

willie ·

Waarom is die windskerms nog nie beveilig soos met onlustevoertuie nie? Ons weet mos ak lankal wat dierisiko is met al die kriminele langs die spoorlyne en elders!

Arno ·

Kan prasa nie bullet proof venstera insit nie dis mos baie dik glas en sterk ook

Piet Pompies ·

Watse plesier kry mens daaruit om ‘n treindrywer aan te val, of is ek dan dom

Mhlato ·

Wou die perd die trein “highjack”? Iemand moet hom bietjie inlig dat hy nie maklik ‘n koper gaan kry vir ‘n trein nie!

Asmain ·

Dit gaan nie vir die tipe om n trein te “high jack” nie, dit gaan maar net oor sinnelose geweld teen weerlose onskuldige mense

Bertie ·

‘n Drywer dryf ‘n trein, die ding stuur homself, iemand bestuur ‘n motor, kom reg met julle artikels.

J ·

Bertie nee gaats nou wat moet hy genoem word? Hierdie gaan oor n misdaad wat gepleeg is. Ek is bly die trein drywer lewe en die passasiers het nie ook seer gekry nie.

Voorstel ·

My voorstel is dat Ramaphosa en die betrokke minister genooi word om SONDER LYFWAGTE saam te ry op die treine. Of is hulle lewens meer werd?

Anoniem ·

Fantastiese plan! Laai sommer vir NummaWan en onse Julias ook op. Dit sal nuwe betekenis gee aan die woord “soustrein”!

Ashlee ·

Kan jy nou meer. Is treine dan ook nou n teiken? Van wanneer af? Vra net,

Oom Johan Willemse ·

Om net die SANW by die stasies of op treine te ontplooi, sal net ‘n gebaar wees wat weinig vrugte sal dra. Word die soldate egter gemagtig om aanvallers uit selfverdediging en/of tot die trein en personeel se beskerming te skiet, sal ons ‘n spoedige normalisasie beleef.
Die Regering van die Dag is egter misdadigers meer ter wille as om die land te beveilig. Hulle soek eerder daardie paar stemme van die boewe wat weggekom het as om kiesers te besker, wat hulle gronwetlike plig is.

Estelle Horn ·

As ek reg onthou is daar deur een of ander party leier gewaarsku dat hul die land onregeerbaar gaan maak en lyk my dit is wat nou aan die gebeur is met al die geweld, moord, plaasaanvalle, brande, grondbesetting, ens wat aan die toeneem is.

Oni ·

Hier kom die vergrootglas alweer. Bertie ek kan nerens sien dat iemand geskryf het, dat n treindrywer iets anders genoem is nie. Kyk na die breer orentjie en bere die vergrootglas.

Manna ·

Nou word skuld voor Prasa se deur gelê terwyl die regering van die dag direk daarvoor verantwoordelik is omdat hulle toelaat dat land onregeerbaar raak deur wetgewing wat wat misdadigers beskerm. Hulle maai wat hulle saai.

Leer by ander lande ·

Oral in ander lande is daar SIGBARE polisiering op stasies en treine EN DIT WERK, SA moet wakkerword en ophou dink hulle weet alles,leer by lande wat SUKSES het .. Daardie manne loop swaar gewapen deur treine en kom ook so op die spoor van pick-pocketers .. selfs hulle ry aan die pen, want nog te se van ‘n misdadiger wat ‘n baksteen deur ‘n trein se venster na die drywer gooi? Is dit omdat hy wit is? Hoop die man herstel volkome, en ongelukkig sal PRASA maar nou hulle bestuurders met diefwering en koeelvaste glas moet beskerm, ons leef in ‘n land wat deur misdadigers oorheers word.

Johannes Meintjes ·

Terwyl die VN se Agenda 21 en “Millennial Goals” o.a. ook die migrasie na stede aanmoedig om die platteland te ontvolk vir minerale uitbuiting om Europa en die VSA ekonomiee te dien, laat dit ons stede in Afrika en Suid-Amerika of Asie omring met groeiende plakkerskampe en mense wie nie die opvoeding of afronding het om werklik in die stad te kan funksioneer nie. Omrede landsburgers ook nie van die GOP prosesse en deelname bewus is nie raak situasie plofbaar, onvolhoubaar en onkonstruktief. Bravo Zulu aan die treindrywer in hierdie geval. Min is deesdae bereid om objektief in hulle pos of amp te volhard ter vrugte van geregtigheid!

Scalla ·

prasa moet al die roetes staak waar daar geweld teen treine is sodat hul met hul voete moet loop, as jy nie hoor nie dan moet jy voel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.