Besemstok-aanranding: Skoonmaker geskors

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Die departement van onderwys het die skoonmaker van ʼn skool in Standerton, Mpumalanga, wat op video afgeneem is waar hy ʼn skolier met ʼn besem aanrand, hangende die uitkoms  van die ondersoek, geskors.

Jasper Zwane, ʼn woordvoerder van die provinsiale departement van onderwys, het by navraag aan Maroela Media gesê die departement veroordeel die voorval ten sterkste.

Lt. Johannes Nhlabathi, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê die voorval het verlede Donderdag by die Stanwest Gekombineerde Skool plaasgevind. “Die 16-jarige skolier het glo voor die voorval op die skoolbanke gespring en die skoonmaker het hom gesien,” het Nhlabathi gesê. “Die skoonmaker het die klaskamer betree en die seun met ʼn besem aangerand. Hy het die besem op die leerling gebreek.”

Die seun moes behandeling in die hospitaal ontvang.

ʼn Saak van aanranding is dieselfde dag by die polisie aanhangig gemaak en die skoonmaker is Vrydag in hegtenis geneem. Hy moet vandag [Dinsdag] weer in die Standerton-landdroshof verskyn.

Zwane het die polisie bedank vir hul spoedige optrede om die werker in hegtenis te neem en aan te hou. Hy het gesê die skool se beheerliggaam het die leerling se ouers Saterdag ontmoet, dieselfde dag wat die seun ontslaan is. “Die kind se toestand het baie verbeter en hy sou Maandag weer terugkeer skool toe,” het Zwane gesê.

Zwane het gesê die departement sal die saak noukeurig volg en dophou.

ʼn Leerling het die voorval met ʼn selfoon afgeneem en die beeldmateriaal aan die Standerton Advertiser-verskaf, Klik hier om dit te kyk. Waarskuwing: Die video mag sensitiewe kykers ontstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marlene ·

Stuur asseblief die 16 jarige ook vir ‘behandeling’ – hoe om iets wat nie aan my behoort nie, te respekteer.

Trippie ·

Hallo Grassie. Opvoeding begin by die huis, en wraggies, op 16 behoort jy darem mos al bietjie “verstand” te hê, iets wat duidelik hier skort. Nogmaals reg, die belastingbetaler sal sorg, wat my bring by die volgende vraag, betaal die klein niksnuts se ouers enigsins belasting ?

Groete en ‘n mooi dag vir jou.

Grassie ·

Dankie, Trippie. Maroela het my kommentaar verwyder. Hulle is deesdae baie fyngevoelig.

M ·

Tien teen een het die mannetjie dit verdien. Ek dink die skoonmaker was al so raadop met al die ongemanierde kinders dat hy homself nie kon keer nie. Vandag se kinders dryf mens teen die mure uit, hulle respek nie mense of ander mense se goed nie.

AmY ·

Hoeveel van ons se ouers (pa’s) het ses van die bestes gekry. So erg, dat hulle vir dae nie behoorlik kon sit nie. En is daai onderwysers ooit geskors?

Vandag het ons mos gehoorsame ouers en onderwysers en die kinders kan maak en breek nes hulle wil. En as mens dit durf waag om aan hulle te raak, is daar GROOT MOEILIKHEID, want hoe durf iemand nou die ‘arme bloedjies (bedorwe brokkies) slaan???

Ek onthou in my dae (het 1988) gematrukileer: daar was orde in die klas< want ons het geweet wat op ons wag as ons nie na die onderwysers geluister het nie.

Die seuns is buiten toe geneem, goed gevoeter, en terug in die klas het hulle hulle gedra. Daar is eintlik selde meer as twee keer gepraat. By die huis en by die skool.

Goed, ek weet dis nie reg dat die skoonmaker sommer die besem gegryp en die kind geslaan het nie, maar dalk het daai kind die skoonmaker getart en gesteur terwyl hy sy werk doen. Skoonmakers is seker benede die kind? Waarom moet hy dan gehoor gee as daar gepraat is?

As hy nie eens die skoonmaker kon respekteer nie, wonder ek nogal hoe hy hom in die klas gedra???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.