Besige naweek vir Kaapstad-reddingshelikopter

Air Mercy-reddingshelikopter Foto: AMS, Facebook

Air Mercy-reddingshelikopter Foto: AMS, Facebook

Vyf persone moes die afgelope naweek met ʼn helikopter van berge in die Wes-Kaap gered word, het Air Mercy-reddingsdienste gesê.

ʼn Man en ʼn vrou, albei in hul 60’s, is Sondag by Porcupine-ravyn aan Kampsbaai se kant van Tafelberg, gered. Die twee was glo saam met ʼn groep toe hulle tussen vyf en agt meter ver geval het. Die Air Mercy-reddingshelikopter is ontbied en die twee pasiënte is na die Kampsbaai-sportterrein geneem wat as ʼn landingsplek gedien het. Die man het erge snywonde aan sy been opgedoen en die vrou het moontlik ʼn rib- en maagbeserings opgedoen. Al twee pasiënte is in ʼn stabiele toestand na die Christiaan Barnard-hospitaal geneem.

Die reddingshelikopter is ook Saterdag net na 11:00 na die India Venster-roete op Tafelberg ontbied nadat ʼn 61-jarige man sy enkel geswik het. “Die reddingspoging was tegnies ʼn uitdaging, aangesien die man in ʼn moeilike posisie op die berg vasgekeer was en die roete baie naby aan die kabelkarretjie is,” het ʼn woordvoerder van Air Mercy in ʼn verklaring gesê.

ʼn Vrou, glo in haar 30’s, is Saterdagoggend omstreeks 07:00 op Leeukop in Kaapstad gered nadat sy ʼn kniebesering opgedoen het terwyl sy gestap het. Die winderige toestande het die redding bemoeilik. Sy is uiteindelik na die Kloofnek-parkeergebied geneem vanwaar sy met ʼn ambulans van die Wes-Kaapse departement van gesondheid na die MediClinic Kaapstad geneem is.

Volgens Air Mercy het ʼn vrou van Kanada Vrydagmiddag omstreeks 17:00 ongeveer 8 meter ver in die Sederberge geval. Die vrou is met die reddingshelikopter na die Vincent Palotti-hospitaal geneem in ʼn kritieke, maar stabiele toestand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.