Besige paaie vir langnaweek verwag

(Argieffoto)

Die N3-tolkonsessie (N3TC) het Dinsdag diegene wat die langpad hierdie komende langnaweek gaan aanpak, gewaarsku om hul reis met ekstra omsigtigheid te beplan omdat hoë volumes verkeer die naweek op die N3 verwag word. Afgesien van verkeersopeenhopings in spitstye, kan padwerke verdere vertragings op die pad veroorsaak.

“Baie reisigers gaan hierdie langnaweek vir die eerste keer hierdie jaar wegbreek vir vakansie. Ons verwelkom vakansiegangers terug op die pad, maar ons versoek hulle om hul reise deeglik te beplan en dat hulle versigtig sal wees,” sê Con Roux, die kommersiële bestuurder van die N3TC.

“Reise op die langpad, veral tydens spitstye, kan bykomende spanning op motoriste plaas weens die druk verkeer en vertragings wat aan die orde van die dag is.”

Padwerke aan die N3-tolroete is ook deur die Covid-19-pandemie en afsonderingstydperk beïnvloed en konstruksiespanne moet nou die verlore tyd inhaal. Padwerke kan verdere verkeersopeenhopings veroorsaak.

“Alhoewel die N3TC alles in sy vermoë doen om verkeersopeenhopings tydens spitsverkeer te verminder, moet padgebruikers hulle voorberei op stadig bewegende verkeer en opeenhopings by padwerke waar sekere bane gesluit gaan bly,” waarsku Roux.

Roux sê gedurende die komende langnaweek sal padwerke beperk word tot noodsaaklike instandhoudingswerk, maar die bane by hul konstruksieterreine sal gesluit bly.

“Ons het geen ander alternatief as om voort te gaan met die padwerke om gereed te wees vir die Desember-spitsverkeer nie.”

Padwerke op die N3-tolroete tussen Heidelberg en Cedara sal tussen Villiers en Warden, Frere (R74) tot Midway, by die Van Reenenspas en tussen Mooirivier en Howick wees.

Bane is gesluit in ʼn suidelike rigting, in die rigting van Durban. Twee bane wat in ʼn noordelike rigting beweeg, in die rigting van Gauteng, sal egter eerskomende Sondag vir verkeer oop wees.

Padverbruikers word gewaarsku om voorbereid te wees vir moontlike vertragings.

“Daarom doen ons ’n ernstige beroep op reisigers om noukeurig vooruit te beplan en geduldig te bly wanneer hul reise vertraag word.”

Roux sê stres, ongeduld, frustrasie en moegheid kan ʼn impak op die padverbruiker se veiligheid op die pad hê. Dit kan veroorsaak dat bestuurders hul fokus en konsentrasie verloor, hul aandag afgelei word of hulle selfs nalatig is en onnodige kanse vat.

“Uit data rakende verkeer en ongelukke wat oor baie jare op die N3-tolroete ingesamel is, is dit duidelik dat die meeste ongelukke plaasgevind het weens menslike foute, hetsy nalatige bestuur, gebrek aan konsentrasie asook die miskenning van basiese veiligheidsmaatreëls.”

Enige probleme op die N3 kan by die 24-uur-hulplyn aangemeld word by 0800 63 4357. Volg ook die N3-tolkonsessie op Twitter (@N3Route) vir die jongste verkeersinligting op dié roete.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.