Besige paaie vir skoolvakansie verwag

(Argieffoto)

Die N3-tolkonsessie (N3TC) waarsku padverbruikers dat hulle die volgende week ʼn toename in verkeer op paaie kan verwag met skole wat Vrydag vir ʼn kort vakansie gaan sluit. Hoë verkeervolumes word veral oor die naweek op die N3 verwag.

“Alhoewel die N3 na verwagting nie so besig sal wees soos ander langnaweke of vakansietye nie, word reisigers daaraan herinner dat dié snelweg baie toerismebestemmings verbind vanaf Gauteng na Mpumalanga, die oostelike en suidelike Vrystaat, die uKhahlamba-Drakensberg-bergreeks, die KwaZulu-Natalse Middellande, die hawe van Durban en die vele kusdorpe langs die Indiese Oseaan. Dit kan daartoe lei dat die verkeersvolumes op spitsdae en oor naweke kan toeneem,” verduidelik Thania Dhoogra, bedryfsbestuurder van N3TC.

Dhoogra waarsku motoriste dat padwerke moontlike opeenhopings en vertragings op die N3-tolroete kan veroorsaak.

Die N3TC en sy kontrakteurs is besig om al die padwerke waarmee hulle reeds voor die Covid-19-afsonderingstydperk begin het, voort te sit en klaar te kry vir die Desember-vakansietydperk.

Tussen Villiers na Warden, tussen Frere (R74) na Midway, by die Vanreenenspas en tussen Mooirivier na Howick kan baansluitings verwag word.

Spitsverkeertye op die N3-roete word vir Vrydag tussen 15:00 en 21:00 sowel as op Saterdag tussen 09:00 en 12:00 verwag. Padverbruikers kan in dié tye hoë volumes verkeer ervaar.

“Indien dit enigsins moontlik is, word motoriste aangeraai om hul reise buite spitstye te beplan.”

Enige probleme op die N3 kan by die 24-uur-hulplyn aangemeld word by 0800 63 4357. Volg ook die N3-tolkonsessie op Twitter (@N3Route) vir die jongste verkeersinligting op dié roete.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mallie ·

Dis belaglik as mens dink dat die owerhede weet wanneer is daar skoolvakansies en langnaweke. Hulle moet hulle beplanning agtermekaar kry. Dan sal daar minder drama op ons paaie wees.

Jaco ·

Besige paaie tydens die vakansie. Wat dan nou van die ekonomiese resessie, rommelstatus en inkrimping van die ekonomie weens corona en inperking?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.