Besige verkeersnaweek lê voor; wetstoepassers gereed

Die Paasnaweek het op verskeie plekke reeds sleg begin. ‘n Motoris is vroegoggend dood in dié ongeluk op die N1 naby De Doorns in die Wes-Kaap. (Foto: Wes-Kaapse verkeersdepartement)

Verkeer sal vanaf Donderdagmiddag na verwagting beduidend begin toeneem op die meeste nasionale paaie wanneer motoriste die reis na hulle Paasbestemmings aanpak.

Die nasionale padagentskap Sanral het gesê die besigste tye word vanmiddag en môre verwag, waarna die paaie heelwat stiller gaan wees. Verkeersvolumes neem dan weer kwaai toe vanaf Maandag.

Verkeersverwagtings  

Motoriste wat uit die noorde na Kaapstad reis, kan vertragings by die Hugenotetonnel verwag. Dieselfde geld wanneer hulle Maandag terugkeer. Swaar verkeer word vandag op die N2 na Caledon verwag en dan weer op Paasmaandag in die rigting van Grabouw.

Op die N3 word swaar verkeer Maandag vanaf die kusgebiede op die paaie terug na Gauteng verwag. Die Merrivale-wisselaar gaan uiters besig wees.

Die Machadodorp-tolhek op die N4 tussen Mbombela (Nelspruit) en Middelburg gaan na verwagting vandag en môre en weer Maandag ook druk besig wees, het Sanral gesê. Dieselfde geld vir die Brits-en Carousel-tolhek.

Volgens Sanral word baie swaar verkeer van vandag af op die N1 na Polokwane verwag. Dit sal oor die naweek bedaar, maar weer beduidend toeneem wanneer veral duisende aanbidders op Paasmaandag na Gauteng terugkeer.

Sanral het gesê padwerk tydens spitstye word beperk en geen reise op enige van die groot hoofweë sal weens bouwerk onnodig verleng word nie.

Tradisioneel dodelike naweek op SA paaie

Verlede jaar is 510 mense oor die Paasnaweek op die land se paaie dood, ʼn styging van 14% in vergelyking met die vorige jaar se syfer.

Vusi Mona, woordvoerder vir Sanral, het ʼn beroep op motoriste gedoen om by die spoedgrens te hou, gereeld te rus en om nie met jou selfoon te peuter terwyl jy bestuur nie.

“Die nasionale en provinsiale padnetwerk is ʼn veilige omgewing en as motoriste hou by die padreëls en verdraagsaam en bedagsaam teenoor ander motoriste is, behoort ons die onaanvaarbaar hoë getal dodelike ongelukke op ons paaie te verminder,” het Mona gesê.

Altesaam 430 noodlottige ongelukke is verlede jaar oor die Paasnaweek aangemeld.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) het ook ʼn beroep op motoriste gedoen om verantwoordelikheid vir padveiligheid te aanvaar.

“Vir die meeste Suid-Afrikaners lyk die 14 000 sterftes wat jaarliks op ons paaie aangemeld word, na iets wat niks met hulle te doen het nie. Ongelukke kos die land se ekonomie amper R143 miljard en maak die omvang van die probleem veel duideliker. Ons glo werklik dat die gebrek aan padveiligheid in ons land ʼn nasionale ramp is,” het die AA in ʼn verklaring gesê.

Die AA het gesê Suid-Afrikaners het ongevoelig geraak oor padsterftes en steur hulle nie veel aan die feit dat die land een van die hoogste padsterftesyfers ter wêreld het nie. “Te veel padgebruikers – voetgangers en motoriste – glo steeds die padreëls geld nie vir hulle nie. Hulle het ook die misleidende opvatting dat hulle beter bestuurders as ander is en dat niks sleg hulle of hulle families gaan oorkom nie. Tensy daar ʼn bewustelike poging van alle padgebruikers is, gaan ons sterftesyfers net styg.”

Wetstoepassing

Wetstoepassers word die naweek ook in groot getalle landwyd ontplooi.

Die LUR vir polisie, paaie en vervoer in die Vrystaat, Sam Mashinini, het gesê daar gaan streng teen oortreders opgetree word. Die Vrystaat grens aan ses provinsies en hanteer jaarliks baie padongelukke én sterftes weens die groot aantal motoriste wat deur die provinsie reis.

Die polisie in Noordwes het gesê misdaad neem in dié tyd gewoonlik toe en polisielede hou veral geïdentifiseerde brandpunte fyn dop.

Die burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, het ook ʼn beroep op mense gedoen om ekstra versigtig op die paaie te wees. “Beamptes van ons verkeersdepartement, metropolisie en ander wetstoepassingsagentskappe word in groot getalle ontplooi om mense te help beveilig. Ons doen ʼn beroep op burgers om hulle samewerking aan dié beamptes te gee,” het Plato in ʼn verklaring gesê.

Die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid het vanoggend reeds begin met verskeie operasies om wetsoortreders op die paaie vas te vat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peet Schabort ·

Wat die AA sê van arrogante bestuurders is waar. Die res is maar net ‘n herhaling van wat telkens gevra word nl. ‘Ons doen ‘n beroep op . . . ‘ Ek is seker swartgallig maar my voorskouing is dat net ‘n wonderwerk dinge kan verander MITS die gesindheid op die pad kan verander wat ook die tekortkominge van die K53 insluit. Ek het in 1960 my bestuurslisensie op ‘n klein plattelandse dorpie Trichardt gekry na slegs AGT dae met ‘n leerlinglisensie en ‘n boekie genaamd ‘Die Padkode van SA’ wat EEN pennie (een sent) gekos het. En raai wat? na 59 jaar is ek steeds ongeluksvry met ‘n hele paar noue ontkomings toe te skryf aan bestuursvernuf wat NIE in K53 aangegee word.
Om te verander aan die gedrag van diegene wat reeds losgelaat is op ons paaie met geen respek vir verkeersreëls en mede motoriste is daar net die volgende:
Gereelde patrollering van ALLE paaie, m.a.w. nie net met langnaweke. (Wonder waar is hierdie wetstoepassers andersins?)
Om kameras (dashcams) te wettig vir vervolging wanneer motoriste hierdie oortredings deurgee na ‘n sentrale punt. (Hierdie voorstel van my val skynbaar op dowe ore). Hierdie ‘dashcam’ maak ook sommer dat jyself ook versigtiger bestuur.
Die afbring van die maks, spoed na 100km/h om sommer dan ook brandstof te bespaar (waarvan die regering nie gaan hou met minder sente uit elke liter).
Gaan maar vir ‘n (gevorderde) kursus soos ek na 58jaar gegaan het by BMW en nog steeds geleer het.

marous ·

Daar is GEEN verkeersbeampte in die Magoebaskloof pas nie ! Sperstrepe en jaag soos duiwels en hulle kom weg daarmee. Pad blokkades naby die naaste kitskos plek beteken niks !

jaco ·

Besige paaie, oor Paasnaweek, maar SA, is in ‘n ekonomiese resessie en petrol is die duurste wat dit al ooit was. Iewers maak iets nie sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.