Besigheidstudies: Matrieks se uitslae nou ondersoek

besigheidstudies-sos-konferensie-2019-01-17

Sowat 120 bekommerde vakonderwysers het op 17 Januarie by Akademia in Centurion byeengekom om ʼn aksieplan te beraam om die radikale verskil tussen matrikulante se jaarpunt en finale uitslag te hanteer. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het vandeesweek met senior amptenare van die departement van basiese onderwys vergader oor klagtes rakende die matriekuitslae in die vak besigheidstudies.

Maroela Media het vroeër berig oor die sowat 120 bekommerde vakonderwysers wat op 17 Januarie in Centurion byeengekom het om ʼn aksieplan te beraam ná daar weer ʼn radikale verskil tussen matrikulante se jaarpunt en finale uitslag in dié vak was.

Die SOS het honderde klagtes ontvang van skole oor die hele land oor die punteverskil wat veroorsaak het dat sommige matrikulante nie meer toelating tot universiteitskursusse het waarvoor hulle aanvanklik met hul gr. 11-uitslae gekeur is nie. Talle skole het ook onverwagse druipelinge in besigheidstudies gehad.

Meer as 1 800 onderwysers, ouers en leerders het die SOS se aanlyn petisie hieroor onderteken. In die petisie word ʼn volledige hersiening van die 2018-matriekuitslae vir die betrokke vak geëis.

Die petisie is Dinsdag aan die departement oorhandig.

Volgens Melanie Buys, onderwysspesialis by die SOS, het die departement sy kommer uitgespreek oor die klagtes en bevestig dat hy ʼn omvattende ondersoek na die oorsake vir die klaarblyklike teenstrydige uitslae begin het.

Dit behels onder meer ʼn ondersoek na die inhoud van die vraestel, die merkproses en die manier waarop die punte opgetel en in die stelsel ingevoer is.

“Ons is tevrede dat die departement erns maak met die saak en ʼn indiepte-ondersoek doen,” sê Buys.

“Ons sien daarna uit om die verslag te lees en hoop die departement kan die vinger op die probleem lê sodat dit opgelos kan word voor die aanvang van die 2019-matriekeksamen.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement, het bevestig dat die vak se matriekuitslae tans ondersoek word.

“Ons voorlopige ondersoeke kon geen foute in die eksamineringsproses uitwys nie. Die departement moet dus nou verdere ondersoek instel om vas te stel of daar iets iewers skeefgeloop het.

“Dit is moeilik om te bevestig wanneer die ondersoek presies afgehandel sal wees, maar ons wil nie die proses afjaag nie,” het Mhlanga gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

M ·

Jip. Ek dink hier gaan iets leliks uitkom ….. Kom ons wag en kyk

Hessie ·

Ja nee dis nie net die Besigheidstudie wat so verkeerd gemerk is nie

Bekommerde ouer ·

Is die memorandum duidelik genoeg vir al die nasieners wat insig vrae moet verstaan en daarvolgens merk? Dit is n vraag wat niemand nog kon beantwoord het nie.

Louis ·

Ek glo nie dit sal baie moeilik wees om die oorsaak vas te stel nie. Ondersoek moet net gedoen word na die evaluering by sommige skole en tweedens na die merkproses na die eksamen. Ek was al betrokke by die merk van matriek antwoordstelle en het gesien hoe daar deur sekere merkers met antwoordstelle omgegaan word. Vir sommige van die merkers gaan dit oor die aantal vraestelle wat gemerk word en nie om die kwaliteit van die merkwerk nie.

humor ·

O aarde hulle wil nie die proses afjaag nie. Volgens Afrikatradisie sal daar dus lank gewag moet word.

Punte ·

Net soos met grond hervorming net so word die punte ook seker her verdeel

Vorige jaar ·

Hulle moet dan 2017 se matriek uitslae vir Besigheidstudies ook ondersoek… daar was beslis ook n probleem met die uitslae, wat kinders benadeel het.

Ronelle ·

Dankie SOS vir julle moeite en bereidwilligheid om namens skole, onderwysers, leerders en ouers hierdie saak verder te vat en nie op te gee nie. Ons waardeer julle!

IK ·

En so is die jaar vir sommige matrikulante seker ook in sy peetjie in maar moenie worrie want die laaste 25 jaar het daar ook nie veel gebeur of . . . ?

Henrico ·

Dieselfde het gebeur met Huishoudkunde in 2000 en ek vermoed dit is dieselfde tante….slegs handboek wat in haar skool is,is gebruik vir memo en sy wou geen ander antwoorde aanvaar nie…huishoudkunde onderwysers wat gemerk het,het my uit memobespreking gebel om oor haar onverbiddelikheid te kla om aanpassings te doen en die meer nuwe boeke se antwoorde by te voeg….sy het ook slegs sekere onderwysers aangestel om te merk………die tante soek glad nie die meer “welgestelde” skole nie….u kan maar my storie opvolg of kontak my…..ek was in beheer van die merksentrums van die Oos Kaap en ook van uitstaande matriekpunte….Mooi dag

PIPPIE LANGKOUS ·

“Ons wil nie die proses afjaag nie”, se Mhlangu. OMW!!! Hier kom weer een laaaaang ondersoek soos daai polisie-ondersoeke waar DNS uitslae 3 jaar vat om afgehandel te wees.

2017 mamma ·

Ek stem saam! My dogter se hele jaargroep se punte het met 20% geval. Haar eie punte geval van in die 80% na 60%.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.