Besigheidstudies: ‘Stappe gedoen om nog ʼn 2018-slagting te voorkom’

Argieffoto

Verskeie stappe is die afgelope paar maande gedoen om te verseker dat die 2019-matriekeksamen vir besigheidstudies nie dieselfde beroerde uitslae lewer as in 2018 nie.

Volgens inligting wat die Skoleondersteuningsentrum (SOS) ontvang het, het die departement van basiese onderwys verskeie maatreëls ingestel om ’n herhaling van die 2018-matriekuitslae vir besigheidstudies te voorkom.

Die SOS het Woensdag besigheidstudies-onderwysers in Centurion toegespreek om terugvoer te gee oor vordering met betrekking tot die uitslae van die vak. Onderwysers het ook wenke ontvang oor hoe om voor te berei vir die 2019-eindeksamen.

Die SOS het die departement in Januarie genader nadat verskeie klagtes oor die uitslae vir die 2018-eindeksamen ontvang is. Van die land se topskole het skielik talle druipelinge gehad en leerders wat gewoonlik onderskeidings behaal, het hul beurse of universiteitskeuring verbeur weens power besigheidstudies-uitslae.

Die SOS het ’n ondersoek aangevra na die saamstel en merk van die besigheidstudies-vraestel. Die departement se interne ondersoek het egter geen van die SOS se bekommernisse aangeraak of kernvrae rakende die vraestel en merkproses beantwoord nie.

Intussen het die SOS se eie ondersoek bevind dat sowat 80% van die vraestel woord vir woord met die departementele hulpgids Mind The Gap ooreenstem. Hierdie hulpgids was slegs in Engels en aan gr. 12-leerders in onderpresterende skole beskikbaar gestel. Gevolglik het die SOS ’n onderwyser van Noordwes ingespan om Mind The Gap vir besigheidstudies in Afrikaans te vertaal.

Die SOS het Woensdag gratis eksemplare van Mind The Gap beskikbaar gestel aan onderwysers wat die seminaar bygewoon het. Dit is beskikbaar op die SOS se webwerf aan lede van die Afrikaanse Handelsvakvereniging.

Vordering is ook sedert Januarie gemaak met betrekking tot die merkproses van die NSS-eksamen en die opstel en moderering van die besigheidstudies-vraestel.

Daryl Franks, hoof van Oakridge College in Durban, het verskeie vergaderings met amptenare van Umalusi en die departement belê, nadat net drie van sy 80 matrikulante wat besigheidstudies in 2018 geskryf het, geslaag het.

Volgens Franks het ’n senior beampte van die departement van onderwys hom vertroulik verseker dat die departementele eksamenpaneel verantwoordelik vir besigheidstudies vanjaar ontbind is en dat ’n nuwe paneel aangestel is om toesig te hou oor die 2019-matriekeindeksamen vir dié vak.

“Die proses waarvolgens onderwysers aansoek doen om eindeksamen-vraestelle te merk, is ook aansienlik aangepas om te verseker dat bevoegde, gekwalifiseerde en ervare onderwysers as merkers aangestel word,” het Franks gesê.

Onderwysers moet nou minstens drie jaar ervaring in die onderrig van besigheidstudies hê en vaardig wees in die taal waarin hulle merk. Volgens Franks was baie van die merkers in 2018 nie besigheidstudies-onderwysers nie en kon nie die taal waarin hulle gemerk het, behoorlik verstaan nie.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding aan die SOS, het gesê dié stappe is bewys dat die departement besef daar was fout met die 2018-eindeksamen, al sal hulle dit nie openlik erken nie.

Umalusi het boonop beloof om binne die volgende paar weke ’n vergadering met dr. Mafu Rakometsi, die hoof van Umalusi, aan die SOS toe te staan om bogenoemde klagtes en die pad vorentoe te bespreek en te verseker dat die geskiedenis hom nie herhaal nie.

Die SOS het intussen gesê hy is bewus van probleme met die memorandum en vertaling van die 2019-rekordeksamen vir besigheidstudies wat Gautengse leerders Maandag geskryf het en dat hy ondersoek instel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hannetjie ·

Ag nee…nou eers!..Hallooooo…eindeksamen begin binne weke.Dit is nie verskoonbaar nie…so…sekere skole was weer bevoordeel.Daar was genoeg tyd om dit al in die eerste termyn te kon aanspreek.Swak….uiters swak hanteer

Iens ·

Dis net te erg! Hulle erken dat mense wat nie die taal magtig was nie, maar hulle merk daardie vraestelle! Ons land se onderwys is ook besig om te sink, heeltemal te sink. Voel jammer vir kids wie se toekoms verwoes of benadeel is deur n onbevoegde onderwysdepartement.

LHS ·

Noem dit by die oorsaak. Onbevoegde, onkundige, amptenare, opstellers, merkers maar veral die wat aan die stuur van onderwys staan. Hierdie sal nooit kan verbeter nie omrede algemene bekende redes. Ongelukkig kom soortgelyke wanorde in alle departemente voor.

hannelie ·

Ons het nog geen terug veering gehad oor my dogter se hermerk laas jaar nie. So net mooi niks word gedoen oor daai punte en die fout wat gemaak is deur die departement nie. Dit is mos nou maar fine dat die kinders swak gedoen het en baie van hulle nie kon aansoek doen vir universiteit oor daai fout nie. Maar dis mos lekker in Suid Afrika.

Onregverdig ·

Ja ! Soveel moeite word gedoen met 2019 se matriek leerlinge ! Maar wat van die 2018’s wat hul beurse en keurings geleenhede verloor het as gevolg van die departement se onbevoegdheid .. Ek onthou dat Solidariteit ondersoek ingestel het. Kan ons 2018 ouers dalk terugvoer kry oor hoe en of die proses vorder ? Soveel moeite word nou gedoen met opstel, merk ens. Maar baie kinders wat hard geleer het moes die spit laas jaar afbyt. Baie onregverdig !

jakes ·

Ek stem saam dat meeste onderwysers onbevoeg is om die vak aan te bied. Meeste studente het gesukkel met die vraestel.

adri ·

My dogter het in 2017 met 6 hoë onderskeidings gaan skryf, en net EEN behaal met finale eksamen. Al haar finale punte was tot 20% minder as haar opstuurpunte gewees.
Dit beteken dat sy letterlik elke vraestel wat sy geskryf het, gedruip het. Hoe? Sy het ook beurse verloor en het gevoel haar harde werk was verniet gewees. Haar verlore 20% ‘ e is na iemand anders toe.

Lau ·

Dit is so frustreerend. My dogter het ‘n 70% average gehad vir haar Besigheidstudies, selfs in haar rekord eksamen. Haar punt met eind-eksamen 32% . En glo my sy het ure se studie tyd ingesit. As sy nie het nie sou dit dalk makliker gewees het om te aanvaar. Hoe die hemel is dit moontlik? Jou rekord eksamen is normaalweg ‘n goeie indikasie of jy jou werk ken of nie en of jy jou sokkies moet optrek.

Jy kan nie so groot val nie. Daar is iets BAIE groot fout. En dit word net geignoreer. Hulle wil nie erken nie EN wil ook nie reg maak nie. Dit is onaanvaarbaar!!! Hoeveel leerlinge het beurse verloor of aanvaarding in die rigting wat hulle wou studeer het.

Maar ons mensdom moet mos maar net als aanvaar.

Onregverdig ·

2018 Slagting ! Dis presies wat dit was ! Kinders wat hard geleer het moes tevrede wees met swak punte. Alles deur die departement se onbevoegdheid ! Nou word 2019 matrieks gehelp. Wat van die 2018’s ??
Solidariteit wat gebeur met die klagte wat jul ingesit het ?
So onregverdig !

KDT ·

En nou se hulle daar was ook ‘n probleem met die 2019 rekord eksamen vraestel!!!!

Krummel ·

Daar is ‘n oplossing, maar nee ons mense kan en wil mos nie saamwerk nie. CVO skole is mos melaats. Gelukkig sal Privaatskole nog blom vorentoe, want hierdie situasie gaan nog onhoudbaar word. Dis nog maar net die begin van hierdie nagmerrie rondom die nasien van Matriek vraestelle. Ek kan bevestig wat daar gese word van Mind the Gap in die artikel. ‘n familielid van my se dogter is ook tans graad 12. Sy is onlangs van leermateriaal voorsien wat op die laaste nippertjie in AFRIKAANS vertaal moes word en het die volgende dag ‘n toets daaroor geskryf. Onnodig om te se dat die kinders onmoontlik deur die sowat 30 bladsye waaroor hulle toe moes toets skryf , kon werk. Meeste van die kinders het net deur ‘n paar blaaie kon werk. ‘n taak van onmoontlikheid.

Naomi ·

So die Afrikaanse Mind the Gap boek is beskikbaar gestel slegs vir Afrikaanse Handelsvak Vereniging lede?
Waar kry die jaar se Gr12’s wat uit die boek moet leer die boek in die hande betyds om nog te kan leer vir besigheids?

Juffie ·

Ag liewe hemel, hulle kan vir hulle die memo gee om te leer en dit sal nie help nie. Sommige leerders WIL NIE leer nie, miskien moet hulle net op die vraestel sê skryf jou naam en van op – That’s it!

ISOBEL ·

Dis net baie sleg vir die 2018 matrieks wat so hard gewerk het vir hul onderskeidings en nou word daar net niks aan dit gedoen nie. Dit was een van my kind se seker onderskeidings en dit gemis na sy al die ander eksamens 95 + % gekry het. En boonop benadeel dit hul in die toekoms ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.