Beskerm jou kind só teen molestering

dogter-meisie-skaam-luidmilakot

Foto: LuidmilaKot/Pixabay.com

Een uit elke drie kinders meld in hul leeftyd blootstelling aan seksuele mishandeling aan. Net minder as 400 000 Suid-Afrikaners jonger as 17 is in 2015 seksueel mishandel.

Dié gegewens kom uit ʼn verslag wat die Universiteit van Kaapstad verlede jaar uitgereik het. Dit is die eerste verslag van sy soort in Suid-Afrika oor die jaarlikse nasionale statistiek van seksuele misbruik van kinders.

Dit is waarskynlik elke ouer se grootste vrees en ʼn mens wonder wat kan gedoen word om jou kind te beskerm.

Dr. Tobi Adeyeye Amosun, ʼn Amerikaanse kinderarts en ma, het onlangs ʼn Facebook-inskrywing gedeel waarin in sy verduidelik wanneer, waar en wie moontlik jou kind kan molesteer. Sy het dié inligting uit haar persoonlike ervaring saamgestel en maan ouers wêreldwyd om dié raad en inligting ter harte te neem.

“Ek sien minstens een tot twee kinders per maand wat seksueel mishandel of gemolesteer is. Ek gee aandag aan die volgende aspekte in die lig van die mees algemene scenario’s wat ek al teëgekom het,” het Amosun geskryf.

  1. Die plek waar mishandeling en molestering plaasvind is gewoonlik ʼn bekende plek

Voorvalle van molestering vind meestal by bekende familie en vriende plaas. Oortreders se ouderdomme wissel van jong tieners tot volwassenes. Volgens Amosun is dit byna altyd ʼn neef, familievriend se ouer, broer, oppasser, pa of stiefpa, oom of ʼn ma se kêrel wat ʼn molesteerder is. “Dit is soms ook ʼn vrou, maar dit kom minder voor. Dikwels berei (“groom”) die vrou ʼn kind vir die oortreder voor,” het sy gesê.

“Ongelukkig is kerke se jeuggroepe die tweede algemeenste plek waar voorvalle van molestering voorkom. Dit gebeur gewoonlik omdat daar minder toesig is. Skole, kampe en sportoefening is van die ander plekke waar molestering ook algemeen voorkom, maar dit gebeur aansienlik minder hier tensy die kinders toegelaat word om alleen saam met ʼn afrigter of onderwyser te wees.”

Amosun beveel aan dat ouers skole, afrigters en kerke moet vra wat hulle veiligheidsplanne is om kinders teen hierdie soort voorvalle te beskerm. “Dit is ongelukkig nie ʼn perfekte plan nie, maar ek voel minstens hulle weet dat die ouers bewus is en dit help almal om verantwoordbaar te wees.”

  1. Oorslaappartytjies / pajamapartytjies

“Hierdie is beslis ʼn sensitiewe onderwerp. My dogter het ʼn uitgesoekte paar vriendinne – eintlik net vyf gesinne – se huise waar sy mag oorslaap. Sy mag nooit oorslaap by ouers wat ek nie besonders goed ken nie, wat eintlik beteken sy mag glad nie oorslaap by haar skoolvriendinne sy huise nie.

“Ek laat haar ook nooit toe om oor te gaan slaap as dit ʼn groot groep vriende is wat bymekaar kom nie. Die kans is net te groot dat ʼn kind afgesonder word sonder dat dit opgemerk word.”

Net te veel van Amosun se pasiënte sê hulle is vir die eerste keer by só ʼn partytjie betas of aan pornografie blootgestel.

“Ek kry net een kans om my kind groot te maak en ek is eerder ʼn nare ouer wat my kind se pret bederf, as dat my kind deel van die statistiek word,” het sy gesê.

  1. Gebruik die toepaslike anatomiese terme vir liggaamsdele

Oë is oë en knieë is knieë en daarom is ʼn penis ʼn penis,” het Amosun gesê. “Moet asseblief nie oulike vae name gebruik soos “meneertjie”, “wee-wee” of “koekie” nie. Dit bemoeilik die saak indien ʼn voorval gerapporteer moet word. Deur die korrekte terme te gebruik word die liggaamsdele ook nie gestigmatiseer nie.”

  1. “Veilige aanraking” versus “slegte aanraking”

Amosun sê ʼn ouer moet verseker dat sy of haar kinders die verskil tussen die soorte aanraking ken.

“Ek leer my kinders dat ʼn mens aan jou mag raak op plekke wat nie deur ʼn swembroek bedek word nie soos byvoorbeeld jou skouers, kop of hande en voete. Hierdie soort aanraking laat jou ook veilig en ontspanne voel, soos ʼn drukkie van jou mamma.

“Slegte aanraking gebeur gewoonlik op plekke wat deur jou swembroek of onderklere bedek word. Hierdie soort aanraking laat jou ook senuagtig, bekommerd of bang voel. ʼn Kind moet altyd ʼn ouer of volwassene vertel indien ʼn ouer persoon hulle aanraak op ʼn manier wat hulle ongemaklik laat voel.”

Sy beveel aan dat ouers ook hulle kinders leer dat daar nooit geheime tussen kinders en volwassenes is nie en dat hulle nooit in die moeilikheid sal kom indien hulle iemand iets vertel nie.

“As ʼn kind sê iets het met hulle gebeur moet jy hom of haar glo. Kinders vertel leuens om uit die moeilikheid te bly, maar hulle wil nie in die moeilikheid kom nie. As ʼn kind uitgesonder of voorbereid word vir seksuele molestering dink hulle hulle gaan in die moeilikheid kom. Daarom kan jy ʼn kind glo as hulle jou iets hieroor vertel.”

kind-beskerming-pexels

Foto: Pexel/Pixabay.com

  1. Stranger danger” is meestal ʼn leuen

In die meeste gevalle word ʼn kind gemolesteer deur iemand wat die gesin ken. Amosun waarsku dat ouers veral moet uitkyk vir voorbereidingsgedrag of sogenaamde “grooming”.

“Dit kan ʼn volwasse man of vrou wees wat hulle in die kind en gesin se lewe inwerk om die familie minder waaksaam te maak. Gewoonlik sal hulle poog om ʼn vertrouensverhouding met die gesin te skep en soek geleenthede om alleen saam met die kind te wees. Hulle doen dit sodat enige beskuldigings van molestering soos ʼn leuen sal lyk.”

  1. Waarna kyk jou kinders op slimfone en tablette?

Amosun vra dat ouers juis waaksaam moet wees in gevalle waar vriende se ouers dalk nie so versigtig met internetgebruik is nie.

“Ek sê gewoonlik vir ouers van kinders wat aan die begin van hulle tienerjare staan dat hulle hul kind se internetgebruik moet en mag monitor vir solank as wat hulle daarvoor betaal. Dit is elke ouer se verantwoordelikheid om hulle kind se aktiwiteite op sosiale media te monitor, asook enige vorm van elektroniese boodskappe. Daar is soveel slim maniere waarop ʼn kind sy of haar aktiwiteite op die internet kan versteek en daarom moet ouers ekstra versigtig en op die hoogte van die jongste tegnologie wees.”

  1. Vertrou maar altyd jou instink as ouer

“As iemand vreemd optree, of maar net te vriendelik met jou kind is, kan jy maar vertrou dat jou ongemaklike gevoel hieroor in die kol is. Jy kan en moet jou kind uit die situasie verwyder waar hulle moontlik alleen saam met die persoon kan wees. Moenie verplig voel om beleefd te wees nie,” het Amosun gewaarsku.

“Ek wens ook dat ek my kinders vir altyd teen alles wat hulle kan seermaak beskerm, maar ek kan hulle nie in ʼn kokon van veiligheid toesluit nie. Ek hoop egter dat hierdie paar praktiese wenke ouers sal help om hul kinders veiliger te laat voel en ook ʼn paar gevaarlike situasies vir ouers uit te lig.

“En as jy wonder wanneer jy met jou kind hieroor kan begin gesels, ons begin gewoonlik hierdie gesprek in ons gesin as die kind drie of vier jaar oud is,” het Amosun gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

kai van heerden ·

Wonderlike raad! Sy weet beslis waarvan sy praat. Sulke inligting moet by alle skole beskikbaar gemaak word aan kinders en ouers
Deesdae se ouers moet meer as ooit bedag wees op die gevare waaraan hulle kinders blootgestel is.

JacquesVH ·

Vir n jong ouer soos myself, is die baie goeie raad. Ek sal dit met almal wat ek ken deel en ook seker maak almal weet dat ek dit gelees het en een stappie voor die res van die familie en vriende nou.

Piet Pompies ·

Ons het ‘n onderwyser op laerskool gehad wat ons as seuns altyd gedwing het om te gaan stort by die storte sonder mure nadat ons oefeninge gedoen het.
Dan het hy na die tyd almal bymekaar geroep en klom snert met ons gepraat terwyl ons kaal was.
As kind het dit my nie gepla maar as pa van my eie kinders en oupa van my kleinkinders besef ek dat mense ‘n beroep sal kies om hul seksuele voorkeure uit te leef.

wilma ·

Ek het n ouvrou rapporteer wie n kind naweke vanaf gestremde skool na ha huis laat kom het maar die kind was dan naweke alleen by n psigopaat. Sy was bevriend met di psigopaat. Dadels van gekom. Kind uiteindelik by Sielkundige en ouvrou verhuis baie vinnig nadat Kinderbeskermings Eenheid se Kaptein by ha verklaring afneem. Sies walglik maar ouvrou hier opi dorp almal se liefling. Inwoners met oogklappe

Alida ·

Pedofiele is slinks en skelm en gee voor hulle is hierdie voorbeeldige mense en gewoonlik die liefling in die gemeenskap en die voorsangers in die kerk. Leer jou kind van kleins af om aan niemand haar liggaam te wys nie. Nie haar pa, stiefpa, broer, oom, oupa of enige ander mens nie. In die meeste gevalle het hulle bymotiewe en maak beloftes aan die kind. Hulle is vieslik.

WP ·

Alida,

Jy moet nou mooi dink wat jy hier se. Ek is n enkel ouer. Hoe moet ek dan vir my dogtertjie sorg as jy sulke stelling maak? Kinders word nie net gemolesteer deur die manlike geslag nie hoor.
Ek weet van gevalle waar kinders deur ouer meisies en vrouens gemolesteer is. Dink daaraan voor jy se alle Pa’s is vieslik!!

Ek sal enige iemand baie baie baie groot leed aan doen as dit met n kind moet gebeur waar ek naby is.

Nie te min, baie goeie berig en raad.

Joey ·

Sjoe Alida? Jy veralgemeen mos nou!!!

Daar is hordes pappas wat hulle kinders self moet groot maak en dan ook ‘n goeie werk daarvan maak.

Moet ons nou alle mans onder dieselfde kam skeer?

Dis net so goed jy veralgemeen en se alle vrouens met die naam Alida is siniese ou tannies wat ander af kraak ? Ongelukkig kan ek nie want die Alidas wat ek ken het darem bietjie common sense

Ai tog.. ·

As kind is ek gemolesteer en alhoewel ek oor die jare vrede gemaak het daarmee bly dit vandag een van my grootste vrese wat dalk met een van my 2 seuntjies kan gebeur. Ek vrees dat wanneer my oudste seuntjie oor n jaar skool toe gaan dat iemand hom dalk leed kan aandoen, ek besef dat ek hulle nie in ‘n glas kas kan hou nie maar kind bly tog kind hulle floreer op aandag en daar is dan altyd groepsdruk. Ek het ‘n baie goeie verhouding met my kinders maar my vrese as mamma is soo ongelooflik groot. Die lewe is een siek deurmekaar spul, hoe beskerm mens ooit tenvolle jou kinders van misdaad, politiek en al die aaklige kante van die lewe…

Bolander ·

Baie goeie artikel. Op laerskool het ons ‘n Sondagskoolonderwyser gehad wat ekstra Sondagskoolklasse aangebied het?!! Dit was in die jare 80’s en nie een van ons ouers het op daardie stadium iets vreemds daarvan gedink nie. Ek was nog baie jonk en kan nie meer veel onthou nie. Ek onthou net dat die mooiste dogtertjies uitgesoek is deur die onderwyser en alleen saam met hom is na ‘n vertrek toe. Niemand het ooit ‘n woord daaroor gesê nie en ek weet tot vandag toe nie wat in daardie vertrek gebeur het nie. Op daardie ouderdom was ek nogals in die gesig gevat omdat die oom my nie gekies het nie, maar vandag is ek bitter, bitter dankbaar. Ouers, vertrou julle instink. Omies of tannies wat te graag met die kindertjies speel, te vatterig raak, kinders vir alleen kuiers genooi word. Jammer as ek dalk paranoies klink, maar dit is die tyd waarin ons lewe. Wees versigtig en moeders, vertrou jou sesde sintuig. Dit is ‘n gawe van God af.

Spoor hulle op ·

Spoor jou maatjies van daardie tyd op en laat julle daaroor praat. Reg moet geskied. Die persoon kan nog verantwoordelik gehou word al was dit baie lank terug.

Bosvelder ·

Wens ek kon die artikel 3 jaar terug gelees het. Ook net ‘n naïewe ma gewees wat nie gedink het ‘n goeie vriend sou kanse vat of iets aan my kinders probeer doen nie. Die artikel is heeltemal akkuraat as ek moet terug dink aan daardie tyd. Let ook op as jou kind nou en dan ‘n geskenkie kry al is dit net ‘n sjokolade. Hierdie mense is siek gewetenloos en lieg tot jy begin twyfel of jy dalk verkeerd kan wees! Luister vir jou kind. As ek nie het nie kon dit baie ver gegaan het. Wees wakker! Ek het gedink ek was

Skapie ·

Ek het my kinders oor alles gewaarsku. Behalwe hul eie pa. Ek wonder hoeveel ma, s doen dit

Rou ·

Ek is self as kind gemolisteer deur my ouer broer. As pas getroude is ek benoud om kinders in hierdie siek lewe te bring. Ek wens my ouers het die berig 18 jaar terug gehad om te lees dan sou ek vandag dalk vry gewees het.

Alida ·

Ek kraak nie alle pa’s af nie. Indien jy ‘n “gesonde” pa is sal jy my kommentaar verstaan. Leer jou kind wat ek hierbo aanhaal. Mens kan niemand vertrou nie vroulike persone ingesluit.

Sam ·

Mens lees en verstaan die artikel en nou word ALMAL met opgetrekte wenkbroue aangekyk wat nooit kinders gehad het nie, deur mense wat hulle in hierdie BOKSIES plaas.

Ek het nie kinders nie, maar ek was al so skeef aangekyk as ek vir my vriendin se kinders ‘n klein ietsie koop vir bederfie. Weet julle dat daar mense is wat graag klein geskenkies gee aan kinders omdat dit hulle leemte vul? Kyk asb met gesonde oë na die hele situasie. Ek het al soveel kyke gekry. Kinders is lief daarvoor om na my te hardloop en in my arms in te spring vir rondomtalie draai. Soms kry ek KWAAI kyke en dit maak seer, veral omdat ek op ‘n gesonde wyse aan kinders vat, as ek hulle optel. Mens moet so versigtig wees deesdae , want as mens net ‘n mooi ou kindergesiggie sien en vir hulle glimlag, is dit verkeerd.

Sterkte aan die ongetroude , ooms en tannies wat op die opregte manier betrokke wil wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.