Beskerm jouself só teen grypdiewe en kapers

Argieffoto

Argieffoto

Die Automobiel Assosiasie (AA) het motoriste gewaarsku om waaksaam te wees vir grypdiewe en kapers.

Volgens die AA was daar onlangs ʼn toename in kapings en het die vereniging om dié rede wenke beskikbaar gestel vir motoriste om hulself en passasiers veilig te probeer hou.

Die AA meen dit is baie belangrik om kalm te bly tydens so ʼn situasie en des te meer as daar kinders in die motor is, selfs al is dit traumaties. “Dit is nie altyd moontlik om te verhoed dat jy geteiken word nie, maar indien jy kalm bly, verloor jy dalk minder. Moenie probeer om ʼn held te wees nie. As iemand ʼn vuurwapen teen jou kop hou, is dit beter om te doen wat die persoon wil hê. Verduidelik dat jy kinders in die motor het en klim so gou as moontlik saam met jou kinders uit. ʼn Motor kan vervang word, maar jou en jou kind se lewe nie.”

“Die belangrikste is om ingelig te wees waar die meeste motoriste geteiken word,” meen die AA. “Vermy daardie plekke, veral saans. Die maatskappy C-track, wat motors monitor, het onlangs ʼn lys uitgegee van plekke waar die meeste kapings plaasvind.”

Die AA gee hierdie wenke:

  • Bly gefokus op die pad en moenie afgelei word deur elektroniese toestelle nie.
  • Wanneer jy stilhou, kyk rondom jou vir gevaar en hou genoeg spasie tussen jouself en die voertuig voor jou sodat jy kan probeer wegjaag indien iets gebeur.
  • Moenie enige waardevolle items in jou motor laat waar dit maklik gegryp kan word nie.
  • Beplan jou roete en vermy areas wat jy nie so goed ken nie. Kyk voor die tyd op jou kaart of GPS-toestel waar jou bestemming is.
  • Wanneer jy gekaap word, hou jou hande ten alle tye sigbaar en gehoorsaam alle bevele. Verduidelik ook wat jy gaan doen, byvoorbeeld: “Ek gaan nou myself los maak,” of “ek gaan nou die deur oopmaak.”
  • Moenie argumenteer met die kaper nie.
  • Maak seker jou voertuig is in ʼn goeie toestand en dat jy genoeg brandstof het. Wanneer jy langs die pad gaan staan kan jy makliker ʼn teiken word van kapers.
  • Hou motordeure altyd gesluit.
  • Vermy dit om alleen rond te ry, veral saans.
  • Wanneer jy by die huis is, kyk rond vir enige ongewone voertuie of verdagte voetgangers.
  • As jy vermoed dat jy agtervolg word, ry na die naaste polisiestasie.
  • Meld enige voorval so gou as moontlik aan by die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Xavier ·

Ai…-sug-…dat ons nou al so moet lewe. Ons, belastingbetalende, wetsgehoorsame landburgers wat agter slot en grendel moet bly. Ons wat met vrees en ekstra waaksaamheid moet leef as ons onse veyheid van beweging wil uitoefen…en dit als sodat die krimineel sy vryhede van beweging (moord, roof en diefstal) kan geniet!

Liza ·

Nee wat. Ek dink in elke plek in die wêreld is dit goed om wakker te wees en te kyk wat rondom jou aangaan. Dit is glad nie in ‘n tronk lewe nie. Goeie wenke, sinvolle wenke.

Carel ·

En waar is die areas waar kapings gedoen word, kan Maroela dit nie maar publiseer nie?

Ja nee ·

Baie dankie vir die goeie wenke maar hoekom moet n mens die krimeneel se bevele gehoorsaam? Dis nie regverdig teenoor ons eerlike landsburgers nie. Ek voel dat krimenele meer vas getrek moet word en strenger strawwe op hulle moet togepas word op hulle en hulle moet uitgewis word sodat die mense in vrede en veiligheid kan saam leef in n land. Is daar nie n manier om hierdie krimenele vas te trek sodat hulle kan boet vir hul dade nie?Net my opinie.

BMW-bestuurder ·

Dit is maklik om hier te skryf “verduidelik dat jy kinders het en klim so gou as moontlik saam met jou kinders uit”. Ek het al 100de kere myself probeer indink hoe ek sal reageer as so iets met my moet gebeur en my dogtertjie van 6 is by my in die kar. Sy sit uit die aard van die saak agter en sy is vasgegordel. Hierdie “hi-jackers” is haastig en uiters agresief. Hulle stel nie belang in jou “verduideliking” nie. Probeer jy dalk jou kind self uit die motor haal word julle dalk albei geskiet? Wat van mammas met baba’s in karstoeljies? Die baba’s kan nie hulself losmaak en uitklim nie. Hoe tree mens op om jou kind en jouself veilig uit die motor te kry sonder om geskiet te word???????????

Justice ·

Ongelukkig kan jy nie met oorgehaalde `n 9 mm pistool teen jou kop redeneer indien jy verras word nie. Sluk jou trots, vergeet van enige vorm van agressie, wys jou hande, luister wat hulle vra tussen al die vloekery deur, wees bedees en die minste, indien jy moet praat doen dit rustig in `n kalm stemtoon en wat jy ookal doen moet net nie oogkontak maak nie of in die kattebak klim nie. Bo en behalwe genade van bo mag hierdie aksies dalk bygedra het dat ek ongeskonde uit `n agressiewe motorkaping kon wegstap. Die motorversekering het die res gedoen.

Jan S ·

Mense wat al hierdie goed doen word ook doodgeskiet – jy is heeltemal oorgelaat aan die misdadiger se genade as jy net saamspeel. En elke insident is anders, maar ek gaan nie soos ‘n hanslam slagpale toe gely word nie, as ek ‘n wapen by my het en ‘n redelike kans sien gaan ek ‘n gewapende rower aanvat. Hoe gaan geweld misdaad ooit stop as almal maklike en gewillige slagoffers is en liefies saamspeel? Ons polisie gaan dit beslis nie stop nie, die slagoffers moet. En ons gaan dit net regkry as ons dit so gevaarlik maak vir rowers dat hulle twee keer dink om ons aan te vat.

Alida ·

Die grypdiewe wat jou ruit stukkend slaan doen dit in mìnder as 3 sekondes. Glo my ek weet. As jy in die verkeer sit is daar nie tyd om rond te kyk nie.

E.K. - ek sê net! ·

En die regering se oplossing vir kampings? Sit ‘n bordjie op wat sê “Highjacking hot spot”! Hou ALTYD pepersproei byderhand, dit kan net dalk jou sekondes gee en jou lewe red. ‘n Vriendin met twee jong meisies in die motor se motor het op ‘n hoofweg probleme gegee en 3 gewapendes het haar bestorm en die en die een het die passasiersvoorruit uitgeslaan en sy het hom dadelik met pepersproei gespuit waarna die lafaarde vinnig weggehol het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.