‘Beskerm koopkrag, skrap valutabeheerstelsel,’ vra Solidariteit

Pres. Jacob Zuma wens Lesetja Kganyago geluk met sy aanwysing as president van die Reserwebank op 6 Oktober 2014 Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma wens Lesetja Kganyago geluk met sy aanwysing as president van die Reserwebank op 6 Oktober 2014 Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die vakbond Solidariteit het vandag ’n beroep gedoen op Lesetja Kganyago, nuutaangestelde president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) om die bank weer na sy mandaat te rig om prysstabiliteit te handhaaf. Die vakbond het ook gevra dat die nuwe president van die bank die uitgediende valutabeheerstelsel wat uit die apartheidsjare dateer, finaal sal skrap.

Mnr. Kganyago neem die SARB se leisels oor in ’n omgewing waar die boonste perk van die SARB se inflasieteiken oorgesteek en waarin Suid-Afrikaners ontmoedig word om te spaar asook aanhoudende en beduidende erosie van hul koopkrag, intern en ekstern, ervaar. Die verbruikersprysindeks het oor die afgelope dekade met sowat 6% per jaar gestyg, terwyl Suid-Afrikaners deesdae 80% meer rande benodig as wat in 2004 benodig is om Amerikaanse dollars te bekom.

Volgens Piet le Roux, senior ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het inflasie in die onlangse verlede Suid-Afrikaanse werkers genoop om ’n hoë prys te betaal vir wat in wese eintlik neerkom op verborge belasting.

“Deur inflasie word werkers onderwerp aan verborge belasting wat die voordele wat by die onderhandelingstafel behaal word, erodeer. Deur daarna te streef om inflasie af te bring tot by of selfs laer as die onderste perk van die huidige inflasieteiken van 3% tot 6%, het Kganyago as SARB-president die geleentheid om die las van verborge belasting te verlig. As president van die Reserwebank behoort mnr. Kganyago dit ook te oorweeg om van sy posisie gebruik te maak om ’n afwaartse hersiening van die inflasieteiken te bepleit, soos wat spesifiek by die aanvang van Suid-Afrika se inflasieteikenbestel in 2000 in die vooruitsig gestel is,” het Le Roux gesê.

Die vakbond het ook sy hoop uitgespreek dat mnr. Kganyago die uitgediende valutabeheerstelsel, wat tans ʼn swaar, onnodige administratiewe en finansiële las op Suid-Afrikaners en Suid-Afrikaanse besighede plaas, uiteindelik finaal sal skrap.

Le Roux het bygevoeg dat Solidariteit die nuwe president van die Reserwebank alles van die beste toewens vir die moeilike taak wat voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.