Beskuldigde 16 jaar ná plaasmoord verhoor

Carlo en Peggy van Litsenborgh by hul dogter, Marcelle Lambrechts, op haar troudag. Foto: Verskaf

Carlo en Peggy van Litsenborgh by hul dogter, Marcelle Lambrechts, op haar troudag. Foto: Verskaf

Op 24 September 2000 is Carlo van Litsenborgh (69), destyds ʼn bekende varkboer in die Paarl-gebied in die Wes-Kaap, koelbloedig in sy bed geskiet en met die agterkant van ʼn jaggeweer doodgeslaan. Twee aanvallers het sy vrou, Peggy, aangerand en vasgebind voordat hulle met juweliersware, kontant en ʼn vuurwapen op die vlug geslaan het.

Sipho Mlulo Mvumri is in 2001 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir Litsenborgh se moord. Vandeesweek, byna 17 jaar later, word ʼn tweede beskuldigde, Mzwandile Tukwayo (52), op aanklagte van moord, ontvoering, roof en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie verhoor.

“Jy kom nooit daaroor nie. Jy leer net daarmee saamleef,” het Marcelle Lambrechts, een van die Van Litsenborgh-egpaar se vier dogters, vandeesweek aan Maroela Media gesê. Lambrechts was 32 jaar oud toe haar pa vermoor is. Haar ma is in 2015 oorlede.

“My ma se lewe was na my pa se dood nooit weer dieselfde nie. Sy is terug na die plaas toe, maar sy moes al hul lewende hawe verkoop. Sy het tot op die einde daar [op die plaas] gebly. Sy het gesê hulle het klaar haar man van haar af weggevat, hulle gaan haar nie van haar huis ook beroof nie.”

Peggy van Litsenborgh. Foto: Verskaf

Peggy van Litsenborgh. Foto: Verskaf

Lambrechts het destyds ook op die plaas in ʼn ander huis gebly en het haar ouers te hulp gesnel toe sy die betrokke aand onraad vermoed het. “My pa se hondjie het al die pad van hul huis af gehardloop en aan my deur kom krap. Hy het dit nooit gedoen nie, dus het ek dadelik geweet iets moet fout wees. Ek het die hond in my motor gelaai en na my ouers se huis gery,” vertel sy.

“Ek het gesien die ligte brand en ek het na ʼn buitedeur van een van die slaapkamers gestap. Voordat ek kon ingaan het my ma van binne af geskree ek moet gaan hulp kry. Die aanvallers was toe nog daar. Ek het na ons bure gejaag om hulp te kry. Toe ons terugkom, het die aanvallers klaar gevlug.”

Mvumri is kort na die aanval in hegtenis geneem en die daaropvolgende jaar gevonnis. Die polisie was egter meer as ʼn dekade lank op die spoor van die tweede aanvaller. “Ons kon nog nooit regtig afsluiting kry met die wete dat my pa se moordenaar op vrye voet is nie. Ek het hom allerhande goed toegewens,” sê Lambrechts.

Tukwayo is op 1 Junie 2016 in Germiston in hegtenis geneem. Sy verhoor het vandeesweek in die hooggeregshof in Kaapstad begin. Eric Ntabazalila, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die verhoor sal na verwagting drie weke duur.

Mvumri het ook vandeesweek teen Tukwayo getuig.

“Toe ek vandeesweek daar in die hof sit en luister presies hoe hulle te werk gegaan het, hoe hulle in die gang af gestap het na die kamer toe waar hulle geweet het my pa lê en slaap… ek wou skree, hoekom het julle nie omgedraai nie? Hoekom het julle hom nie net gelos nie?” sê sy en haar stem breek. “Hulle het hom met die jaggeweer wakker geslaan. Die bloed was tot teen die plafon. Maar nee, dit was nog nie genoeg nie. Hulle moes hom in die gesig ook skiet.”

Marcelle Lambrechts (heel regs) saam met haar susters, Belinda Smit en Lizelle Theron. Hul vierde suster, Sonja du Toit, is nie aanwesig op die foto nie. Foto: Verskaf

Marcelle Lambrechts (heel regs) saam met haar susters, Belinda Smit en Lizelle Theron. Hul vierde suster, Sonja du Toit, is nie aanwesig op die foto nie. Foto: Verskaf

Sy sê sy vermoed die aanvallers het haar ouers dopgehou en reeds vooraf besluit om haar pa dood te maak om te verhoed dat hy hom teësit. “Ek dink hulle sou my ma ook doodgemaak het as ek nie daar aangekom het nie.”

Lambrechts sê hoewel sy verlig is dat ʼn tweede verdagte uiteindelik na al die jare aangekeer is, glo sy nie sy sal ooit ten volle berusting kry nie. “Dit sal seker help met ʼn mate van afsluiting as die hofsaak verby is, maar ek dink nie jy verwerk dit ooit regtig nie. Dit raak nie net vir jou nie, dit raak jou hele familie, tot die kleinkinders. Dit is verskriklik om hiermee saam te leef en dan daagliks daaraan herinner te word. Elke keer as jy lees van ʼn plaasaanval, onthóú jy weer. ʼn Mens moet aanbeweeg, maar jy dra dit saam met jou. Elke dag. Jy vergewe, maar jy vergeet nooit.”

Het sy dan haar ouers se aanvallers vergewe? “Ek het vir [Mvumri] vergewe, maar nie [vir Tukwayo] nie. Jy kan nie iemand vergewe wat ontken wat hy gedoen het nie. Ek is nog te kwaad vir hom. Ek het [Mvumri] vergewe, maar nie die daad nie. Dit was te wreed. Ek laat dit aan die Here oor om met hom te werk.”

Vir nou is die kosbare herinneringe van haar ouers haar troos, sê Lambrechts. “Jy beweeg aan, jy kyk vorentoe en jy vind ʼn manier om die seer saam met jou te dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

ada ·

Ai dis swaar. Ek dink aan julle al ken ek julle nie. My ouers is dood aan siektes en dit was erg so ek kan my nie indink waardeur julle moes gaan nie en nog steeds deurgaan

AL ·

Goeie nuus dat die 2de verdagte vasgetrek is. By hoeveel plaasmoorde en huisrowe is hy betrokke?
Hy sou tog weer sy geluk probeer het.

Sputnik ·

Iewers was daar darem ‘n wakker polisieman of twee gewees, al het dit baie jare gesluimer.

johnny ·

Het n huis gehuur by tannie peggy wanneer ek huur betaal het was dit koffie en snoepies dan het sy altyd gepraat van die oom ek sal haar hartseer nooit vergeet nie

johnny ·

Ek het n huis gehuur by tannie peggy wanneer ek huur gaan betaal het was dit koffie en koekies dan het sy net oor die oom gepraat dit is so hartseer sy het als in detail vertel hoe hul die oom vermoor het haar dogters was haar anker in die lewe sonja sterke johnny

Manie ·

Hoe effektief is die polisie as hulle sestien jaar na beskuldigde soek. Dit klink vir my hulle het presies geweet na watter krimineel hulle soek.

MANIE ·

Hoe effektief is die polisie as hulle sestien jaar vat om iemand in hegtenis te neem ?. Dit klink vir my of hulle al die tyd presies geweet het na watter krimineel hulle soek.

Esmay ·

Albert. Ek glo om mense wat aan dieselfde God as ek wel te vergewe. Maar andersins nie….!

Esmay ·

Albert. Ek glo om mense wat aan dieselfde God as ek glo wel te vergewe. Maar andersins nie….!

Slagoffer 1987 ·

My innige meegevoel.
My Oupa is op 13 Januarie 1987 vermoor in die skaapkraal. Aldrie moordenaars/medepligtiges is kort daarna in Atteridgeville vasgetrek. Een het 5 jaar tronkstraf gekry, ander een 10 jaar en die moordenaar 15 jaar. My Ouma het nog geleef toe die moordenaar ten laaste vrygelaat is. Haar woorde sal my altyd bybly: ‘ Nou is die moordenaar van my lewensmaat weer op vrye voet!’

Justice ·

Ons regstelsel is inherent siek – laat hierdie drie nou net `n renoster ipv `n boer geskiet het.

Piet ·

Slagoffer, dit kon al net sowel my gesin gewees het maar die ganade was nog altyd met ons- tot dusver. Jy moet eintlik jou regte naam gebruik want mens moet jou storie vertel sodat almal weet van die onreg, dat daardie monsters weer op straat is. Die rede waarom die Duitsers so effektief was met volksmoord op die Jode was omdat niemand daarvan geweet het nie. Ons moet nie aaneem dat mense weet hoe dit gaan in SA, hulle weet nie en hulle gee ook nie juis om nie, maar eendag as die vonke spat sal almal weet waaroor dit gaan.

Pastoor ·

Dit is ongelukkig hoe die saak nou staan. Voor God se Wittroon oordeel sal n heel ander storie vir hierdie moordenaars wees. Verewig in die vlamme sal ongekende smarte wees vir die kwaaddoeners

Johannes Meintjes ·

Hartseer. Brutaal … en steeds gaan plaasaanvalle onverpoos en ongehinderd voort.

Annie ·

Ek kan nie dink hoe n mense so iemand kan vergewe wat de belangrikste ding in jou lewe van jou ontneem het nie. Ek dink nie 20 jaar tronkstraf is eers genoeg nie … nou wil hulle kom praat oor haatspraak .. wonder hoe sou hulle gevoel hoel as dit hulle ouers was … siellose monsters

christa ·

Ons reg stelel is pateties hul maak die boere dood wat gebeur al die werkers moet gaan want daar is nie meer geld om te betaal nie sit sonder heenkome dit gaan nooit op hou as hul nie die dood straf terug bring nie en Onwettige Imigrante uit hou nie moes nooit eers ons gres poste oop gestel het nie al wat ek weet ons land Suid Afrika is in n Choas.

Catryn ·

Wees weerbaar, wees paraat, en werk daaraan om jouself te beveilig… werk ook aan alternatief, ons het ‘n internasionale reg tot selfbeskikking, die huidige regering en hulle agente voel vir ons niks….

Ons het ‘n reg om te lewe, maar ons is die teiken op alle gebiede. Moorde is grusaam … en soos hier hoeveel het hierdie persoon nie in 17 jaar vermoor nie … gerieflik word (was) hy nie gevang nie … om nog te pleeg …

Ansie ·

Ek is bly hy is gevang. Dink net die vonnis is te lig. Nog 10 jaar by is steeds te min. Sy moet n wonderlike mens wees. Ek weet n mens moet vergewe maar ek weet nie of ek sou kon nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.