Beskuldigde in Groot-Brak-moorde bly makker blameer

Stephen Lekoro

Stephen Lekoro, die beskuldigde in die Human-moordsaak, het vandag in die rondgaande hof in Mosselbaai getuig dat hy wyle Tewie Human een keer met ʼn mes in die bors gesteek het waarna sy meeloper, Thamsanqa Sishuba, Human met ʼn panga oor die kop gekap het.

Lekoro het volgehou dat hy daarna van die toneel weggehardloop het en nie weet wat verder gebeur het nie. Human se lyk en dié van sy vrou, Eurika, is vier dae later gevind. Mev. Human is herhaaldelik met ʼn mes gesteek terwyl sy op haar bed in die egpaar se slaapkamer gelê het.

Sishuba dien reeds twee lewenslange vonnisse uit vir die moorde wat in 2016 in Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap gepleeg is. Lekoro het by die Humans gewerk en het ná die moorde na Lesotho gevlug. Hy is laat verlede jaar in Botshabelo in die Vrystaat in hegtenis geneem.

Die staat het vroeër vandag sy saak gesluit waarna Lekoro se getuienis deur adv. Dawie Scholtz gelei is. Lekoro het deur ʼn tolk vir regter Mark Sher gesê dat hy op die dag van die moorde deur mnr. Human aan die bors gegryp is nadat hy die verkeerde brandstof in die grassnyer gegooi het. Hy het Human toe met die mes gesteek wat op ʼn tafel in die motorhuis gelê het.

Hy het ontken dat hy dieselfde dag R14 000 uit die Humans se bankrekening na ʼn rekening in Maseru in Lesotho oorgeplaas het.

Tydens kruisverhoor deur die staat se adv. Lenro Badenhorst het Lekoro vir elke vraag ʼn verduideliking gehad. Hy het aandagtig geluister en al meer vooroor in die getuiebank geleun tot die tolk later vir hom gesê het om regop te staan.

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Die kruisondervraging het veral rondom getuienis wat verlede week oor selfoonoproepe gelewer is gewentel. Lekoro het vandag erken dat hy baie van die oproepe op die dag van die moorde en die ses dae daarna na ene Tsokolo Maamohe, ʼn Lesotho-burger, gemaak het. Die oproepe het meestal net enkele sekondes geduur.

Lekoro se verduideliking was dat sy foon se lugtyd klaar geraak het toe hy van die eerste oproepe naby die Humans se huis gemaak het. Toe hy daarop gewys is dat hy minute later weer ʼn oproep kon maak het hy gesê dat hy lugtyd by ʼn vriend van ʼn familielid in Groot-Brak geleen het; alles in die tyd wat hy van die Human-huis af weggehardloop het.

Hy het beweer dat hy dringend geld by Maamohe wou leen om uit die omgewing weg te kom omdat hy besef het dat hy in die moeilikheid is.

Maamohe se Lesotho-bankrekening is vroeër die oggend van die moorde gebruik toe daar R14 000 uit die Humans se bankrekening na ʼn Lesotho-rekening oorgeplaas is. Lekoro het gesê dat hy geen kennis van die oorplasing dra nie en dat Sishuba ook die bankbesonderhede van die Lesotho-rekening gehad het. Die bankrekeningnommer is verlede jaar op Lekoro se selfoon gevind nadat hy gearresteer is.

Hy het beweer dat hy by Sishuba ʼn skootrekenaar, ʼn selfoon en R1 800 kontant die aand van die moorde gekry het, maar het gesê hy het nie gevra waar Sishuba dit gekry het nie.

Adv. Badenhorst het Lekoro twee keer direk daarvan beskuldig dat hy vir die hof lieg waarop Lekoro ontkennend geantwoord het.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Klasie ·

Deler is net so goed soos die Steler… tronk toe met julle! Jammer die doodstraf is afgeskaf…

Soekie ·

Ek verstaan Nie hoe jy 2 lewenslange vonnisse vir moorde gepleeg in 2016 kan uitdien en weer moord pleeg in 2019 Nie. Hoe lank is lewenslank Dan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.