Kobus Koekemoer (43) wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy stiefdogter, Poppie van der Merwe, het probeer selfmoord pleeg.
Cobus Ludick, van die ondersteuningsgroep Justice for Poppie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Koekemoer het hom vanoggend uit sy hospitaalkamer gebel. Volgens Ludick deel Koekemoer ʼn hospitaalkamer met iemand wat ʼn selfoon het en hy kon toe só met Ludick kontak maak.
Koekemoer het verlede Donderdagaand reeds probeer selfmoord pleeg. “Hy het vanoggend net gesê hy het sy polse probeer sny,” het Ludick verduidelik.
Koekemoer en Poppie se ma, Louisa Koekemoer (45), moet Woensdag weer in die Brits-landdroshof verskyn in verband met haar dood. Ludick het bevestig Koekemoer sal wel die hofverrigtinge bywoon. “Hy het gesê hy sal ná die hofverrigtinge weer moet teruggaan na die hospitaal toe.”
Die polisiewoordvoerder was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.
Maroela Media het vroeër berig Poppie is die aand van 25 Oktober na ʼn hospitaal in Brits gehaas, nadat sy vermoedelik aangerand is. Sy is kort ná haar aankoms by die hospitaal dood verklaar. Kobus is kort daarna vir haar moord in hegtenis geneem. Die patoloog het tydens Koekemoer se borgtogaansoek in November gesê die hoofoorsaak van Poppie se dood was ʼn harde hou teen haar kop.
Louisa is op 15 Desember omstreeks 15:00 by haar huis in Mamogaleskraal in Noordwes in hegtenis geneem.
Albei staan tereg op aanklag van moord en hul borgtogaansoeke was onsuksesvol.
Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Speel vir tyd .
Hoekom kamer deel, moet in afsondering gehou word al is hy in Hospitaal. Belastingbetaler se rekening.
Ag seblief, moet ons hom nou jammer kry?
Kan nie minder omgee nie. Hy probeer seker in Weskoppies beland om sy straf vry te spring. Wat n looser! Ek dink nie jy kry slegter as hy nie.
Hy moes dit gedoen het voor hy ‘n onskuldige kind doodgemaak het. Moontlik het sy dan nog gelewe. Rus sag kleinding.