Beskuldigde vertel hof oor Rhodespark-aanval

Thabo Nkala, Edmore Ndlovu en Mduduzi Lawrence Mathibela. Foto: Brenda Masilela/ANA

Thabo Nkala, Edmore Ndlovu en Mduduzi Lawrence Mathibela. Foto: Brenda Masilela/ANA

Die hooggeregshof, wat in Palm Ridge, Johannesburg, sit, het Dinsdag toestemming gegee dat verklarings wat Thabo Nkala, een van die Rhodespark-beskuldigdes, aan die polisie gemaak het, as getuienis gebruik mag word.

Die besluit is geneem na ʼn verhoor binne ʼn verhoor oor die toelaatbaarheid van sekere getuienis. Nkala het beweer polisiebeamptes het hom aangerand en gedwing om ʼn skulderkenning te maak. Regter Papi Masopi het egter nie hierdie weergawe aanvaar nie en bevind Nkala het sy verklaring uit vrye wil afgelê.

Nkala, Admore Ndlovu en Mduduzi Lawrence Mathibela staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, verkragting en moord. Al drie het skuld op die aanklagte ontken. Volgens die staat was Nkala, Ndlovu en Mathibela na bewering deel van ʼn bende wat twee mans in die dam by Rhodespark in Johannesburg ingedwing het, waar hulle verdrink het. Die bende het daarna die mans se vroue seksueel aangerand en verkrag, voordat hulle die vroue beroof het.

Nkala, ʼn 25-jarige onwettige immigrant van Zimbabwe, het Maandag aan die hof vertel polisiebeamptes het hom ná sy inhegtenisneming na ʼn huis in Yeoville geneem, waar hy vir ʼn tweede keer aangerand is. Hulle het hom glo daarna na Rhodespark geneem en hom gedwing om die misdaadtoneel uit te wys.

Lt.kol. Nonkululeko Mkwebula het Dinsdag in die getuiebank Nkala se verklaring voorgelees. “Gedurende Augustus 2015 het ek vir Small ontmoet, ek weet nie wat sy regte naam is nie. Ek het vir hom gesê ek is nou uit die tronk en wou weet of hy my met klere en geld en ʼn werk kon help.”

Nkala het gesê Small het hom later die maand na sy woonstel genooi en hom aan sy vriende, Stanley, Mdu, Brian en Jeje voorgestel. Die groep het bier gedrink en aan Nkala vertel hul werk is om mense te beroof, meestal in Rhodespark. Nkala het gesê sy eerste rooftog saam met die groep gedoen was toe hulle selfone by drie mans in Rhodespark afgeneem het. Hy het R400 vir sy deelname aan die rooftog gekry.

“Op 17 Oktober 2015 het ons op die hoek van Sphingo- en Bezuidenhoutstrate ontmoet. Ek moes brandewyn by ʼn nabygeleë Shoprite gaan koop. Dit was ek, Small, Jeje, Brian, Mdu, Cosmo en Stanley,” het Nkala in sy verklaring geskryf. Hy het gesê die groep is omstreeks 17:00 na Rhodespark, maar daar was nog baie mense wat daar gesit en ontspan het. Die groep het besluit om te wag totdat daar minder mense in die park was.

“Dit was al bietjie donker toe ons die twee paartjies genader het. Mdu en Jeje het ʼn ent verby hulle geloop en ek het gesien hoe Mdu ʼn vuurwapen op hulle rig. Ons het almal vinnig nader beweeg.”

Hulle het ʼn selfoon en goue ring by die paartjies afgeneem en Nkala het erken hy het ook ʼn paar skoene gevat, maar hulle op pad huis toe weggegooi het toe hy besef het die skoene is oud. Die groep het later weer in Yeoville byeengekom.

“Small het gevra wie het wat gekry en dit was net hy wat ʼn selfoon en ʼn ring gekry het. Hy het gesê hy gaan dit net deel met die mense van wie hy hou. Mdy en Small het die foon en ring verkoop. Mdu het vir Jeje en Cosmo elkeen R50 gegee. Ek en Brian is daar weg sonder enigiets,” het die verklaring gelui.

Nkala beweer Small het hom die volgende dag gebel en gevra of hy die nuus gesien het en hy het gesê nee. Small het gesê Nkala moet na sy woonstel toe kom. Nkala het Cosmo gebel om te vra wat gebeur het, aangesien hy en Mdu agtergebly het. “Cosmo het gesê Mdu het vir die twee mans gesê om in die dam in te gaan, hy het hom sy vuurwapen gegee en Cosmo se mes by hom gevat en hy (Mdu) het die een vrou verkrag. Die ander vrou het weggehardloop,” het Nkala gesê.

Hy het gesê hulle het drie dae later weer vergader en toe was Mdu mank en het met krukke geloop. Hulle het weer vir Mdu gevra wat gebeur het en Mdu het verduidelik dat hy die twee mans opdrag gegee het om in die dam in te gaan en toe het hy en Small die vrouens verkrag.

Nkala, Ndlovu en Mthibela beweer al drie hulle is aangerand en gedwing om verklarings af te lê. Die verhoor binne ʼn verhoor sal Donderdag voortgaan om te besluit of Mathibela en Ndlovu se verklarings toegelaat sal word.

Lees alle vorige berigte oor die Rhodespark-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Hierdie mense mors die hof se tyd en ons geld. Hulle is skuldig en moet gevonnis word. Hoekom die sake altyd so uitrek?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.