Beskuldigdes in hof ná moord op PE-ma

Vicki Terblanche (42) se liggaam is Saterdagoggend in vlak graf in ’n oop veld in Greenbushes in Gqeberha gevind. (Foto: Facebook / Lala Fourie)

Reinhardt Leach (33) en Dylan Cullis (24) het Maandag vlugtig in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn in verband met die moord op die 42-jarige Vicki Terblanche.

Leach was ten tyde van moord in ʼn verhouding met Terblanche en het saam met haar gewoon. Sy het ook ʼn 12-jarige seun uit ʼn vorige huwelik.

Maroela Media het vroeër berig Terblanche se liggaam is Saterdagoggend in ʼn vlak graf in ʼn oop veld in Greenbushes in Gqeberha gevind. Leach het haar Donderdag self as vermis by die polisiestasie aangemeld.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, is die saak tot Woensdag uitgestel wanneer die beskuldigdes se borgtogaansoek aangehoor sal word. Dit is nog nie bekend presies wat die omstandighede rondom haar dood is nie.

Reinhardt Leach en Vicki Terblanche. Leach word nou van die moord op dié 42-jarige ma aangekla. (Foto: Facebook / Reinhardt Leach)

Leach het verlede maand ʼn foto van hom en Terblanche op Facebook gedeel met die byskrif: “Eerste vlug saam met Vicki – so spesiaal.”

Intussen het huldeblyke vir Terblanche op sosiale media ingestroom.

“My mooiste Vicki, ek het geen woorde om te beskryf hoe ek voel nie. Ek is hartseer, kwaad en my hart is gebreek. Gebreek vir jou pragtige seuntjie, ons familie en enigiemand wat die voorreg gehad het om jou te ken en lief te hê.

“Jy is so ’n mooi vrou. Hierdie is so onnodig, dis nie hoe dit veronderstel is om te wees nie. Mag jy in vrede rus, my mooi niggie. Ek is lief vir jou,” skryf Lala (Lindy) Fourie op Facebook.

Jesse van Rensburg het ’n video met ’n liedjie en foto’s van Terblanche op haar Facebook-blad gedeel.

“My hart is in stukke. Hoe aanvaar ek die wreedheid wat jy moes verduur? Hoe gaan ek aan sonder jou?”

Ene Liezel Gerber sê sy kan nie glo dat Terblanche so “skielik weggeneem is nie”.

“Mag jy altyd met die engele van God dans en mag Hy jou met ope arms ontvang.”

In nog ʼn voorval in dié omgewing is die liggaam van die 16-jarige Cynthia Williams Woensdag in ’n vlak graf in Gqeberha gevind.

Sy is na bewering deur haar verloofde vermoor. Dié het reeds in die hof verskyn en sal dié week weer in die hof verskyn om aansoek om borgtog te doen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pierre

Pragtige vrou gewees

Dries

Hoekom vermoor? Stap net uit die verhouding.

Onnie

Liewe Vader! Mens maak UIT met iemand as jy nie meer kans sien vir die verhouding nie, jy maak nie die persoon DOOD nie! Wat gaan aan met die mensdom??

Trotse Boervrou

Wat gaan aan in mense se breine deesdae. Sommer net-so, vir geen rede, neem hul iemand se lewe en smyt die persoon letterlik weg, asof dit niks is nie. Party los hul sommer net daar waar hul die persoon vermoor het en het die vermetelheid om die “moord” op hul geliefde aan te meld. Dan gaan staan hul nog en huil by die teraardebestelling ook terwyl hulself die moord gepleeg het. Ander, soos in hierdie geval, begrawe hulle en maak “‘n vermiste persoon” saak oop. Meeste van die tyd is daar klein kindertjies betrokke. Arme, arme kinders. Siek, siek wêreld… Lees meer »

Diline

Bring die doodstraf terug punt! Hierdie tipe geweld word net erger by die dag in SA.