Beslag gelê op nagenoeg 200 vuurwapens

Argieffoto

Die polisie in die Wes-Kaap het in September op nagenoeg 200 onwettige vuurwapens beslag gelê.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die onlangse vlaag van misdaad in omgewings soos Philippi-Oos en Nyanga toon dat daar “hopeloos te veel” vuurwapens in die verkeerde hande is.

“Die polisie moes tydens September ook ontelbare aanvalle op beamptes verduur wat net besig was om hul plig te doen en hard te werk om ons gemeenskappe veilig te hou,” het Van Wyk laat hoor.

Volgens Van Wyk is daar op 196 vuurwapens tydens misdaadvoorkomingspogings beslag gelê. Hy het bygevoeg dat die gemeenskap ook hul kant gebring en vir die polisie baie wenke gegee het.

“Die beslaglegging van die vuurwapens en gepaardgaande ondersoeke het daartoe gelei dat 218 verdagtes in hegtenis geneem is. Hulle is op aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen in hegtenis geneem.”

Daar is op 46 vuurwapens in die Nyanga-polisiëringsgebied beslag gelê, 26 in die Bluedowns-gebied, 26 in Khayelitsha en 28 in Mitchells Plain.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rica ·

Baie goed gedoen en groot dankie vir inwoners wat hul kant bring. Nou moet die howe net hul kant bring en behoorlike straf uideel aan die skuldiges. Dis ONS ALMAL se land hierdie, nie die kriminele s’n nie.

Apache ·

Beslag gele op nagenoeg 200 vuurwapens en in die artikel 196 vuurwapens en aan die einde van artikel opgetel 126 vuurwapens. hoeveel is dit nou persies?

Lientjie ·

Hulle weet self nie hulle kan nie behoorlik tel nie, want die ander is seker weer by die agter deur uit na die bendes toe!

Chris Ws ·

Ek hoop die vuurwapens word op ‘n veiliger plek as in ‘n polisiestasie geberg!

Max ·

Daar is nie meer n veilige plek in of by n polisiestasie nie.

Boet Fasie ·

Kan nou nie mooi verstaan nie, seker maar die ouderdom. Is dit nou al die polisiemanne se vuurwapens wat so weggeraak het in die Kaap wat hulle nou gekry het.

Pieter ·

Alida,
Dit is mos baie meer ekonomies om die wapens weer te verkoop aan die bendes.

Leahim ·

Hulle moet die vuurwapens vervaardig met n veiligheids meganisme soos net die wettige gelisensieerde eienaar kan die wapen se sneller meganisme aktiveer

Boet Fasie ·

Hulle gaan ‘n vuurwapen vervaardig wat werk met iets soos ‘n vinger afdruk , maar jou vinger moet op die sneller wees en die voorkant van die wapen teen jou kop voor hy kan vuur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.