Beslag gelê op R115 m. se renosterhoring by lughawe

Die besending renosterhoring waarop daar beslag gelê is. (Foto: Verskaf)

Doeanebeamptes het Dinsdag op renosterhoring ter waarde van R115,6 miljoen by die OR Tambo‑ Internasionale Lughawe in Kemptonpark beslag gelê. Dié vonds was deel van ʼn besending wat as “kuns” verklaar is.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het in ʼn verklaring gesê een van die doeanespanne het gedurende ʼn inspeksie by een van die lughawe se pakhuise met behulp van snuffelhonde op ʼn besending renosterhoring afgekom. Die betrokke besending was via Doha vir Kuala Lumpur bestem.

Die doeanebeamptes het die betrokke besending deursoek en op 41 stukke renosterhoring afgekom. Die stukke renosterhoring was in deurslagpapier en foelie versteek en in tradisionele materiaal toegedraai.

Luidens die verklaring het doeanebeamptes op dieselfde dag ook op perlemoen ter waarde van R1 miljoen beslag gelê. Dié perlemoen was bestem vir Hongkong. Daar is ook afgekom op efedrien ter waarde van R600 000 versteek in twee drukkerskassette wat vir Madagaskar bestem was.

“Kriminele en onwettige ekonomiese aktiwiteite kom gereeld voor en dit lei tot miljarde rande se verlies in belasting‑ en doeane-inkomste aan die fiskus. Daarbenewens berokken dit ons binnelandse ekonomie ernstige skade,” het Edward Kieswetter, hoof van die SAID, gesê.

Kriminele sake is vir verdere ondersoek by die polisie geopen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Genis ·

Agge nee, betaal belasting op onwettige goed? Dit wys jou weereens die onvermoe om wet en order te handhaaf… dis darem maar n skande.. weereens waar heen gaan die horings? drom roll….

Pierre ·

Ja Mnr Kieswetter. Wat het ‘n renoster se horing met ekonomie te doen?

Jack ·

Miskien moes dit china toe gaan. Dis waar die belasting ding inkom want die chinese sou waarskynlik iets aan die anc moes betaal vir die onbevoegde toesig oor die renosters.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.