Beslagleggingsbevel teen hoë van misdaadintelligensie

Solomon Lazarus in die hof (Desember 2020) (Foto: Verskaf)

Die Pretoriase streekhof het ʼn beslagleggingsbevel van R599 783 toegestaan teen die voormalige hoof van misdaadintelligensie, genl.maj. Solomon Lazarus, vir sy plundering van die geheime eenheid se bankrekening.

Die SAPD het toegang tot fondse in die bankrekening om geheime projekte en/of ondersoeke te finansier. ʼn Maatskappy, Universal Technical Enterprises (UTE), is opgerig om onder andere gebruik te word vir die aankope van voertuie wat tydens geheime operasies en ondersoeke gebruik kon word, sê Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat.

Lazarus was die finansiële hoof van geheime dienste en ʼn lid van UTE. Die fondse wat deur UTE gebruik is, kom uit die betrokke bankrekening van die SAPD en oorspronklik uit die staatsfiskus.

“Atlantis Motors is geïdentifiseer as ʼn diensverskaffer om voertuie aan te koop wat misdaadintelligensie kon gebruik. Lazarus moes die aankope van alle voertuie en gepaardgaande uitgawes goedkeur. Van die R64 miljoen in transaksies tussen UTE en Atlantis Motors, is geld na ʼn omkoopfonds oorgedra in die boeke van Atlantis Motors,” het Seboka bygevoeg.

Lazarus het daarna sy posisie gebruik om persoonlike voertuie vir sy vrou en kinders aan te koop. Hy het ook dieselfde geld gebruik om ʼn deposito vir sy persoonlike motors te betaal.

“Lazarus is op 9 Desember 2020 skuldig bevind op aanklag van korrupsie en is 10 jaar tronkstraf opgelê omdat hy onreëlmatige vergoeding ontvang het vir die periode tussen 2008 en 2011 ter waarde van R231 626.07.

Landdros Adriaan Bekker, wat die strafregtelike saak en batebeslagleggingsaansoek hanteer het, het op 9 Desember 2020 ʼn beslagleggingsondersoek kragtens artikel 18(1) van die Wet op Georganiseerde Misdaad versoek. “Tydens die ondersoek in Maart 2021 het die ondersoekdirektoraat aangevoer dat Lazarus voordele ter waarde van R1 242 132.31 tussen Januarie 2008 en April 2012 ontvang het. Dit sluit voordele in vir ʼn veldvoertuig (ATV), ʼn Kia Picanto, ʼn Nissan Murano, ʼn Honda CBR en betaling vir ʼn bromponie. Die staat het ook aangevoer dat die bedrag van R1 291 326.09 historiese waardes verteenwoordig en dat dit in huidige waardes uitgedruk moet word, naamlik R2 178 845.29.”

Bekker het bevind Lazarus se totale voordeel was R599 783, as die verbruikersprysindeks in ag geneem word om die huidige waarde te bepaal soos bereken op 9 Maart 2021. Die R599 783 is soos volg saamgestel:

  1. Die veldvoertuig (ATV): R66 855
  2. Kia: R107 000
  3. Murano: R381 243
  4. CBR: R44 685

Voor die bevel het Lazarus teen sy skuldigbevinding en vonnis geappelleer en die staatsaanklaerspan is besig om dié saak af te handel. Lazarus bly uit op borgtog hangende die uitslag van die appèlaansoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Yvonne ·

En die werklike waardes word nooit verhaal nie….geen begrip van morele waardes nie ….mammon is n wrede baas

JohanR ·

In die geval is misdaadintelligensie nie ‘n verkeerde benaming(misnomer) nie. Jy kan nie die word intelligent saam met die ou sit nie!

JAN ·

Net nog ‘n Zuma. Die skelm is diepgewortel in hul DNA. Hy sal nie tronk toe gaan nie

Sandra ·

Oral waar daar in die goewerment met geld gewerk word, is daar ‘n gestelery

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.