Besluit in 2016 oor renosterhorings

Argieffoto

Argieffoto

Die regering sal in April 2016 besluit of hy sy yslike hoop renosterhorings wil verkoop.

Edna Molewa, minister van omgewingsake, het Dinsdag aan verslaggewers by die parlement gesê die regering het nog nie ʼn besluit geneem oor die internasionale voorstel nie. “Ons sal dit eers kan doen sodra die komitee sy werk afgehandel en ʼn verslag voorgehou het,” het sy gesê.

Altesaam 22 lede vorm deel van die Kommissie van Ondersoek wat aanbevelings moet maak oor renosterverwante kwessies. Die belangrikste hiervan is of ʼn voorstel volgende jaar tydens die COP17-vergaderign aan CITES gemaak moet word dat die handeldryf in renosterhoring wettig verklaar moet word.

Molewa het Dinsdag die name van die betrokke kommissielede aangekondig. Dit sluit verteenwoordigers van wetstoepassingsagentskappe, wetenskaplikes, lede van immigrasiedienste, beamptes uit die bewaringsbedryf, privaat wildeienaars en nie-regeringsorganisasies in.

Die minister het gesê enige aanbevelings sal gebaseer wees op goeie navorsing. Die besluit of die voorstel aan CITES voorgehou gaan word, sal glo ses maande voor die konferensie in Oktober 2016 bekend gemaak word.

Molewa het Maandag aan Sapa gesê die regering se voorraad renosterhoring beloop 21 ton. Dit sluit nie renosterhorings in privaatbesit in nie. Die 21 ton renosterhoring is moontlik tot US$1.36 miljard werd, gebaseer op berigte dat renosterhoring tans onwettig in Vietnam teen US$65 000/kg verkoop word.

Altesaam 1 214 renosters is in 2014 in Suid-Afrika vir hul horings gestroop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

Vergeet nou maar van die renoster”boere” se voorstel, hulle wil so graag met bewaring help. Waarom gee die regering nie eerder vir Vietnam so 2,000 renosterhorings per jaar verniet nie? Dan kan julle ook vir China ivoor verniet weg gee, O’ja en vir Japan gee hulle die perlemoen wat hulle van die stropers afgevat het verniet weg, en siedaar ons kan in vrede lewe sonder dat ons deur die ooste geplunder word.

Nog iets, rig fabrieke op dan kan handelsname soos Rex Trueform weer op die rakke verskyn en het ons swaarkrymense iets om voor te werk.

Theresa ·

Ag what ever!! Geld kom altyd 1ste. Daar sal die paw-paw ook die “fan strike”. Die arme diere sal altyd 2de kom want wie hulle eintlik moet bewaar sit die meeste agter alles met hulle beursies oop…………………….

Carina ·

Ek sou sê ja, verkoop die goed aan die stupid lot wat dink dit het medisinale gebruike teen ‘n belaglike prys, en gebruik daardie inkomste om Eskom se gemors reg te maak. Dan hoef ons arme mense wat alreeds tot op die been gesny is, nie ons eie kele nog verder af te sny om vir hulle onnoselheid te betaal nie!
En ek hoop die boere en parke kry ‘n oplossing vir verdere stropery sodat ons die paar diere wat oor is vir die nageslag kan bewaar. En mag alle stropers voor die voet geskiet word!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.