Besluit om wapens te vernietig is onwettig

Argieffoto: SAPD

Die vernietiging van vuurwapens wat Woensdag in die Staatskoerant afgekondig is, is onwettig en ongeldig, het Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, Donderdag gewaarsku.

Die kennisgewing in Woensdag se Staatskoerant is in die naam van die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, uitgevaardig kragtens art. 136 (2) vam die Vuurwapenbeheerwet van 2000.

Dit bepaal dat alle vuurwapens, vuurwapendele en ammunisie wat vrywillig aan die staat oorhandig is en tans deur die polisie bewaar word, vernietig moet word tensy die eienaars van die vuurwapens (waarvan daar ʼn lys is op die polisie se webblad, www.saps.gov.za) binne 21 dae geldige redes kan aanvoer waarom dit nie vernietig moet word nie.

Donderdag in die parlement het Joemat-Pettersson aangevoer die afkondiging van die beoogde wapenvernietiging in die Staatskoerant was ongeldig omdat die parlement nie toestemming gegee het daarvoor nie, asook aangesien die polisie nog nie aan die vereistes voldoen het wat die Noord-Gautengse hooggeregshof gestel het voordat vuurwapens waarvan die lisensies verstryk het, aan die polisie oorhandig hoef te word nie.

Parlementslede van die ANC, DA en EFF (die ander partye was afwesig) het Joemat-Pettersson se interpretasie gesteun.

Dat Sitole die wapenvernietiging nietemin afgekondig het, het Donderdag tot ʼn hewige teregwysing in die portefeuljekomitee en ʼn gevolglik baie nederige verskoning deur die adjunkminister van polisie, Cassel Mathale, gelei.

“Ons is baie ontevrede. Die indruk word gewek dat die portefeuljekomitee ondermyn word,” het sy aan ʼn ongemaklike Mathale, wat die komiteevergadering bygewoon het, gesê.

Mathale het onderneem om vas te stel en verslag te lewer oor hoe die ongeldige kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer is.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, luister aandagtig na die polisieminister Bheki Cele. (Foto: :Phando Jikelo/African News Agency(ANA)

Die komitee het opdrag gegee dat die vernietiging van vuurwapens nie mag plaasvind voor die polisie aan die Noord-Gautengse hooggeregshof kan bewys dat die strukturele en bestuurstekortkominge wat gelei het tot ʼn onlangse interdik oor ʼn verwante kwessie, oorkom is nie.

Die interdik wat in Julie verlede jaar toegestaan is ná ʼn hofsaak tussen die vuurwapeneienaarsvereniging Gunowners SA aan die een kant en die minister van polisie én nasionale kommissaris van polisie aan die ander kant, bepaal het dat die polisie op niemand se wapen waarvan die lisensie verstryk het, beslag mag lê nie weens die onvermoë van die polisie om die proses te bestuur, asook tekortkominge in die elektroniese rekordstelsels van die polisie, is steeds geldig.

Die portefeuljekomitee het dus bevind dat die polisie nie vuurwapens mag vernietig terwyl die interdik geldig is nie, en dat die polisie, ná die opheffing van die interdik, eers die parlement se  instemming moet hê voordat enige vernietiging van vuurwapens mag plaasvind.

Die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies het ook verlede maand weens verwante kommer oor die polisie se vermoëns geweier om in te stem tot ʼn voorgestelde amnestie waartydens vuurwapens ingehandig kon word sonder slegte gevolge vir die persoon in wie se besit dit is, solank dit nie in ʼn misdaad gebruik is nie.

  • Maroela Media het vroeër verkeerdelik berig dis ʼn vuurwapenamnestie wat deur die oorsigkomitee ongeldig verklaar is. Daar is nie tans so ʼn amnestie nie. Ons vra om verskoning vir die fout – RED.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Muffin

Ek dink dit was maar net onkundige personeel wat die kennisgewing geplaas het, maar aan die ander kant hoe gouer die wapens vetnietig word hoe minder is die kanse dat van hulle kan voete kry.

Piet Badenhorst

Tinatjie is blykbaar Internasionaal bekend as n kenner van wat reg of verkeerd is…. ha ha ha haaaaa.
Soos om olie teen minder as Kosprys te verkoop… hoe hie hie.

Laat sy haar klug êrens anders voer asb.

Pieter

Ek is na die webtuiste maar kry nie die lys nie

Lewis

Om hierdie vuurwapens te vernietig word statestiek vernietig en spore word dood gevee. Moenie dink hulle is onnosel nie. Waar daar geld te maak is uit hierdie kategorie wapens sal hulle nie hierdie kans laat verby gaan nie Nog meer ongelisensieerde wapens gaan op straat beland. Die afsetgebied en aanvraag vir onwettige wapens is net te groot. Ek sal nie my broer vertrou met hierdie proses nie.

JohanR

Al die bendes wag seker vir die ou gelukie hier net voor Xmas en die Nuwe Jaar!! Het ou Tina nie al Suid Afrika se oliereserwes verkoop nie? Wonder hoeveel sy persoonlik uit die transaksie gemaak het? As ‘n ANC kan jy opmors soe veel as wat jy wil, word dan afgedank as jy gelukkig is, maar met die volgende verkiesing is jy maar weer terug in die Parliament. Lekker lewe ne?