Besluit oor laaste Knysna-olifant se lot ‘nie só eenvoudig’

Van die Knysna-bos se eens groot trop is nou net dié enkele olifantkoei oor. Hier is sy op kamera in haar woongebied vasgevang. Foto: Verskaf deur Lizette Moolman

Navorsers van Sanparke sê olifantkenners en spesialiste se hulp gaan ingeroep word om te help besluit oor die lot van die laaste olifant in die Knysnabos.

Sanparke het verlede week bekend gemaak daar is net ʼn enkele olifant van die trop oor. Dit het tot groot openbare ontsteltenis gelei en talle mense wou weet waarom toegelaat is dat die situasie tot hier gevorder het.

In die jongste studie het navorsers gebruik gemaak van kamerastrikke om die bewegings van enige olifante in die bos te monitor. Uiteindelik is net Oupoot, ʼn olifantkoei van nagenoeg 45 jaar oud, afgeneem.

Sanparke sê daar was die afgelope paar dekades verskeie pogings om vas te stel presies hoeveel olifante in die bos oor is.

“Die pogings is bemoeilik, veral deur die ontwykende geaardheid van olifante en die moeilike terrein waarin hulle beweeg. Dit het gelei tot teenstrydige bevindings. Die omstredenheid het die afgelope paar dekades ʼn hoogtepunt bereik, met opnames wat bevind het daar is enigiets van een olifant tot berigte van ʼn klein, maar reproduktiewe olifantbevolking oor,” sê Lizette Moolman, een van die Sanparke-navorsers.

“Diegene verantwoordelik vir die bestuur van die Knysna-olifantgebied het dus gepolariseerde inligting oor die status van die Knysna-olifanttrop gehad. Dit het beteken dit was uiters moeilik om ingeligte besluite oor die toekoms te neem.”

Moolman sê daar was twee gewilde, maar strydige oortuigings waarom die bevolking afgeneem het.

“Een is dat die woudhabitat sub-optimaal is, wat beteken voedselbronne is nie van goeie kwaliteit nie. Dit het ʼn invloed op voortplantingsukses.

“Die ander teorie is dat die olifante gestroop is,” sê Moolman.

Sy sê nóg ʼn moontlikheid is dat die aanvangsbevolking bloot te klein was om te herstel. “Daar is geen klinkklare bewyse wat een van dié [oortuigings] as die hoofoorsaak van die daling (in getalle) uitwys nie. Dit is heel moontlik dat die daling die gevolg van ál die faktore is,” sê sy.

Moolman sê ʼn trop, of selfs net ʼn bul, kan nie sommer in die park losgelaat word nie. “Dis ʼn ingewikkelde situasie. Enige besluit wat geneem word, gaan háár én ander olifante raak. As jy dus ʼn nuwe trop inbring, is daar geen waarborg dat hulle met Oupoot ʼn band gaan vorm nie.”

Sy sê Oupoot kan ook nie sommer net na ʼn ander park verskuif word nie. Só ʼn besluit “moet voldoen aan die norme en standaarde soos uiteengesit deur die departement van omgewingsake. ʼn Dier kan nie net verskuif word sonder om die regte proses te volg nie. Wat as sy elders heen verskuif word, nie in die omgewing aanpas nie en gevolglik vrek?

“Dit is ʼn ingewikkelde proses en móét verder met olifantkenners en spesialiste in olifantgedrag bespreek word,” sê Moolman.

Hoewel sommige individue beweer het daar is net een olifant oor, was daar tot dusver geen konkrete bewyse daarvoor nie. In 2007 is ʼn DNS-studie deur Lorri Eggert en Gareth Patterson boonop bekend gemaak waarin hulle “bewys” het daar is agt reproduktiewe olifante.

“Omdat olifante se oorlewing baie van hul sosiale struktuur afhang, was nog inligting nodig oor wie die individuele olifante is, sodat ʼn gepaste bestuursbesluit geneem kon word. Wetgewing, byvoorbeeld, stipuleer dat jy nie ʼn volwasse bul kan inbring in ʼn gebied waar koeie en hulle kalfies nie deel van ʼn trop is nie – en met goeie rede.

“Omdat die Knysna-olifante se groepstruktuur, om nie te praat van hul getalle nie, onbekend was, was bestuursbeplanning moeilik,” sê Moolman.

Dit is dan ook waarom ʼn intensiewe studie oor die individuele diere nodig was, maar dit móés een wees wat nie die olifante sou steur nie.

In 1994 het die departement van bosbou wél probeer om drie weesolifante uit die Krugerwildtuin in die Knysnabos in te bring. Dit was ʼn mislukking. “Een van die olifante het gevrek kort nadat hulle uit die boma vrygelaat is en die ander twee het buite die park, op private grond, rondgeswerf. Hulle is later na Shamwari verskuif,” sê Moolman.

“Ons moet verstaan waarom hierdie poging misluk het. Ons moet ook weet hoekom die Knysna-olifante se getalle afgeneem het, sodat ons kan besluit of dit gaan sin maak om ʼn nuwe trop in te bring.

“Verskuiwing het weer sy eie etiese en welstandsprobleme. Dis uiters stresvol vir diere, omdat hulle weggeneem word uit die omgewing wat hulle ken.”

Gegrond op die inligting wat oor die olifante bekend was, was daar dus nie vroeër gronde vir ʼn radikale ingryping nie.

Moolman sê die olifant sal verdoof moet word om met ʼn opsporingstoestel toegerus te word. Dit kan gevaarlik wees, veral weens haar sku aard en die onbegaanbare terrein waar sy woon. “Ons het steeds kamerastrikke in die gebied waar sy swerf en volg steeds haar bewegings en hou haar toestand dop,” sê Moolman.

“’n Ingrypende en moontlik gevaarlike operasie om ʼn halsband aan te sit, kan dus nie geregverdig word nie.”

Sien Maroela Media se vorige berig oor die laaste Knysna-olifant hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Baie liefde aan Oupoot ·

Sterkte aan die navorsers van Sanparke om die regte besluit te neem. Oupoot dit moet bitter alleen vir jou wees so op jou eie daar in die Knysnabos. Maar mag jy jou natuurlike lewensiklus voltooi sonder die verkeerde inmenging van mense.

IK ·

Moenie krap waar dit nie jeuk. Ek het in daardie bosse gestap op die staproete en net olifantmis gesien. Los haar net doodeenvoudig uit!

VanAfrika ·

Sy is n matriag en hulle is familie diere, kry vir haar n trop sodat sy nie so alleen is nie, verkieslik baba olifante wat haar moeder instink sal laat inskop.

Cornelia ·

Baie dankie vir ‘n uiters interessante kykie in hoe ingewikkeld die onderwerp eintlik is. Al die faktore wat in ag geneem moet word vanaf aanpassings risiko’s, verskuiwings trauma, sosiale inskakeling, habitat…dit is regtig aangrypend. Dankie dat u al u jarelange navorsingskennis met die lesers deel. U sal weet om in die beste belang van die pragdier op te tree.

Alida ·

Ek weet nie wat karring hulle aan oupoot nie. Los haar uit sy bly al jare daar en pla gn mens nie. Verskuif eerder n paar van die Kruger soontoe dan word hulle gered van stropers. Ek is seker hierdie navorsers het nie eers van haar bestaan geweet nie. Per ongeluk raakgesien.

Calamarie ·

Wie is julle om die besluit te maak – mensdom meng altyd in.! As jy alleen is wil jy nie he ander moet besluit vir jou nie! Sy is al jare daar!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.