Besluit oor Noordwes-premier ‘was eenparig’

Job Mokgoro. Foto: ANA

Die ANC het Donderdag gesê sy besluit om Job Mokgoro (70) te benoem vir die pos van premier van Noordwes was eenparig.

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, het Donderdag in Johannesburg aangekondig dat die party Mokgoro aangewys het om Supra Mahumapelo op te volg. Ondanks mediaberigte dat daar onenigheid in ANC-geledere oor Mahumapelo se opvolger is, het Magashule gesê die besluit was eenparig. Hy het gesê hy hoop dat al die strukture binne die ANC Mokgoro sal ondersteun om stabiliteit in die provinsie te bring.

Die nasionale regering het Noordwes onder administrasie geplaas nadat die provinsie geruk is deur weke se gewelddadige betogings. Inwoners het geëis dat Mahumapelo, wat wyd van korrupsie beskuldig word, moet bedank.

Magashule het gesê drie name van kandidate wat moontlik die pos kan vul is uit provinsiale strukture aan die nasionale leierskap gegee. Hy sê ná lang en deeglike oorweging het die party uiteindelik op Mokgoro besluit, “ʼn besluit wat ek hoop almal sal respekteer”.

“Ons soek iemand wat werklik met almal in gesprek kan tree en kan verseker dat daar eenheid en hernuwing in hierdie tyd is,” het Magashule gesê.

Mokgoro is die voormalige direkteur-generaal van Noordwes en was die hoof van die nasionale skool van regeringsake.

Pakes Dikgetsi, voorsitter van die Congress of the People (Cope), het Mokgoro as ʼn geloofwaardige en professionele veteraan en akademikus bestempel, maar gesê hy sal steeds “moet swem in die afvalput wat deur die ANC geskep is”.

“Die verrotting van korrupsie, magsbeheptheid en selfverryking is só endemies dat die verlamde regering op die punt van ineenstorting is. Mokgoro sal homself voortdurend bevind in die middel van die verswakkende en vurige oorlog tussen twee gulsige faksies van die ANC,” het Dikgetsi gesê.

“Dit is ook aanduidend dat die korrupte ANC geen vertroue in sy huidige groep leiers het nie en dat hy iemand van buite moes inbring om die disfunksionele administrasie te probeer beredder en die woede van die mense van die Noordwes te paai.”

Die Forum 4 Service Delivery (F4SD) het Mokgoro se aanstelling verwelkom en gesê hy vra al lank dat gesoute akademici en administrateurs sleutelrolle in die politiek vervul.

Mokgoro sal na verwagting Vrydag ingehuldig word as premier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

GM ·

Geen besigheid sal ‘n 70-jarige eers oorweeg vir ‘n pos nie, maar die man word premier van Noordwes?

Mrs H ·

Die regering het reeds ineen gestort. Dit gaan baie sterk perde vat om die wa daar uit te trek. Die 70 jarigge man is dalk net die een met wysheid. Die jonges het dit beslis nie. Kom ons hoop vit die beste, want as hy dit nie kan doen nie, is daar nie hoop nie. Hopenlik leer die jonger mense by die man as hulle net n bietjie bereid sal wees om op te let in die klas.

1+1 ·

Ek wens hulle wil ‘n CV van kandidate plaas, voordat aanstellings gemaak word. Dit sal agterdog oor die bekwaanheid van persone uitskakel.
groete
Belastingbetaler

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.