Besluit oor publiseer van matriekuitslae in hof betwis

(Argieffoto: Facebook)

Maroela Media het Vrydag saam met die burgerregteorganisasie AfriForum en Anlé Spies, ’n matrikulant van die 2021-matriekklas, hofstukke op onder meer die minister van basiese onderwys beteken. Dít om die departement van onderwys se onlangse besluit om nié die matriekuitslae vanjaar in die media te publiseer nie, op ’n dringende basis in die hof teen te staan.

Die besluit is vroeër vandeesweek geneem ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) wat op 1 Julie verlede jaar in werking getree het.

In ʼn beëdigde verklaring voer Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, aan dat dié en ander media-instellings wesenlike skade kan ly weens die departement se skielike besluit. Dit is omdat die publikasie van die uitslae jaarliks duisende lesers na nuuswebtuistes lok.

“Die besluit hou verwoestende gevolge vir media-instellings in, wat beplan het om die matriekuitslae te publiseer met gepaardgaande inligting, advertensies en bemarkingsveldtogte van voornemende werkgewers, universiteite, tersiêre onderwysinstellings, beursfondse en instellings wat finansiële ondersteuning aan studente bied,” lui die verklaring.

Dié bemarkers, sê Lombaard, word nou die geleentheid ontneem om hul dienste aan ’n gefokusde mark te adverteer. “Media-instellings word boonop ontneem van die geleentheid om inkomste uit die advertensieveldtogte te verdien.”

skole matrieks matriek matriekeksamen onderwys

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Sy wys verder daarop dat die betrokke inligting van die Popi-wet gevrywaar is, aangesien dit ter wille van joernalistieke uitdrukking gepubliseer word.

“Ons voer aan dat die publikasie van matriekuitslae van suksesvolle kandidate in ooreenstemming is met die goed gevestigde vryheid van joernalistieke uitdrukking, wat nie arbitrêr weggeneem kan word deur ’n eensydige besluit deur ’n amptenaar van die departement van basiese onderwys nie.”

Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum, sê die departement kan nie agter die wet skuil om hierdie “irrasionele besluit” te regverdig nie.

“Slegs leerders se eksamennommers word op mediaplatforms gepubliseer, met ander woorde leerders se persoonlike inligting of identiteit word op geen wyse sonder hul toestemming bekendgemaak nie. In ’n demokratiese land moet inligting (binne die perke van die reg) tog vrylik beskikbaar wees en dit is iets wat die departement ook behoort te ondersteun.”

Die dringende aansoek sal na verwagting volgende week in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word, voordat die matriekuitslae op 20 Januarie bekendgemaak word.

Venter wys voorts daarop dat die openbare opgewondenheid wat elke jaar met die publisering van matriekuitslae gepaardgaan, dien as motivering vir toekomstige matrieks. “Om die grootsheid van die geleentheid af te water, sal uiteindelik die strewe na uitnemendheid in onderwys ondermyn.”

Maroela Media het in 2015 geskiedenis gemaak as die eerste Afrikaanse aanlyn platform om die matriekuitslae te publiseer en 2014 se matriekklas was die eerstes om hul uitslae digitaal op ʼn Afrikaanse platform te sien.

Lombaard het vroeër gesê die doel daarvan was om vir matrieks die geleentheid te gee om hul uitslae, en in die groot oomblik waarvoor hulle gewag het, in Afrikaans te kry.

“Dit is ʼn groot teleurstelling dat ons nie vanjaar weer die geleentheid kon kry om dit te doen nie, ten spyte daarvan dat Maroela Media alle pogings aangewend het om die nodige reëlings met die departement te tref, en alles gereed gekry het rakende die Popi-wet om die uitslae te publiseer.”

Die saak is reeds op die hofrol geplaas en word Dinsdag aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

casper ·

Die departement sal enigiets doen om die ware uitslae te verberg !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.