Besluit oor sluit van skole moet op wetenskap berus – SAOU

skool 2 klas onderwyser

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, moet oorweeg om skole te sluit “indien onafhanklike mediese en wetenskaplike advies dit ag as in die beste belang van onderwyspersoneel en leerders”.

Groot kommer heers oor die kwessie of skole te midde van stygende Covid-19-gevalle weer gesluit gaan word en daar is al hoe meer verdeeldheid daaroor.

Motshekga het pas weer met skoolbeheerliggame, hoofdeverenigings, vakbonde en die raad van onafhanklike skole oor die kwessie vergader.

“Die konsultasie in die sektor kom voor ʼn kabinetsvergadering waar ʼn besluit oor skole geneem sal word,” het Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van onderwys, die afgelope naweek gesê.

Dit is egter onduidelik wanneer ʼn aankondiging gedoen gaan word.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, het Sondag gesê altesaam 67% van dié unie se lede wat die afgelope week aan ʼn meningspeiling deelgeneem het, het gemeen dat die onderwysowerhede moet oorweeg om skole weer te sluit.

“Die SAOU eis allermins dat skole summier vir ʼn onbepaalde tydperk gesluit moet word. Die besluit om skole te sluit met spesifieke verwysing na die tydstip en duur moet gebaseer wees op objektiewe wetenskaplike en mediese advies en die uitsluitlike oogmerk moet wees om te bepaal wat in die beste belang van leerders en onderwyspersoneel se gesondheid en lewens sal wees,” het Klopper gesê.

(Argieffoto)

Die DA het vandeesweek gesê miljoene ander staatsdienswerkers en ander werkers het reeds onder moeilike omstandighede teruggekeer werk toe en dat daar nie ʼn spesiale bedeling vir onderwysers kan wees nie.

Volgens die DA staar die moontlikheid van infeksie elke dag die land se werksmag in die gesig en moet hulle die gesondheid- en veiligheidsmaatreëls, asook hul kollegas se angstigheid én die kans dat die werkplek vir ontsmetting gesluit kan word, elke dag hanteer.

Klopper sê die vakbond verwerp die aantyging dat onderwysvakbonde op spesiale bevoorregting aanspraak maak.

“Die SAOU bepleit allermins ʼn spesiale en bevoordeelde bedeling vir opvoeders. Dit moet verreken word dat opvoeders elke dag werk huis toe neem, voorbereiding doen, toetse, vraestelle en werkboeke by die huis merk. Opvoeders werk dikwels oor naweke en gedurende skoolvakansies sonder enige addisionele vergoeding. Ander amptenare doen dit allermins,” het hy gesê.

Volgens die SAOU word sy besluit oor die moontlike sluiting van skole onder meer gegrond op die mandaat van sy lede, die stygende infeksiekoers, die verontagsaming van veiligheidsmaatreëls, nuwe wetenskaplike bevindings wat wys Covid-19 kan ook deur luginfeksie geskied en die feit dat daar nie ʼn te hoë premie op die lewe en gesondheid van leerders en personeel geplaas kan word nie.

Klopper sê die vakbond is ook bewus dat daar ʼn direkte verband is tussen leerders se skoolbywoning en die betaling van skoolgeld. “Skole is nie soos sake-ondernemings wat in buitengewone omstandighede kan sluit om koste te bespaar nie. Die skool as entiteit moet aanhou funksioneer te midde van toenemend uitdagende omstandighede. Die SAOU is besig met ʼn voorlegging aan die minister van basiese onderwys om ʼn spesiale Covid-19-finansieringspakket vir skole te bewillig.

“Ouers word baie ernstig versoek om nie die betaling van skoolgelde te staak nie.”

Hy sê die SAOU het ook kennis geneem van onderwysowerhede se dreigement dat indien skole sluit, ʼn beleid van “geen werk, geen betaling” oorweeg kan word.

Volgens Klopper moet ʼn besluit oor die sluiting van skole op grond van objektiewe mediese en wetenskaplike advies gedoen word. “As skole dan sluit, is dit ingevolge die Wet op Nasionale Rampbestuur en sal die werkgewer verplig wees om die betaling van alle werknemers voort te sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

JohanR ·

Soos ek, is julle nie net mooi siek, sat en dik vir vakbonde nie!

Lorette ·

My dogter en seun werk, waar moet hulle kinders nou bly as skole weer moet sluit? Oupa kan nie meer kyk nie en ouma nog minder!

Sarel ·

Wanneer julle stakings uitroep, word die gevolge ook Werenskaplik bereken?

christo ·

Elke keer hoor ouer onderwysers oproepe om nie vroeër afgetree nie want die onderwys het ons kennis en ervaring nodig. Regtig?, Ons lewens beteken niks, 35 of 40 jaar se diens en dan sterf jy ‘n maand voor aftrede aan Covid-19? Hierdie situasie sal ‘n permanente skeuring tussen onderwysers en ouers veroorsaak.
In die toekoms sal wit onderwysers nie meer geredelik beskikbaar wees om kinders af te rig in sport of kultuur nie. Net akademie, geen ekstra klasse, sportafrigting of koor en kultuur nie. Ons eie kinders wonder wat gaan word as hulle as onderwysma of -pa gaan sterf van Covid-19? Jou bloedjie kry ‘n matrieksertifikaat en my lojale kollegas doodsertifikate. Vakansies! – snert my eie kinders was nog nóóit by die see nie. Ons werk maklik 18 uur per dag. Die skade aan ons gesondheid as gevolg werksomstandighede word nie vergoed met vakansies nie. Ek werk en merk in die middae en aande by die huis. Ons vra een maand genade uit 35 jaar? Is dit te veel?

Drico ·

Christo, julle het reeds soos die res van SA 2-3 maande van genade gekry asook jou salaris. Bedank of vat pakket as jy so voel, gaan sit by die huis en beskerm jouself. Jy is selfsugtig! Wat van baie ander ouers wat dieselfde gevare moet trotseer ter wille van n inkomste om te OORLEEF? Ouers wat nie n gedeelte of volle salaris ontvang van die staat af nie. Ouers wat letterlik sit met geen werk geen pay. Ouers wat binne n kwessie van 2-3 WEKE alle inkomste verloor het, maar nogsteeds moedig elke dag moet opstaan en hul bloedjies in die oë moet kyk en moet sê: moenie kommer nie liefie, ons sal n plan maak vir n brood vandag, ons sal n plan maak om jou skoolwerk in die hande te kry aangesien ons toegang tot internet en data skielik opgeskort is, ons sal ook n plan maak om in ons huis te probeer bly en vervoer skool toe vir jou te reel. Let wel, ek praat hier van blanke kinders spesifiek!

TRP ·

In my opinie is dit nie in belang van die kinders om die skole te sluit nie, behalwe vir die akademiese jaar wat reeds gesnoei is, is dit nie emosioneel goed vir die kinders. Die skool skep ‘n mate van “normaal” midde die abnorale omstandighede wat ons as “nuwe normaal” wil forseer. Ek kan verstaan dat mense nie skoolfonds wil betaal en dan voel ek jammer vir die onnies wat betaal moet word. Ons moet werk en soveel ander mense, ons almal word aan dieselfde risikos blood gestel, onnies ook. Laat die kinders gaan of gun ons minstens ‘n keuse.

Henk ·

‘n Mens sou dalk kon sê dit is ‘n sinvolle benadering as dit nie was dat die “wetenskap” oor Covid-19 tans maar nog bitter gebrekkig is. En dit is nie ek wat so sê nie, dit is wereldbekende epidemioloë en ander wetenskaplikes. So hoe gaan julle kies watter wetenskaplike se opinie jul gaan volg? Die regering het nou al oor en oor bewys dat hul juis met die “volg van die wetenskap” sukkel.

Drico ·

Die grap van die hele storie is: daar is ouers wat nie hul kinders wil terugstuur skool toe nie oor C19, maar terselfdertyd word boetie of sussie by n ander tannie gelos wat in die proses help met die skoolwerk en n fooitjie ook vra. Nou vra ek julle, wat is die verskil tussen daai tannie wat ook betaal moet word en die skool? Hoeveel leerders bly in elk geval tuis? Ek weet van n hele klompie kuiers wat gereel was onder die kinders en van baie maats wat bymekaar gaan kuier. Wat is die verskil of mamma of pappa positief van die werk af kom en of sussie of boetie positief van die skool af kom? Regtig mense, dis gat oor kop redeneer! Hou die skole nou oop en gebruik die laaste paar dae om ons kinders iets te leer van 2020 akademiese jaar. Almal kan nie druip nie en almal kan nie deurgesit word nie, julle onnies word betaal en die ouers moet plan sien om die werk aan die kinders te verduidelik terwyl 60% van ouers nie meer n inkomste het nie. Begin regkom!

msp ·

Skole sluit en ons as Oupas en Oumas word die nuwe onderwysers aangesien ons kinders nou ook as gevolg van die covid 19 tekort betaal word. Ons vat maar oor want wat se ouers kan daarmee saam leef om hul kinders so te sien sukkel en swaarkry. Ons kan nie verwag dat ons kinders aan ons ook ń ietsie moet betaal nie want die skole en kleuterskole eis dit van hulle om tenvolle skoolgelde te betaal.

Kiki ·

Ek hoor al die ouers en ek wil ook graag aanhou werk… maar dan moet ouers asseblief toesien dat hul kinders andersins by die huis bly en nie rondrits nie. Byna al die gr11s en 12s by die prominente skool in die Ooste van Pretoria waar ek werk, gaan naweke na groot huiskuiers toe. Ons het nou weer gevalle gehad wat sy oorsprong by ʼn huispartytjie bevind (die pa was positief). Die kinders het asimptomaties skool toe gekom en nou sit ons met onderwysers in lewensgevaar. As jul jul werk en inkomste wil beskerm, hou jou kind dan behalwe vir akademiese aktiwiteite by die huis!

Levinson ·

Ek is ‘n onderwyser en ag dit as God wat my geroep het om kinders te help ontwikkel op alle terreine, en weet wat, ek sal my lewe waag vir daardie roeping. Die onderwysers wat skole wil toe hê, soek net meer tyd vir rondhang in malls, salonne of waar ookal. Hoeveel onderwysers is nog 100% committed tot die holistiese ontwikkeling van die kinders. Selfs voor Covid het baie van hulle dadelik in hul karre gespring terwyl ander nog sport afrig en steeds met dieselfe akademiese werk moes huistoe. Hou skole oop, dit is in ons bloed om nie op te gee. Daar is keuses vir die wat nie wil werk. Gee die wat wil ‘n regverdige keuse.

Levinson ·

Net so terloops, ek het my SAOU lidmaatskap gekanselleer paar jaar terug to hulle ook teen godsdiens in skole was. SAOU het dus ontaard in dieselfde tipe unie wat lede aanmoedig tot staking. Ek sal nie bekendstaan as iemand wat my pligte versuim, vir watter rede ookal, want ek werk vir God en nie vir mense.

Johannes Andries ·

Ek is dit eens met Christo dat onderwyser bloot gestel word aan baie gesinne wie se kinders op skool is en dit maak die risiko baie groter as enige ander beroep. Ek is verbaas dat ouers kla as daar oor hulle kinders se veiligheid en die risiko van hulle kinders se kanse op blootstelling aan die virus besluit word. Die vraag is gaan dit oor jou gerief of oor jou kindse lewe, wat dalk die covid kan opdoen met die moontlikheid dat dit fataal kan wees. Waarom word onderwyser dikwels as die vyand gesien deur ouers gaan my verstand te bowe en dit terwyl hulle selfs in die “lockdown” moeite gedoen het om werk by jou kind uit te kry om hom/haar steeds te help. Hoe belangrik is jou kindse lewe vir jou?

Lola88 ·

Ag ALWEER die SAOU wat wil huil….ons wil nie werk nie maar asseblief tog betaal net julle skoolfonds….Regtig as jy nie wil werk nie, moet dan nie. Maar moet dan nie kom huil as jy nie betaal word nie BAIE van ons werk daagliks, ons almal staan die kans om die virus te kry….Onnies is nie gehewe bo die res van die mensdom nie.

Morise ·

laat die kinders by die skool bly. wat maak die onderwysers en hul unie so spesiaal dat hul kan toemaak maar elke ander sektor moet oopmaak. kom met ander voorstelle maar moenie kinders van hul reg verneem nie.

Erik ·

Dit is baie maklik om te praat uit ‘n glashuis uit.

Kom, gee skool. Sien elke dag 100+ nuwe mense. Probeer kindersweg van mekaar af hou. Maar dis maklik en lekker om te se ek gaan nie skool geld betaal nie.

Onthou net, onderwysers sondergeld kan nie jou werk ondersteun nie.

Objektief ·

Onderwysers moet maar vir eens en altyd besef dat hulle is nie geregtig op spesiale behandeling nie. daar is mense wat baie meer blootgestel is vir baie minder geld maar hulle moet aan hou werk om te lewe.

Aan hoeveel mense is die kassier by die winkel blootgestel elke dag?Baie meer as die kinders in die klas maar sy kry nie voorkeur behandeling nie; as sy nie wil werk nie gaan daar vinning vir haar vertel word waar om heen te gaan.

Met hoeveel mense kom die petroljoggie in aanraking daagliks?Baie meer as die kinders in n klas maar hy moet besluit om te werk en te eet of nie te werk en honger te ly.

Pas die beginsel van ” no work no pay: toe en kyk hoe verander onderwysers se benadering.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.