
Die WGO het die afgelope week gesê inperkingsmaatreëls het grootliks armoede tot gevolg gehad. Hier ontvang inwoners van Olievenhoutbosch kospakkies. (Foto: Thobile Mathonsi/ANA)
Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, sê die besluit om die ramptoestand wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is te verleng, is “nie ligtelik geneem nie”.
Die ramptoestand duur nou tot minstens 15 November, nadat Suid-Afrika reeds meer as 200 dae lank aan afsonderingsregulasies onderwerp word.
Die minister sê die besluit om die ramptoestand weereens te verleng, is in oorleg met en met die goedkeuring van die kabinet gedoen. Oorweging is onder meer gegee aan toestande soos gesien binne die konteks van die risiko-aangepaste strategie.
Dlamini-Zuma het die publiek bedank vir hul steun van die maatreëls om die verspreiding van die virussiekte te stuit.
Die minister het ook gevra dat daar steeds verantwoordelik, aanpasbaar en medelydend in reaksie op die pandemie opgetree word om lewens en inkomste te red.
Daar is toenemend teenkanting teen regerings wêreldwyd se inperkingsmaatreëls. Duisende wetenskaplikes en gesondheidskenners het reeds by ʼn internasionale beweging aangesluit wat waarsku teen die ernstige gevolge van die maatreëls.
Die beweging, bekend as die Great Barrington Declaration, beveel aan dat ʼn beleid van gefokusde beskerming die huidige drakoniese afsonderingsmaatreëls vervang.
Die kenners sê dat voortgesette inperking onherstelbare skade gaan berokken indien hierdie maatreëls voortgesit word totdat ʼn entstof beskikbaar is – en minderbevoorregtes gaan die swaarste getref word.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die afgelope week boonop ook gesê dat die instel van inperkingsmaatreëls as primêre beheermetode om Covid-19 te bekamp, gestaak moet word. Dr. David Nabarro, die WGO se spesiale gesant oor Covid-19, het gesê dié gebruik het oor die algemeen slegs armoede tot gevolg gehad.
Die WGO het gesê ʼn inperking kan slegs geregverdig word wanneer daar ruimte geskep moet word vir ʼn land om te organiseer, te hergroepeer, hulpbronne te balanseer en gesondheidswerkers te beskerm wat uitgeput is.
Suid-Afrika het volgens die nasionale departement van gesondheid net meer as 900 Covid-19-sterftes oor die afgelope sewe dae gehad en naastenby 11 000 nuwe infeksies is bevestig. Die land se herstelkoers staan steeds op 90%.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
16 Kommentare
Laaste paragraaf…”net meer as??? Covid 19 sterftes”
Besluit “nie ligtelik” geneem!!! Uiters (frustrasie/moedeloos/kwaad) lagwekkend!
Gaan dit regtig oor die coronavirus of misbruik hulle die situasie (ramptoestand) as dekmantel mandaat vir die selektiewe aanwend van die SAW in geval van ‘n geweldadige protes? Vra namens ‘n vriend.
Kopdoek is die ramptoestand.
Ag aub , wie probeer hulle bluf ? Die regering wil net meer tyd he om geld te verduister . Ek glo nie n woord van die lot nie .