Besnoeide subsidies kan talle NRO’s knak

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Tyler Lagalo/Unsplash)

Nieregeringsorganisasies (NRO’s) is nou meer oortuig as ooit dat die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling se besluit om sy toelaes te besnoei, die laaste spyker in sy doodskis sal wees.

Een organisasie, wat verskeie maatskaplike dienste namens die departement lewer en boonop dekades lank al bestaan, sê sommige van sy afdelings gaan nie eens drie maande oorleef sonder die subsidies nie.

Die organisasie Tutela is die afgelope 90 jaar onder verskeie name bedryf, maar het sedert sy stigting daarna gestreef om die mense van Gauteng te help.

Tutela lewer onder meer kinder- en gesinsorgdienste, asook beskermingsdienste, doen armoedeverligting, dwelmmisbruikondersteuning, gee steun aan slagoffers van geslagsgebaseerde geweld, verskaf etes aan bejaardes, lewer vroeë ingryping- en voorkomingsdienste, skep bewusmaking onder die gemeenskap en bemagtig mense deur vaardigheidsontwikkelingsprogramme.

Trienie Drotschie, direkteur van maatskaplike dienste by Tutela, sê hulle het verlede week hul diensvlakooreenkoms van die departement ontvang en met skok verneem dat hul subsidie met 53% besnoei is.

Tutela se agt gesinsorgkantore is ook ingelig dat hul subsidies met sowat 61% besnoei word. Een van hierdie kantore in Nigel het geen geld eens ontvang nie.

“Die diensvlakooreenkoms het boonop uitgestippel dat dieselfde vlak van diens verwag word as wat in die verlede gelewer is,” sê sy.

“Daar was geen voorafgaande oorlegpleging of kennisgewing oor hierdie besluit nie.”

Die subsidie wat Tutela van die departement ontvang, dek sowat driekwart van die organisasie se algehele uitgawes.

“Met ʼn gemiddelde afname van 61% in die subsidies, sal nie een van ons agt gesinsorgkantore vir langer as drie maande finansieel kan oorleef nie,” sê Drotschie.

“Van die kantore sal dit dalk nie eens ná April oorleef nie.”

Sou Tutela sy deure moet sluit, sal die departement met meer as 2 500 hangende kindersake gelos word en 5 700 begunstigdes, onder wie meer as 1 800 kinders wat sorg en beskerming benodig, sal nie toegang tot maatskaplike dienste hê nie. Byna 24 000 mense wat broodnodige lewensvaardighede aangeleer het, sal ook nie verdere opvoeding ontvang nie. Die byna 3 000 mense wat op ʼn gereelde grondslag kospakkies ontvang, sal ook daarsonder moet klaarkom.

“Tutela is verantwoordelik om meer as 25 000 kwesbare gemeenskapslede deur verskeie dienste te versorg. Hulle gaan in ʼn krisis gedompel word as Tutela nie met die broodnodige dienste kan voortgaan nie.”

Charlene Grobler, hoof- uitvoerende beampte van die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis in Pretoria, sê hulle het ook ʼn diensvlakooreenkoms van die departement ontvang en is genoop om dit te teken.

“Daar is geen verhoging nie en minder kinders word nou gesubsidieer as vantevore,” sê sy.

Hoewel die besnoeiing in subsidies in hierdie stadium nie dié kinderhuise direk sal raak nie, is Grobler bekommerd dat dit wel voortaan ʼn beduidende uitwerking op kinderhuise gaan hê.

“Uitgawes verhoog jaarliks, maar die departement maak geen aanpassings nie. Inteendeel, die inkomste word gesny en dit kan kinderhuise voortaan erg knou,” sê sy.

“Ons gesels daagliks met ander organisasies en almal voel bleek oor die toekoms. Tans ondersteun die organisasies mekaar en ons help waar ons kan; dit is tog die kinders wat eindelik daaronder ly. Ons sal altyd bly veg vir hul beste belang.”

Dalk geen inkomste vir werkers

(Argieffoto: Unsplash)

Die Gautengse Care Crisis Committee, wat NRO’s in die provinsie op die been gebring het om hul belange by die departement te verteenwoordig, sê die werkers wat daagliks weerlose kinders, bejaardes en gestremde mense help, kan dalk ook hul inkomste kwyt wees weens die besnoeiing in begrotings.

Omdat kinderbeskermingsorganisasies sulke kwaai besnoeiings ondervind, kan ʼn maatskaplike werker wat normaalweg R15 000 per maand verdien, nou so min soos R6 000 per maand uitkry. ʼn Maatskaplike hulpwerker wat R12 000 per maand verdien het, se salaris sal ook gesny word tot sowat R4 500.

“Albei subsidies is minder as die intreevlaksalaris wat op salarisvlak 1 aan ʼn werknemer in die openbare sektor betaal word,” sê die komitee.

Die subsidies van kinder- en jeugsorgwerkers is ook van sowat R6 500 per maand tot byna R3 000 per maand verminder. Dít terwyl die subsidies vir versorgers van ʼn skamele R2 800 per maand tot R1 300 per maand verminder is. Albei subsidies is minder as die nasionale minimum loon.

Tutela sê hy het 62 personeellede in sy agt kantore en hulle almal gaan deur die besnoeiings geraak word – of dalk selfs hul werk kwyt wees.

Protes aangeteken

Die komitee en talle werkers wat maatskaplike dienste verskaf, het vandeesweek die strate ingevaar en protes aangeteken oor die begrotingsbesnoeiings. Talle mense het na die departement van maatskaplike ontwikkeling in Gauteng se kantore opgeruk waar ʼn memorandum aan LUR Mbali Hlophe oorhandig is.

Die komitee eis onder meer dat die LUR die besluit om finansiering te besnoei, omkeer.

Die departement moet ook vergader met die betrokke organisasies sodat alternatiewe oplossings vir die krisis gevind kan word.

Die komitee vra ook dat ʼn taakspan saamgestel word wat voortaan ingrypende besluite soos dié kan hanteer.

Die DA in Gauteng het intussen onderneem om die betrokke NRO’s te ondersteun en druk op die departement te plaas om die nuwe begrotingsmodel te skrap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Vir dié wat na die land verwys as sosialisties en kommunisties net die volgende. Duidelik is die land te useless om sosialisties te wees. Die regime is ook te lief vir geld om kommuniste te wees.

Frikkels ·

Ja, en nou gaan die besnoeiïngs weer gekanaliseer word tot in die korrupte kaders se sakke, en basta met die mense wat swaarkry!

melaney ·

Asof daar nie genoeg mense in ons land is wat bakhand staan nie, terwyl die topstruktuur soos konings lewe. Gaan my verstand te bowe dat die meerderheid nogsteeds vir daardie einste konings sal stem.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dís nou waar die swak onderwys en gesondheidstels tot voordeel van die regime werk.

Theuns ·

Dis die punt…voer hul dan sten.hul teen jou en leer niks. Verwys almal ma lesufi toe. Laat die seun dit hanteer.

Shakespeare ·

So vermoor die bose regering hul EIE mense by dosyne sonder om n oog te knip.

Theuns ·

Hul blameer vir Jan en ongelowiges glo dit dan stem hul weer vir anc… sal nooit stop solank hul deur ander gevoed word nie. Dom om aan te gaan. SLUIT. Dis dan waarheid

Theuns ·

Sluit die plekke wat nie dienste aan ou mense lewer nie. Verwys almal na lesufi en malema se huisadresse. Moenie so kruip voor die cadres nie. Laat hul self die dienste gee soos hul.moet. Hul is oneties en liefdeloos en geen ubuntu
Moenie hul SLAWE wees wat hul gemors regmaak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.