Besnoeiing aan geld vir maatskaplike dienste ‘ernstige bedreiging’

(Foto: iStock)

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling is besig om die bestaan van nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat op maatskaplike ontwikkeling gefokus is, ernstig te bedreig.”

Só sê Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, nadat die departement besnoeiing aan finansiering vir NRO’s bekend gemaak het.

“Die beoogde begrotingsbesnoeiings en die aandring op sentralisering van magte dui op ʼn departement wat van die werklikheid ontkoppel is,” sê Smit.

“Terwyl NRO’s probeer om diegene onder ons wat die minste het te bemagtig, wil die departement dieselfde NRO’s wat die take verrig wat die departement veronderstel is om te verrig, se befondsing besnoei.”

Solidariteit bestempel dit as ʼn magsvergryp waaraan die staat hom skuldig maak. Die organisasie sê terwyl die departement in duie stort, wil hulle meer verantwoordelikheid vir hulself toeëien sonder om oor die regte van die mense teenoor wie hulle ʼn verantwoordelikheid het, na te dink.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling het reeds in sy mandaat misluk. Deurslaggewende navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) beklemtoon dit. Nogtans beplan dieselfde departement om sy kapasiteit uit te brei deur NRO’s se kapasiteit te beperk,” sê Smit.

Solidariteit waarsku ook dat die uitwerking van die beperkende besnoeiings van begrotings veel wyer gevoel sal word as net by die NRO’s waarop die besnoeiings gemik is.

“Terwyl ʼn maatskaplike krisis Suid-Afrika in die gesig staar wat oorheers word deur misdaad en vergrype, is die plan vanuit die staat se oogpunt om diegene wat ʼn bydrae tot verbetering maak te versaak. Maatskaplike werkers en maatskaplike organisasies staan gemeenskappe by en dra by tot die samelewing, lankal nie meer te danke aan die departement nie, maar ten spyte van dié departement,” sê Smit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.