Besnoeiing van KVBA-begroting lei tot ‘opeenhoping, uitstelle’

(Argieffoto: Unsplash)

Solidariteit het Maandag ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ʼn aansoek aan die ministers van finansies en indiensneming en arbeid asook die beheerliggaam van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gestuur om antwoorde te verskaf oor reusebesnoeiings in die kommissie se begroting.

BusinessLive het in November al berig die KVBA se begroting word met R617 miljoen gesny.

Die kommissie het volgens sy jaarverslag in die 2019-’20-boekjaar altesaam R978 miljoen van die regering gekry, terwyl hy ʼn jaar tevore altesaam R965 miljoen ontvang het. Kenners meen dié besnoeiing gaan die kommissie op sy knieë dwing en veroorsaak reeds vertragings en ʼn opeenhoping van sake.

Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit, sê die KVBA vorm ʼn integrale deel van die grondwetlike bestel waardeur die regte wat vervat word in wetgewing uiting vind. Hy sê dit was tot dusver ook ʼn instelling wat goeie werk gedoen het.

“Die doel van hierdie aansoek is om toegang en insig te kry ten opsigte van die motivering vir die besluit en veral die proses wat gevolg is om tot die besluit te kom, om ons lede – en eintlik alle burgers – se grondwetlike regte te beperk,” sê Van der Bijl.

Volgens Solidariteit lei die besuinigingsmaatreëls van die regering tot ʼn opeenhoping van sake en die uitstel van geregtigheid binne die arbeidsomgewing. Van der Bijl sê die vertraging in die afhandeling van sake kan boonop reeds gesien word.

“Dit is eenvoudig net nie volhoubaar of aanvaarbaar nie. Dit is ondenkbaar dat binne ons land se raamwerk, waar die staat ruimskoots geld verkwis, die begrotings van sulke eilande van uitnemendheid besnoei word. Dit is een van die min instellings wat nog werk. Ons moet veg om dit so te hou.”

Van der Bijl sê die Paia-aansoek moet onder meer duidelikheid gee oor bespiegeling dat geld by die KVBA weggeneem is om aan ander, minder suksesvolle staatsinstellings, te gee.

“Ons wil uitvind waar die geld heen is en hoe die besluit geneem is.

“Die doel van die departement van arbeid en die KVBA is om spoedige arbeidsregbeslegting te laat plaasvind. Dit is pertinent hulle bestaansrede. Dit is ook om vir Jan Alleman ʼn doeltreffende en vinnige arbeidsoplossing te bied.

“Die meeste gewone werkers het nie die geld om die arbeidshof regstreeks te nader nie.”

Lynford Dor, media- en ontwikkelingsbeampte by die Casual Workers Advice Office (CWAO), stem saam dat die mees ooglopende gevolg van die besnoeiings is dat die KVBA nie aan sy mandaat sal kan voldoen nie.

Dor sê dit frustreer werkers se pogings om toegang tot geregtigheid te kry.

“Dit is duidelik ʼn politieke kwessie. Ons moet vra of daar meer steek in die aanval op die KVBA. As jy die hoofinstellings wat werkers gebruik om toegang tot hul regte kry aftakel, wat beteken arbeidswetgewing dan uiteindelik?”

Hy sê ook ʼn begrotingsbesnoeiing van meer as R600 miljoen gaan die kommissie wesenlik op sy knieë dwing.

Volgens Dor is die KVBA se saaklading die afgelope paar jaar verhoog en word sake oor onder meer die betaling van minimum lone en nuwe arbeidsregte ook na die kommissie verwys. Ten spyte hiervan het die KVBA steeds – in vergelyking met talle ander staatsinstellings – betreklik doeltreffend gefunksioneer.

Hy sê sommige van die praktiese implikasies sluit in dat geen meer instap-verwysings by die KVBA aanvaar word nie en dat die gebruik van deeltydse kommissarisse om sake te besleg, opgeskort word.

Die KVBA het volgens die 2020-’21-jaarverslag altesaam 173 voltydse kommissarisse en ʼn geraamde 565 deeltydse kommissarisse gebruik om sake te besleg.

“Daar is nie genoeg duidelikheid en eerlikheid [oor die begroting] nie. Oor die volgende jaar gaan ons die uitwerking van die vertraging in sake sien.”

Maroela Media het ʼn navraag oor die kwessie aan die KVBA gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
J P

Ek dink dit moet 978 miljoen wees, in plaas miljard.

PH

Die ANC probeer als vernietig wat enigsinds sy onbevoegdheid, diefstal en leuens kan uitwys.

Hennie J

My ondervinding van die klomp is dat dit n useless klomp rassiste is.