Besoedelende myne gaan lisensies verloor

Minister Lindiwe Sisulu. Foto: GCIS/Flickr

Myne wat grondwater of ander waterbronne besoedel, sal hul mynlisensies verloor, het Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Dinsdag aan die parlementêre mediakorps gesê.

Sy het die media toegespreek ná haar begrotingstoespraak oor water en sanitasie, en die vroeë aanduidings is dat sy ongekende energie en ʼn skerp fokus op projekbeplanning en projekbestuur na die portefeulje bring.

Water en sanitasie word allerweë beskou as die staatsdepartement wat die afgelope paar jaar die swakste bestuur is, veral in die ampstyd van oudmin. Nomvula Mokanyane. Die departement is gekenmerk deur ongekende vlakke van wanbestuur en korrupsie ten bedrae van miljarde rande, en die departement se personeel is onlangs in ʼn onderhoud met die dagblad Die Burger as die dikvelligste en onverskilligste in die hele staatsdiens bestempel deur die voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge, Mkhuleko Hlengwa.

Hieroor het Sisulu baie diplomaties gesê ten einde aan die donker wolk hangende oor hul reputasie te ontkom, sal elke lid van haar personeel beoordeel word oor hul moontlike deelkragtigheid aan korrupsie, wanbestuur en vrugtelose besteding.

Personeel sal ook verplig word om getuienis af te lê in die ondersoeke na bogenoemde wandade. Sy het die land gewaarsku dat die volle omvang van hierdie misdade waarskynlik nog bekend sal word – dis tans moeilik om dit finaal te bepaal.

Sisulu het haar sterk uitgespreek ten gunste van voorkomende instandhouding van infrastruktuur, naamlik dat ʼn mens nie wag vir die infrastruktuur om ten gronde te gaan voor jy dit in stand hou of vervang nie.

Sy het spesifiek verwys na waterpype wat deurroes weens ʼn slap ingesteldheid teenoor instandhouding. Dit lei daartoe dat watertoevoer onderbreek word en riool in strate afvloei in sekere dele van die land.

Een van haar departement se fokuspunte sal wees om munisipaliteite by te staan wat nie kundiges op die gebied van water en sanitasie het nie.

Die behoorlike instandhouding van damme en kanale is ʼn verdere prioriteit omdat laksheid daarmee tot rampe en groot lewensverlies kan lei, het sy benadruk. Sy voel trouens so sterk oor damme dat sy gaan vra dat hulle om sekuriteitsredes tot nasionale sleutelpunte verklaar word.

Die minister het wel onderneem dat dit nie openbare toegang tot damme vir byvoorbeeld ontspanningsdoeleindes sal belemmer nie.

Laastens het Sisulu haar verbind tot die skoonmaak van riviere deur die verwydering van rommel en die uitroei van indringerplante wat grond- en reënwater opslurp. Sy het alle Suid-Afrikaners trouens versoek om hul gemeenskapsprojekte vir Madibadag vanjaar aan die skoonmaak van riviere te wy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hennie ·

Bla blah blah blaaaa. Die leuns wat uitkom as jou lippe beweeg. Die res van jou is net so fake soos jou hare!

AndrewL ·

Hopelik het hulle darrem lisensies. Of mag hulle onder die beskerming van “AA” maar net so voortgaan ?

ne ·

Grapjas??? Sien is glo ‘n nuwe besem vee gewoonlik skoon, al is dit dan net praatjies wat die vee werk moet doen.

Lou ·

As sy doen wat sy sê dan mag ek dalk net so klein tikkie respek vir haar kry. Tot dusver was sy nie veel werd in haar vorige posisies nie. Meer van ‘n opstoker gewees.

marous ·

Lisensie verloor en wat se gevolge ? Verkragters van die land se hulpbronne met die goedkeuring van die regering gann net voort . as daar vra gevra word dan is die nuutste – ” Ek het eers gister hier begin . Gaan vra vir die een wat voor my hier was “

Leon ·

My ma sou gesê het: ” Tell it to the Marines, maybe they will believe you”. Ek stem met haar saam. Ons sal maar sien. Die ANC se beleid praat harder, naamlik vernietig Suid Afrika so gou as moontlik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.