Besoedeling belemmer plant van gewasse

Die Rooiwal-rioolsuiweringsaanleg noord van Pretoria. (Foto: Lindiwe Sisulu/Twitter)

Die VF Plus het die burgemeester van die Tshwane-metroraad, Randall Williams, en die Gautengse LUR vir infrastruktuurontwikkeling, Tasneem Motara, versoek om dringend die herstel en opgradering van die Rooiwal-rioolsuiweringsaanleg noord van Pretoria te bespoedig om verdere besoedeling te voorkom.

Die VF Plus het met ʼn oorsigbesoek aan die aanleg die aangeleentheid ook bespreek met boere in die omgewing.

“Volgens omliggende vee- en saaiboere was daar sedert die eerste fase van die aanleg se opgradering, geen wesenlike verbetering om rioolbesoedeling te bekamp nie,” sê Kobus Hoffman, woordvoerder van die VF Plus. “Saaiboere kan weens die besoedeling van grond en ondergrondse water steeds nie gewasse aanplant op sekere dele van hul plase nie.”

Boere in die omgewing het reeds in 2016 en 2019 hofsake teen die Tshwane-metro aanhanging gemaak waarin gevra word dat die metro dringend aandag moet skenk aan die onderhoud en herstel van die aanleg om die agteruitgang van die Vastfontein-gebied te stuit.

Die herstelproses het in Junie begin en sal na verwagting tot die derde kwartaal aanstaande jaar duur. Die koste daaraan verbonde sal ʼn geraamde R2.1 miljard beloop.

Intussen vloei onverwerkte riool en slik in plaasdamme, riviere en oor omliggende plaasgrond.

“Boere is aangewese op onbesoedelde water en grond om hul ondernemings suksesvol te bedryf,” voeg Hoffman by. “Dit is die metro se verantwoordelikheid om toe te sien dat rioolaanlegte in stand gehou en betyds opgegradeer word om besoedeling van die omgewing te verhinder. Die VF Plus sal die situasie by die Rooiwal-aanleg monitor en die metro verantwoordelik hou vir enige verliese wat boere mag ly weens die besoedeling.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Kan IEMAND nie maar na jare van verval beheer neem oor vervalle munisipaliteite. Dit bly net by praat. en kerm!

Marius ·

Wat word van al die geld wat betaal word vir riolering? Is die munisipaliteite nie veronderstel om die geld aan te wend vir die instandhouding van water suiwerings aanlegte nie? Dis is ‘n skreiende skande hoe ons land tuimel as gevolg van wanbestuur en onkundigheid.

annie ·

Tasneem Motara is nog besig om te dink, mense. Wees rustig. Kersfees kom en dan 2022 en dan hopelik 2023 as Biden dit teen daai tyd nog nie in sy maai geblaas het nie…en dink net, 2024. Wow! Hou moed…

B-Man ·

Verbaas my nie as jy gaan kyk hoe Montana en die gebiede rondom Wonderboom-lughawe uitgebrei het nie. Ontwikkelaars gee sekerlik ‘n ietsie onder die tafel om woonstelblokke en meenthuise by die honderde gebou te kry, maar niemand dink aan die infrastruktuur wat nie opgewasse is daarvoor nie.

Samuel ·

Ervaar dieselfde hier in Tableview. Woonstelblok op woonstelblok. Natuurlik kry iemand by die munisipaliteit ‘n ou geskenkie.

Samuel ·

Nou moet die VF+ hulle stem dik maak! Die verkiesing is verby en die DA geleide Tswane moet presteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.