Besoedeling kelder watersportsklubs in Kaapstad

Zandvlei is al die afgelope twee maande vir die publiek gesluit (Foto: GroundUp)

Verskeie gewilde watersportsklubs wat by drie van die grootste mere in Kaapstad geleë is – waaronder Zandvlei, Zeekoevlei en Rietvlei – het hul aktiwiteite vir ʼn onbepaalde tydperk opgeskort. Dié mere is al weke lank al vir die publiek gesluit weens besoedeling. Dit is nog nie in hierdie stadium duidelik wanneer dit weer vir die publiek oopgestel sal word nie en klubs is bekommerd oor die verlies aan inkomste terwyl aktiwiteite opgeskort is.

Volgens ʼn berig op GroundUp is hoë tellings van E. coli (’n bakterie wat in menslike ontlasting voorkom) in die water van Zeekoevlei en Zandvlei opgemerk. Dit kan aan rioolstorting toegeskryf word.

Zandvlei is al die afgelope twee maande vir die publiek gesluit nadat ʼn rioolpomp by die Cliftonweg-rioolpompstasie gebreek en al die riool in die meer geloop het.

Zeekoevlei is op 6 Julie gesluit weens die voortdurende vloei van rioolwater vanaf die Kaapse Vlakte-afvalwaterbehandelingswerke. Daar is boonop ʼn foutiewe mangat waaruit rioolwater in dié meer loop. Die Wes-Kaapse departement van omgewingsake het ’n brief aan die Stad Kaapstad gerig om ’n rehabilitasieplan met voldoende maatreëls te verskaf om hierdie probleem op te los.

Die stad het op 27 Julie bevestig dat hy met rehabilitasiewerk gaan begin om bogenoemde mere se waterkwaliteit te herstel.

By Rietvlei, wat langer as ’n maand al gesluit is, kon die stad nog nie die oorsaak van die besoedeling vasstel nie. Die stad het in ʼn verklaring bevestig ondersoeke is aan die gang en die meer is gesluit omdat watermonsters geneem word.

Sportsklubs onseker

Intussen is die watersportsklubs onseker oor wanneer hulle weer hul aktiwiteite sal kan hervat.

Volgens Estelle Jacobs, voorsitter van die Peninsula-kanoklub (PCC) by Zandvlei, het die stad ’n gebrek aan deursigtigheid oor die watergehalte van die meer, ten spyte daarvan dat hy kwansuis weekliks waterkwaliteitstoetse doen.

“Dit is goed en wel om te sê dat E. coli-vlakke hoog is, maar toe ons die resultate gevra het, was dit nie aan ons beskikbaar gestel nie,” het Jacobs aan GroundUp gesê.

In ’n onlangse brief het die kanoklub die stad versoek om Zandvlei oop te maak sodat hul lede en atlete met hul daaglikse oefenprogramme kan voortgaan. Hulle vra ook in die brief dat die stad hul planne om die besoedeling op te los, bekendmaak.

Katja Haslinger, bewaringsbeampte van die Milnerton-waterklub (MAC) by Rietvlei, het gesê die klub word “in die duisternis gehou” oor die oorsaak van die besoedeling sowel as die watergehalte. Sy sê hulle pleit al vir ʼn wyle dat die stad onmiddellik moet optree, maar dat hul versoeke meestal op dowe ore val.

Dié waterklub moes ook al sy wateraktiwiteite opskort totdat die watergehalte ’n veilige vlak bereik het.

“Maar ons weet nie wat die aanvaarbare vlak is, of wat die oorsaak van die besoedeling is nie,” het Haslinger gesê.

Volgens Karen Slater, bestuurder van die Zeekoevlei-seiljagklub (ZVYC), het hulle hul lede met ledegeld tegemoetgekom terwyl die meer gesluit is.

“Die seiljagklub bied baie vaar- en roeiprogramme aan en die onbepaalde sluiting van Zeekoevlei sal die inkomste van die klub en afrigters beïnvloed,” het Slater gesê.

“As klub vertrou ons op ons lidmaatskap en ons klubaktiwiteite om oop te bly sodat ons ’n inkomste kan hê en ons klub aan die gang kan hou. Maar as die meer gesluit is, beteken dit ons junior vaarvakansieklinieke, damesprogramme wat ons gedurende die week aanbied, en die skole wat gereeld besoek aflê, moet stop.”

Volgens Slater is sy ook bekommerd oor die potensiaal van alge wat in die water kan groei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hendrik ·

Dit lyk nie meer of die Kaap Hollands is maar Vuilangs. Ons dam is klein maar skoon.

Pampoen ·

Dit gebeur nou oral. Die verskaffing van water is nog so half-en-half ‘n prioriteit, maar riool word net van ontslae geraak. Die riool werke werk lankal nie meer nie. Moet dus nie jou asem ophou totdat die situasie verbeter nie. Dit is die ‘nuwe normaal’.

Eugene ·

Ek hoop John Steenhuisen gaan hierop antwoord. Lyk my die DA verval ook maar

Boon ·

dis n plaaslike owerheid se veranteootdrlkheid, nie n nasionale politieke leier nie

Mariana ·

Kom Kaapstad kry jou huis in orde. Ons is beter gewoond. Al die mooi is besig om soos die res van die land te begin lyk.

Pablo ·

Die DA is ongelukkig op n skerp afdraande pad.
Hulle moet meer professionele lede kry.

Boon ·

die instroming van mense na die Kaapse skiereiland veroorsaak dat die infrastruktuur die las van onheerde plakkery nie kan hanteer nie. Die meeste munisipaliteite sukkel om.verstedeliking te beheer en te hanteer

pompies ·

Dit klink nou mos of die anc Kaapstad se admin oorgeneem het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.