Besoek dié nasionale parke nou gratis

Marakele Nasionale Park (Foto: SANParke, Twitter)

SANParke bied vandeesweek vir ʼn week lank gratis toegang tot alle parke as deel van sy 15de jaarlikse Nasionale Parkeweek.

Besoekers kry van 16 tot 20 November heeldag gratis toegang tot uitgesoekte nasionale parke.

Die weeklange veldtog is van toepassing op alle nasionale parke wat deur SANParke bestuur word, met die uitsondering van die Boulders Penguin Colony, die Tafelberg-kabelspoor by die Tafelberg Nasionale Park en die Namakwa Nasionale Park.

Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van SANParke, sê die inisiatief is daarop gemik om ʼn gevoel van trots op Suid-Afrika se natuurlike, kulturele en historiese erfenis onder besoekers te kweek.

Dié week word gewoonlik in September aangebied hoewel dit eers agterweë moes bly weens die algehele landwye afsondering te midde van die Covid-19-pandemie.

SANParke beoog om elke jaar die getal Suid-Afrikaners wat gratis toegang tot sy wildtuine kry, te verhoog.

Altesaam 551 393 Suid-Afrikaners het sedert die begin van die veldtog in 2006 die geleentheid gekry om die land se nasionale parke gratis te besoek.

“Aangesien die land nog steeds op vlak 1 van afsondering is, wil ons die publiek daaraan herinner dat die aantal mense steeds beperk word wat binne openbare ruimtes toegelaat word,” sê Mketeni.

’n Amptelike identiteitsbewys moet net by ingange getoon word. Kinders onder die ouderdom van 16 jaar sal gratis toegang kry sonder ’n bewys van identiteit.

Gratis toegang tot die parke sluit nie akkommodasie of kommersiële aktiwiteite soos begeleide wildritte of staptogte in nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

mynie ·

Ja, en ironies dat ons gratis kan gaan wanneer die eksamen aan is en dis weeksdae… so dis seker maar net vir die “werkloses”

Vlam ·

Laas jaar het ons die voorreg gehad om groepie kinders te neem wat andersins nooit kon gaan nie, wou die jaar dieselfde doen,maar almal werk in die week en sien hulle het die jaar naweke uitgesluit wat sleg is

Chris ·

Net jammer die verblyf is so duur dat gewone Suid Afrikaners dit nie kan bekostig nie.

Carina ·

Baie dankie. Net jammer julle beplanning stink deur dit deur die week te doen wanneer mense werk en kinders met eksamen besig is. So julle weet daar gaan amper niemand wees nie. Geniet julle rus tyd hoor.

Niklaas ·

Dit geld seker net vir dagbesoekers , en geen gratis verblyf ?

Cherokee ·

Die tweede paragraaf se heeldag beteken ‘heeldag’ en nie heel dag en nag, nie.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Die tyd is te kort en ongerieflik. Maak dit die hele November, naweke ingesluit, dan is dit beter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.